‘Infame leuen’; Kremlin ontken hand in Prigozhin-dood

‘n Lid van die huursoldategroep bring hulde aan die Wagner-leiers. (Foto: Vladimir Nikolayev/AFP)

Die Kremlin het Vrydag gerugte verwerp dat hy opdrag gegee het dat die hoof van die Wagner-huursoldategroep, Yevgeny Prigozhin, doodgemaak word.

Daar word aangeneem dat Prigozhin dood is in ʼn vliegongeluk twee maande ná hy ʼn kortstondige rebellie in Rusland gelei het.

Bespiegeling dat die Kremlin hierby betrokke was, doen sedert Woensdag – toe ʼn private straler met Prigozhin glo aan boord tussen Moskou en St. Petersburg neergestort het – die ronde. Die moontlikheid is geopper deur Westerse lande, kritici van die Kremlin en selfs sommige pro-Kremlin-figure.

Dmitry Peskov, woordvoerder van die Kremlin, het die voorval Vrydag as “tragies” bestempel en gesê die regering neem kennis van die bewerings oor vuilspel en die moontlike betrokkenheid van Russiese owerhede.

“Natuurlik, in die Weste, word hierdie bespiegeling uit ʼn sekere hoek aangebied. Dit is alles ʼn infame leuen,” het Peskov gesê en terselfdertyd gepleit vir geduld terwyl die voorval ondersoek word.

Russiese owerhede het ʼn ondersoek na moontlike lugvaartoortredings van stapel gestuur, maar het tot dusver geen besonderhede oor die ondersoek of die voorval bekend gemaak nie.

Pres. Wladimir Poetin het Donderdag sy stilte oor die ongeluk verbreek en sy medelye betuig met die families van die tien mense aan boord van die vliegtuig. Hy het dit ook as ʼn “tragedie” bestempel.

Hy sê Prigozhin, wat in Junie ʼn gewapende opstand teen Rusland se weermaghoofde gelei het, het “ernstige foute in sy lewe gemaak” en het ʼn “ingewikkelde lot” gehad.

Die kortstondige maar bloedige opstand is deur waarnemers bestempel as die grootste bedreiging vir Poetin se jare lange bewind.

Moskou het nog nie Prigozhin se dood bevestig nie. Poetin het in die verlede tyd na hom verwys, maar Peskov sê werk word nog gedoen om Prigozhin formeel as een van die slagoffers uit te ken.

‘Heldhaftigheid nie vergete’

Die Russiese rebellieleier Yevgeny Prigozhin. (Foto: Twitter)

“Sodra die bevinding beskikbaar is, sal dit bekend gemaak word,” het Peskov gesê.

In antwoord op ʼn vraag oor of hy Prigozhin se begrafnis gaan bywoon, het Peskov geantwoord: “In hierdie stadium is daar nie ʼn datum vir die begrafnis nie; dit is nie moontlik om daaroor te praat nie.

“Die president se werkskedule is tans nogal druk,” het Peskov gesê.

In Donderdag se toespraak het Poetin gesê hy het Prigozhin – eens ʼn lojale bondgenoot – sedert die 1990’s geken. Albei is boorlinge van St. Petersburg.

Maar onder Poetin se bewind was daar al talle raaiselagtige sterftes.

Vir talle Russe is die feit dat Prigozhin se opmars na Moskou in ʼn ongewone ooreenkoms geëindig het – die rebelleleier is toegelaat om in Belarus te gaan woon – reeds rede tot agterdog.

Verskeie Westerse amptenare was ook agterdogtig oor die tydsberekening van die vliegongeluk – presies twee maande ná die opstand.

Die wrak van die vliegtuig waarin Prigozhin waarskynlik omgekokm het. Dit het tussen Moskou en St. Petersburg naby Kuzhenkino in die Tver-streek neergestort. (Foto: AFP)

Met Prigozhin waarskynlik dood, is die lot van sy huursoldaat-weermag – wat tydens die inval van Oekraïne veral opslae gemaak het, maar ook ʼn teenwoordigheid in verskeie Afrika-lande handhaaf – onduidelik.

“Ek kan nie nou vir julle enigiets sê nie. Ek weet nie,” het Peskov gesê oor die toekoms van die groep.

Ná die Junie-rebellie het Moskou ʼn versigtige veldtog teen die Wagner-hoof gevoer – maar nié teen sy vegters nie omdat hulle op tuisfront grootliks as helde in die Russiese stryd teen Oekraïne beskou word.

“Soos die president al by herhaling gesê het: die Wagner-groep het ʼn groot bydrae tot die spesiale militêre operasie gelewer,” het Peskov gesê in die Kremlin-goedgekeurde woordeskat wat gebruik word om die konflik te beskryf.

“Die heldhaftigheid van dié mense sal nie vergeet word nie. Dit is wat die president gesê het.”

As deel van die ooreenkoms wat Prigozhin se opstand gestuit het, het Wagner-vegters in buurland Belarus kamp opgeslaan. Selfs ná die muitery het Prigozhin steeds ʼn betreklike aanhang in Rusland gehad, met baie Russe wat gehou het van sy taai benadering.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Henry ·

natuurlik sal hulle dit ontken net soos die ander een wat vergiftig was en moes vlug

Mnr De Beer ·

Prigozhin moes dalk minder video opnames gemaak het. Hoe dom kan jy wees om video opname te maak en te dink een van die magtigste president in die werked gaan jou nie laat verdwyn?

Duck ·

Ek sal in elk geval nie so onnosel wees om in die lug rond te vlieg nadat ek ‘n staatsgreep wou doen nie. Dis was nou nie meer ‘n “sitting duck maar ‘n flying duck” gewees.
Ook maar lekker stupid!

Bolandse Nooi ·

‘Natuurlik – onder Kommuniste – word alle betrokkenheid en die moontlikheid van ‘n sluipmoordaanval, summier ontken. Dit is alles ‘n infame leuen’. Terloops, vir die wat nog wonder, Prigozhin se teenwoordigheid op daardie vlug – en dus sy dood – is inderdaad deur DNA-toetse bewys.

Natuurlik het die Kremlin, Putin … g’n niemand in Rusland, ooit, ooit, OOIT enigsins iets daarmee te doen gehad dat ‘n vliegtuig, wat deur sekerheidsklaring en veiligheidstoetsing gegaan het voor dit opgestyg het, sommer net soos ‘n klip uit die lug geval het nie. En natuurlik weet ons as enige ANC-politikus of Rus sy of haar mond oopmaak …….. lieg hulle soos ketters!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.