Ingeëntes kan binnekort na VSA reis

Argieffoto van die John F. Kennedy-lughawe in New York. (Foto: Unsplash)

Die VSA gaan sy streng reisverbod in November ophef vir Suid-Afrikaanse lugpassasiers wat ingeënt is en Covid-19-toetsing en kontaksporing kan ondergaan.

Dít nadat die Amerikaanse regering tot onlangs nog nie wou bes gee op sy reisbeperkings nie.

Jeffrey Zients, wat die Withuis se hantering van die Covid-19-pandemie koördineer, het egter Maandag aan verslaggewers gesê ’n nuwe “konsekwente benadering” sal vanaf vroeg November in werking tree.

Passasiers sal moet kan bewys lewer dat hulle volledig ingeënt is en ’n negatiewe Covid-19-toetsuitslag kan toon voordat hulle op ’n vlug na die VSA toegelaat sal word. Dié toets moet binne drie dae voor die vlug reeds gedoen wees.

“Dit geld vir alle internasionale reise,” het Zients gesê.

Amerikaners wat nie volledig ingeënt is nie, sal steeds die land kan binnegaan, mits hulle binne ’n dag ná hul reis negatief vir Covid-19 getoets het.

Die dra van maskers is verpligtend op ’n vlug na die VSA terwyl lugrederye kontaknasporingsinligting aan die Amerikaanse gesondheidsowerhede sal verskaf.

“Dié nuwe internasionale reisstelsel het ten doel om Amerikaners se internasionale lugreise veilig te hou,” het Zients gesê.

Dit was nie onmiddellik duidelik of die nuwe reël slegs van toepassing is op entstowwe wat deur die VSA goedgekeur is en of ander entstowwe, soos dié wat in China of Rusland vervaardig word, ook aanvaar sal word nie.

Zients het gesê dit sal deur die Amerikaanse sentrums vir siektebeheer bepaal word.

‘n Elektroniese padteken in Kalifornië in die VSA. Foto: (AP Photo/Mark J. Terrill)

Intussen bly die VSA se beperkings op die beweging van voertuie uit Kanada en Mexiko vir eers van krag.

Die land se streng reisbeperkings is sowat 18 maande gelede deur oudpres. Donald Trump ingestel toe die koronavirus vir die eerste keer in die VSA kop uitgesteek het.

Die verslapte reisbeperkings sal dus beteken dat families en vriende wat oor landsgrense van mekaar geskei is, eindelik ná twee jaar sal kan herenig.

Phil White, ’n Britse entrepreneur wat naby San Francisco woon, het aan AFP gesê sy dogter beplan om uiteindelik in November uit Londen te kom kuier.

“Ons gaan as gesin weer saam wees vir Dankseggingsdag (Thanksgiving), wat ongelooflik is.” Volgens White het hy sy dogter 18 of 19 maande laas gesien.

Britse en Duitse amptenare het intussen die verslapping verwelkom. Die Duitse ambassadeur in die Verenigde State het dit as “goeie nuus” bestempel.

Lugrederye is ook verheug nadat hulle weens afsonderingsregulasies en reisbeperkings ’n groot knou weg het.

Die handelsgroep Airlines For Europe sê die VSA se verslapping van sy reisbeperkings beteken ’n “broodnodige hupstoot vir trans-Atlantiese verkeer en toerisme en sal families en vriende herenig”.

Maroela Media het vroeër berig die reisbeperkings het ’n negatiewe uitwerking op die VSA se toerismebedryf gehad, maar dié land is minder afhanklik van toerisme as die meeste Europese lande.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.