Internasionale oorsig: Dít kortwiek herstel in VSA

Altesaam 200 000 Amerikaanse vlae pronk in die National Mall-park. (Foto: Twitter)

Die inflasiekoers vir April wat die afgelope week in die VSA bekend gemaak is, het weer eens vrese vir inflasiedruk laat toeneem terwyl die Amerikaanse ekonomie ná die inkrimping van 2020 herstel. Die verbruikersprysindeks in die VSA het tydens April tot 4,2% op ʼn jaar-op-jaar-grondslag gestyg. Dit was heelwat hoër as wat ekonome verwag het.

Terwyl aansoeke vir werkloosheidsvoordele in die VSA verlede week tot die laagste vlak sedert die middel van Maart 2020 gedaal het, is daar reeds verskeie sektore in die Amerikaanse ekonomie wat ʼn arbeidstekort begin aanmeld. Die tekort aan vragmotorbestuurders veroorsaak dat produkte nie vinnig genoeg afgelewer kan word nie en dat daar toenemend ʼn tekort aan produkte by supermarkte en winkels is. Ook boumateriaal en ander produkte word stadiger as gewoonlik afgelewer.

Verder kla restaurante, winkels en fabrieke oor die hele VSA dat hulle sukkel om nuwe personeel te werf. Dit het veroorsaak dat die gemiddelde uurlikse vergoeding vir Amerikaanse werkers in April met 0,7% gestyg het.

Die prys van tweedehandse motors het gedurende April met 10% gestyg weens ʼn tekort aan nuwe motors. Die grootste rede vir stygende inflasie in die VSA is die skerp styging in brandstof- en voedselpryse. Brandstofpryse het onlangs tot die hoogste vlak in nege jaar gestyg.

Die prys van mielies in die VSA het vanjaar reeds met 50% gestyg en is nou 125% hoër as ʼn jaar gelede. Dit dra by tot ʼn styging in die prys van verskeie kossoorte, waaronder die prys van vleis, weens die stygende koste van veevoer.

(Argieffoto: usfinancepost.com)

Terwyl miljoene Amerikaners nog werkloos is, word die arbeidstekorte veroorsaak deur ʼn misplaaste toepassing van vaardighede en baie Amerikaners wat kies om eerder van die federale regering se ruim werkloosheidsvoordele gebruik te maak in plaas daarvan om ʼn werksgeleentheid waarvoor ʼn lae loon betaal word, op te neem.

Verbruikersbesteding in die VSA het gedurende April met 10% op ʼn jaar-op-jaar-grondslag gestyg. Amerikaners se groeiende vertroue in ʼn sterk ekonomie bring mee dat hulle teen ʼn vinnige tempo begin om die twee biljoen dollar wat verlede jaar deur Amerikaners gespaar is, te bestee. Die probleem is egter dat fabrieke en verspreidingskettings verlede jaar sodanig afgeskaal het dat daar nou nie vinnig genoeg in die groeiende vraag na dienste en produkte voorsien kan word nie.

Die VSA voer steeds baie produkte in, veral uit China, maar die invoerkoste het skerp toegeneem weens ʼn kombinasie van die swakker dollar, stygende brandstofkoste, invoertariewe en stygende arbeidskoste. Dit dra by tot groter tekorte, duurder pryse en gevolglik stygende inflasie.

Die Federale Reserwebank in die VSA hou vol dat die huidige skerp styging in inflasie tydelik is en dat dit die gevolg van tydelike tekorte in produkte en dienste is. Daar word allerweë verwag dat die Amerikaanse ekonomie vir die res van 2021 sy sterk groeitendens sal bly voortsit, maar vrese neem toe dat rentekoerse dalk eerder vroeër verhoog sal moet word om inflasie teen te werk, wat ongetwyfeld tot laer ekonomiese groei in 2023 of selfs reeds in 2022 kan lei.

Oorsprong van VSA-migrantekrisis lê in Sentraal-Amerika

Betogers sing buite tydens ʼn verkiesingsveldtog vir Joe Biden, demokratiese presidentskandidaat, by die Harbour Palace Seafood Restaurant in Las Vegas, VSA. Die betogers wil hê dat die deportasie van ongedokumenteerde immigrante afgeskaf word, sou Biden verkies word. (Foto: Patrick Semansky, AP)

Terwyl Amerikaanse deelstate op die grens met Mexiko weens die toename van onwettige immigrasie noodtoestande afkondig en die Amerikaanse adjunkpresident, Kamala Harris, die afgelope week samesprekings met die president van Mexiko gevoer het, is dit belangrik om te begryp dat die oorgrote meerderheid van die mense wat die grens tussen Mexiko en die VSA onwettig probeer oorsteek, uit drie lande in Sentraal-Amerika afkomstig is. In 2019 was 92% van die onwettige immigrante wat die grens oorgesteek het, afkomstig uit El Salvador, Guatemala en Honduras.

Onlangse getuienis oor die stygende vlaag van onwettige immigrante wat die grens probeer oorsteek, bevestig dat die meeste mense steeds uit dié drie lande afkomstig is. Die Amerikaanse regering het ook onlangs ʼn hulppakket van sowat drie miljard dollar vir die streek aangekondig in die hoop dat armoedeverligting- en ander programme mense in Sentraal-Amerika sal ontmoedig om die reis deur Mexiko na die VSA aan te pak.

Onwettige emigrasie uit Mexiko na die VSA is reeds dekades lank ʼn groot probleem. Dit was egter vir lank oorheers deur veral Mexikaanse mans wat weens trekfaktore soos beskikbare werk, en selfs arbeidstekorte, op plase en in fabrieke in die VSA gaan werk soek het.

Deesdae word onwettige immigrasie na die VSA oor die grens met Mexiko gedryf deur die desperate situasie in verskeie Latyns-Amerikaanse lande, maar veral in die Noordelike Driehoek-lande, El Salvador, Guatemala en Honduras. Al drie lande word deur ekonomiese probleme en politieke onstabiliteit geteister, en die  voorkoms van geweldsmisdaad is van die hoogste ter wêreld.

Terwyl die Biden-administrasie se besluit om geld aan gemeenskappe en nieregeringsorganisasies in dié drie lande te skenk om armoede te beveg ʼn goeie inisiatief is, takel dit nie die ernstige strukturele probleme in die streek nie. Intussen stroom mense daagliks oor die grens en neem die probleem van minderjariges wat die grens alleen oorsteek, ook steeds toe.

Tydens die regering van Donald Trump is die stroom immigrante na die VSA gestuit deur Trump se harde optrede teen onwettige immigrante en sy regering se polisiëring- en deportasiebeleid. Biden se sagter benadering jeens onwettige immigrante het die stroom mense uit Sentraal-Amerika wat die VSA probeer bereik weer skerp laat toeneem.

El Salvador, Guatemala en Honduras is van die gevaarlikste lande ter wêreld met bendes wat daagliks veg om beheer van die dwelmsmokkelroetes tussen Suid-Amerika en die VSA. Volgens ʼn onlangse verslag oor geweldsmisdaad in die wêreld is bevind dat 19 uit elke 20 moorde in dié drie lande nooit opgelos word nie, met polisiëring wat totaal onvoldoende en dikwels self korrup is.

Armoede is ook ʼn groot probleem in al drie lande. Sowat 60% van mense wat in landelike gebiede in dié drie lande woon, leef in armoede en is dikwels die mense wat na die VSA probeer uitwyk.

Die groter probleem in al drie lande is egter die politieke uitdagings met regerings wat gereeld outoritêr optree en korrupsie wat hoogty vier. In Februarie vanjaar het Nayib Bukele die verkiesing in El Salvador gewen. Sedertdien het sy party al die regters van die land se konstitusionele hof afgedank, en verlede week is die land se prokureur-generaal ook vervang.

Burgerlike organisasies en joernaliste wat kritiek lewer op politieke verwikkelinge in dié land word ondersoek en selfs vervolg. In Honduras is die onafhanklikheid van howe reeds sedert 2012 onder druk toe dié land se regters van die konstitusionele hof ook vervang is. In Guatemala het daar die afgelope paar maande ook ʼn groot aanslag op onafhanklike regters begin plaasvind.

Latyns-Amerika, waaronder Sentraal-Amerikaanse lande, is baie swaar getref deur die koronapandemie en die ekonomiese gevolge van inperkingsmaatreëls. Latyns-Amerikaanse lande slaag ook nie daarin om ʼn uitgebreide inentingsprogram in werking te stel nie, met die meeste lande wat tot dusver minder as 5% van hulle bevolkings ingeënt het. Dit, gepaardgaande met vrese oor eiendomsreg en ekonomiese vryheid, asook die voortdurende probleme met ernstige geweldsmisdade en korrupsie, belemmer ekonomiese herstel in die streek.

Biden se onlangse veroordeling van magsvergrype deur dié drie lande se regerings is belangrik maar onvoldoende. Die krisis met onwettige immigrasie sal net opgelos word indien lande in Sentraal-Amerika deur die VSA verplig kan word om in die stryd teen onwettige immigrasie saam te werk. Daarmee saam is goeie grensbeheer deur Mexiko en die VSA noodsaaklik.

Die langtermynoplossings vir die streek lê in beter regerings, en ook daar kan die VSA ʼn belangrike rol speel deur sy bestaande hulp aan dié lande aan strenger voorwaardes vir hervormings te koppel.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers, Wêreldnuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

James ·

Die Trump haters raak al hoe stiller, soos wat Biden dag na dag die wereld ‘n slegter plek maak. Om te dink – hy is nou eers 120 dae in die Withuis.. daar is nog 3,5 jaar oor!

Ag wat, gelukkig is hy ‘n vredeliewende ou oupie wat sy warm melkies in die aand voor doe-doe tyd drink.

Filistyn ·

Ongelukkig gaan die vredeliewende oupie se gesondheid groet en gaan me Harris die troonopvolger wees. Die probleme gaan net groter word.

Adam Adriaan ·

Hier kom nog groot marakas. Wonder wat gaan die pro Demokrate dan sê?

Vrijburger ·

En moet asb nie van die stygende petrol prys in die VSA, wat ook ‘n invloed op inflasie en alle sektore van die ekonomie het, vergeet nie. (Die Biden administrasie se ‘anti-fossil fuel’ beleid wat natuurlik ‘n groot oorsaak van die styging is.)

Jaco ·

Nou met Amerika se nuwe oop immigrasiebeleid, moet mishandelde wit mense en ramaphosa en joe Biden eintlik almal die volgende oorweeg:
Ramaphosa kan die wit mense van SA wat glo soveel “ongelykheid” veroorsaak na die “oop” Amerika deporteer. As Biden ons dan invat, sal sy verbintenis tot “human rights irrespective of race, colour or creed” dan ook sommer mooi in praktyk gewys kan word.

Jacobus ·

So gaan dit – die hond het die bus gevang! En presies gebeur wat voorspel is. Soos iemand hieronder opgemerk het 4 jaar kan baie lank word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.