Internasionale oorsig: Amerika, Iran pak mekaar toenemend in Irak, Sirië

’n Betoger swaai die nasionale vlag in die strate naby Tahrir-plein tydens ’n betoging teen die Iranse missielaanval in Bagdad, Irak. (Foto: Khalid Mohammed, AP)

Die Amerikaanse weermag het die afgelope week alle verantwoordelikheid vir ’n hommeltuigaanval op ’n vragmotor in die ooste van Sirië ontken. Die vragmotor, wat wapens uit Iran na die Siriese weermag vervoer het, is in die aanval verwoes.

Vroeër vandeesmaand is die Al-Assad-lugmagbasis in Irak, waar Amerikaanse soldate gestasioneer is, vir die soveelste keer deur vuurpylaanvalle van Sjiïtiese-groepe met noue bande met Iran, geteiken. Verlede maand was daar selfs ’n hommeltuigaanval op die Amerikaanse ambassade in Bagdad.

’n Amerikaanse weermagbasis in die Anbar-provinsie van Irak is ook verlede week aangeval, terwyl die Amerikaanse weermag na bewering verantwoordelik was vir lugaanvalle op militia-groepe in Irak en Sirië wat deur Iran ondersteun word. Die vraag ontstaan toenemend of die VSA en Iran nie reeds in ’n direkte en indirekte oorlog teen mekaar in Irak en Sirië gewikkel is nie.

Beide Irak en Sirië het ná jare se oorlog, verswakte regerings met min burgers wat vertroue in hulle regerings het. Onder leiding van Mustafa al-Khadhimi het Irak verlede jaar ’n heelwat meer bekwame tegnokratiese regering gekry, maar weens enorme fragmentasie in die Irakese parlement slaag al-Khadhimi nie daarin om broodnodige hervormings deur te voer nie.

Die gevolg hiervan is dat verskeie militia-groepe, wat ook sterk verteenwoordiging in die parlement geniet, se invloed eerder toeneem as afneem. Heelwat van hierdie groepe, wat tot stand gekom het om die Islamitiese Staat, ’n Soenniete-terreurgroep te beveg, het direkte bande met die Sjiïtiese regering van Iran.

In Sirië is die burgeroorlog steeds nie verby nie en beskou president Basjar al-Assad Iran as ’n belangrike bondgenoot, veral teen Soenniete-terreurgroepe in sy land. Die VSA en Israel wil egter verhoed dat Iran sy invloed in Sirië uitbrei en is daarom voortdurend besig om lugaanvalle op Iranse teikens in die land te loods.

Die stryd om invloed tussen die VSA en Iran, of eerder die stryd deur die VSA teen Iranse invloed in dié twee lande, ontaard toenemend in ’n proksie-oorlog waar beide lande groepe van wapens en ammunisie, en selfs intelligensie, voorsien om aanvalle soos die afgelope paar weke te bevorder.

Terwyl die regering in Irak onlangse Amerikaanse aanvalle op sy grondgebied veroordeel het, kan hulle nie veel meer doen nie, omdat hulle steeds afhanklik is van Amerika se finansiële en militêre steun.

Intussen neem die aanvalle deur Irannees-gesteunde militia-groepe in veral Irak, maar ook Sirië, voortdurend toe. Terwyl die VSA sy betrokkenheid in die Midde-Ooste drasties afgeskaal het, kan die Amerikaners nie bekostig om nou Irak en Sirië te verlaat nie, uit vrees vir die heropbou van terreurgroepe soos die Islamitiese staat.

Die ironie is natuurlik dat die VSA, Iran en Sjiïtiese militia-groepe in Irak en Sirië almal teen die Soenniete Islamitiese staat en Al-Kaïda-terreurgroepe veg. Tog is daar ook ’n stryd tussen die VSA en Iran. Hierdie stryd gaan veel meer oor invloed. Die VSA wil verhoed dat Iran sy invloed in die streek uitbrei. Die Amerikaners word sterk hierin ondersteun deur Israel, Saoedi-Arabië en sommige Arabiese Golf-lande.

Tans is daar nie ’n einde in sig vir die oor en weer aanvalle nie en dit het eerder die potensiaal om die konflik in beide lande verder uit te rek. Die Biden-administrasie probeer met teenaanvalle hulle ongeduld met die groepe, wat deur Iran ondersteun word, toon, maar dit is onseker of hierdie aanvalle Sjiïtiese militia-groepe in hulle aanslag teen Amerika se teenwoordigheid in die streek gaan stuit. Terwyl Iran wil sien dat die VSA uit Irak en Sirië onttrek wil die VSA sien dat Iran se invloed in beide lande beperk word. Nie een van die twee gaan sonder meer geweld bes gee nie.

Latyns-Amerika sak verder terug in politieke, ekonomiese chaos

Dit is moeilik om ’n streek in die wêreld te identifiseer wat harder deur die Covid-19-pandemie geraak is as Latyns-Amerika. Van Mexiko in Noord-Amerika deur die problematiese driehoek van El Salvador, Honduras en Guatemala, die Karibiese Eilande en veral die noordelike dele van Suid-Amerika, het die pandemie verwoesting gesaai. Alhoewel Latyns-Amerika 8% van die wêreldbevolking verteenwoordig, was 30% van alle sterftes weens Covid-19 in dié streek.

Terwyl Latyns-Amerikaanse lande veral hoë infeksie- en sterftekoerse gehad het, is die ekonomiese gevolge in dié streek ook katastrofies en dra dit toenemend by tot groeiende politieke onstabiliteit. Ekonomieë in Latyns-Amerika het verlede jaar saam met 6,3% gekrimp en ekonomiese ongelykheid het drasties toegeneem wat ’n teelaarde vir politieke opstande geskep het.

Die afgelope week het gewelddadige protesoptogte weer in Colombia uitgebreek, waar dié land se regse regering maatreëls, insluitende hoër belasting, wil instel om die land se sukkelende ekonomie te probeer regruk. Terwyl Venezuela se reeds mislukte staat en toestande van armoede deur die pandemie verdiep is, het die pandemie en sy ekonomiese gevolge ’n belangrike bydrae gelewer tot die verkiesing van ’n ekstreem-linkse president verlede maand in Peru.

Pedro Castillo. (Foto: Gian MASKO/AFP)

Pedro Castillo is die afgelope week uiteindelik as Peru se nuwe president deur dié land se verkiesingskommissie bevestig. Castillo, ʼn voormalige laerskoolonderwyser in die arm afgeleë suide van Peru, sal op 28 Julie as Peru se nuutste president ingehuldig word. Hy sal ook die land se vierde president binne twee jaar wees.

Castillo se naelskraapse oorwinning van 44 000 stemme uit meer as 17 miljoen, bevestig die geweldige verdeeldheid in dié land. Tog sou die verkiesing van ’n linkse populis wat verskeie bedrywe wil nasionaliseer, belasting op rykes wil verhoog en regeringspandering op programme vir die armes drasties wil uitbrei, voor die pandemie in Peru onwaarskynlik gelyk het. Die land het vir jare die vrugte van ’n sterk privaat sektor en uitvoergedrewe ekonomie ervaar. Tog het die pandemie die geleentheid geskep vir Castillo om die vrese van die armes en mense wat tydens die pandemie hulle werk verloor het, suksesvol uit te buit.

Terwyl die Amerikaanse ekonomie steeds besig is om baie goeie herstel te toon, sukkel die Mexikane om hulle ekonomie weer op dreef te kry. Die Mexikaanse ekonomie is steeds 4,7% kleiner as drie jaar gelede en die gevolg hiervan is groot druk op die verkose politici in dié land.

Terwyl protesbewegings dwarsdeur Latyns-Amerika stukrag kry en daar die afgelope twee weke ook groot protesoptogte in Kuba en Brasilië plaasgevind het, vrees Westerse lande, veral die VSA, dat demokrasie uiteindelik onder toenemende druk in die streek kan verkeer soos wat populiste verkies word, outoritêre regerings hulle magte oorskry en politieke geweld toeneem.

Die een gevolg hiervan is ’n skerp toename in onwettige immigrasie na die VSA. Verlede week is bekend gemaak dat 1,7 miljoen mense tydens die eerste ses maande van die jaar die grens tussen Mexiko en die VSA onwettig oorgesteek het. Dit is die meeste sedert die jaar 2000. Die meeste onwettige immigrante kom uit Mexiko, gevolg deur ander Latyns-Amerikaanse lande.

Hoewel daar die afgelope twee tot drie dekades groot vordering met die vestiging van sterk demokrasieë in Latyns-Amerika gemaak is, kan die langdurige ekonomiese gevolge van die pandemie hierdie vordering ernstig bedreig.

Die streek het enorme ekonomiese potensiaal in veral mynbou, olie-ontginning en landbou, maar indien stabiele regerings, wat deur die burgery vertrou word, nie hulle lande deur die huidige krisis gaan dra nie, kan die streek terugsak in die soort ekonomiese stagnasie wat met tye tydens die vorige eeu tot outoritêre regerings en selfs diktature aanleiding gegee het. Demokrasie is tans op die agtervoet in groot dele van Latyns-Amerika. Slegs bekwame, goeie leiers sal die situasie kan regruk.

Rasseverhoudinge in VSA verswak verder

(Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Die gerespekteerde peilingagentskap, Gallup, het die afgelope week sy jaarlikse peiling oor rasseverhoudinge in die VSA bekend gemaak. Die afgelope sewe jaar se daling in Amerikaners se positiewe persepsies oor rasseverhoudinge duur steeds voort met slegs 42% van Amerikaners wat tans voel dat die verhouding tussen wit en swart Amerikaners matig of baie goed is. Daarteenoor voel 57% van Amerikaners dat die verhouding tussen wit en swart Amerikaners matig of baie swak is.

In 2013 het 70% van Amerikaners nog gevoel dat rasseverhoudinge goed is. Slegs 33% van swart Amerikaners voel dat die verhouding tussen swart en wit Amerikaners goed is. Slegs 40% van swart Amerikaners dink dat rasseverhoudinge uiteindelik sal verbeter, terwyl 60% van wit Amerikaners tog dink dat dit uiteindelik gaan verbeter.

Die gewelddadige betogings verlede jaar ná die dood van George Floyd in Minneapolis het sonder twyfel tot die verswakking in rasseverhoudinge bygedra. Die wyse waarop die Black Lives Matter-beweging geradikaliseer is en hoër eise daargestel is, het baie wit Amerikaners vervreemd gelaat en dit het tot meer gespanne rasseverhoudinge bygedra.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
Willem

Kan Amerika ons nie kom help met intelligensie nie. Dan sal optogte soos nou ruk terug nie plaasvind

CA

Jaco, die ander moontlikheid – wat meer deur historiese feite ondersteun word – is dat die VSA nie kan bekostig om Sirië te verlaat nie, uit vrees vir die VERNIETIGING van die terreurgroepe wat die VSA al jare lank as proksies gebruik om sy doel te probeer bereik, bv. om van president Assad ontslae te raak.

En dit herinner my: Sirië het nie “min burgers” wat hulle regering vertrou nie, inteendeel Assad is sopas ingehuldig met oorweldigende steun, indien jy dit gemis het Jaco.

Anton

‘n Tekort aan leierskap het maar altyd ‘n chaotiese wereld tot gevolg.
Die Meksikaanse ekonomie sal binnekort begin groei, sodra Biden se welsyn begin deur kom na die gemiddelde “Amerikaner” :-)

annie

Die FBI en Navo werk hard om Rusland die boef in alle stories te maak en Iran as ‘n klein vliegie in die salf te sien maar dié dag dat Iran soos Nazi-Duitsland sy ware kleure wys sal daar geen helper wees nie. Die EU hoop ook op Navo en ? en Sjina help net vir Sjina. Dan sal Biden vir mammie vra om die rooi-foontjie aan te gee, dààr agter sy tandeglasie langs sy slaappil en sy bril… Waar’s my bril? Dink vrou!

Jaco

Amerika val sowaar aan. Wat dan nou van die hoogheilige Joe Biden en sy Demokrate se wonderlike “human rights”?