Internasionale oorsig: Kommer oor Chinese pogings om EU, VN te beïnvloed

Pres. Xi Jinping. (Foto: AP Photo/Ng Han Guan)

Daar is binne verskeie internasionale organisasies kommer oor die Chinese regering se pogings om deur omkopery, algemene steunwerwing en die bou van netwerke binne instellings soos die Europese Unie (EU) en die Verenigde Nasies (VN), die ontwikkeling van beleid en belangrike besluite oor onder andere handelsooreenkomste en buitelandse beleid te beïnvloed.

Verskeie senior Europese parlementslede het die afgelope tyd hul kommer uitgespreek oor China se aktiewe pogings om EU-parlementslede te probeer beïnvloed. Dit volg nadat die Chinese meer moeite begin doen het om EU-parlementslede op besoeke na China te neem en hul standpunt oor die verhouding tussen Europa en China te beïnvloed.

Jan Zahradil, ’n konserwatiewe EU-parlementslid van Tsjeggië, lei tans ’n pro-China groep in die Europese parlement. Zahradil was ook tot onlangs toe die ondervoorsitter van die Internasionale Handelskomitee van die EU. Zahradil is reeds verskeie kere met ’n rooi tapyt in China ontvang en het verskeie EU-parlementslede op besoeke aan China vergesel.

Die afgelope week is daar egter deur die onderhandelaars, wat tans ’n nuwe handelsooreenkoms tussen die EU en China probeer onderhandel, gewaarsku dat Chinese inmenging in die werking van die EU nie geduld sal word nie. Die onderhandelinge tussen die EU en China maak tans nie juis vordering nie. Die laaste formele onderhandelinge is op 1 Oktober afgesluit met ’n sterk boodskap van die EU se onderhandelaars dat China bereid sal moet wees om ’n regverdiger handelsomgewing te skep indien hulle wil sien dat ’n handelsooreenkoms moet realiseer.

Terwyl die Chinese ’n groot poging aanwend om EU-parlementslede en burokrate in Brussel te beïnvloed, het China se beeld in Europa die afgelope tyd ook wesenlike skade gelei. Die Europese Kommissie het reeds verlede jaar verklaar dat China nou ’n “sistemiese mededinger” is. Dit is die eerste keer dat die EU so ’n sterk standpunt oor China ingeneem het.

Onlangse navorsing deur die Europese raad vir buitelandse verhoudinge toon dat persepsies oor China oor Europa heen toenemend negatief is. Die Amerikaanse Pew-navorsingsentrum het ook bevind dat daar in nege Europese lande ’n skerp toename in negatiewe persepsies oor China en die Chinese president, Xi Jinping, is.

Die kanse op ’n nuwe handelsooreenkoms tussen China en die Europese Unie is besig om te vervaag. Intussen wil leiers in Brussel eers sien hoe die nuwe Amerikaanse administrasie teenoor China gaan optree. Die EU het reeds aangedui dat hulle saam met die VSA wil werk in die hantering van Westerse verhoudinge met China.

Ook in die gange van die Verenigde Nasies is daar kommer oor die wyse waarop China verskeie VN-lidlande boelie om saam met hulle oor belangrike sake te stem. Die samewerking tussen China en Rusland in die VN se Veiligheidsraad hou ook volgens Westerse leiers ’n bedreiging vir menseregte in. China en Rusland het in Julie vanjaar saamgewerk om twee VN-resolusies oor menseregte in Sirië te veto. China en Rusland het ook vanjaar saamgewerk om die aanstelling van ’n Franse politikus as spesiale VN-gesant vir Soedan te veto.

Sedert Xi Jinping president van China geword het, het dié land se rol in internasionale organisasies van ’n grootliks ekonomiese en handelsfokus na ’n meer selfversekerde geopolitieke fokus verskuif. Jinping se strategie is om die VSA uit te daag as die magtigste land in die Verenigde Nasies.

Die Chinese regering se pogings om politici en burokrate te beïnvloed, speel ook af in verskeie lande en strek dus verder as net internasionale organisasies. In Australië het dit reeds tot ’n omvattende ondersoek en hewige debat gelei. Selfs bewerings oor Chinese omkopery van Australiese politici het skokgolwe veroorsaak.

Die verhouding tussen China en Australië het, onder meer, weens China se beweerde inmenging in Australië se binnelandse politiek die afgelope paar maande heelwat versleg. China se poging om selfs verkiesings in die VSA te beïnvloed, is al ondersoek. Die Chinese politieke speletjies in Asië en Afrika is ook lank reeds bekend.

Die vraag is waar dit China as belangrike globale rolspeler laat? Die Trump-administrasie in die VSA se harde benadering teenoor China het heelwat van die Chinese foute en pogings om globale handel en magsverhoudinge te misbruik, blootgelê. Die nuwe Amerikaanse regering sal volgende jaar waarskynlik nie anders kan as om Trump se werk voort te sit nie.

Vir China voorspel dit niks goed nie. Die Chinese ekonomie is steeds afhanklik van meer uitvoere en China wil groter toegang tot markte in Noord-Amerika en Europa verkry. Met aggressiewe pogings om die politiek in verskeie lande en by verskeie globale instellings in hul guns te beïnvloed, het China waarskynlik sy hand oorspeel.

Laaste kans vir liberale Washington-elite om te regeer?

Die aangewese president van die VSA Joe Biden het sy benoemings vir belangrike kabinetsposisies begin bekendmaak. (Foto: AFP)

Die aangewese Amerikaanse president, Joe Biden het die afgelope week begin om sy benoemings vir belangrike kabinetsposisies bekend te maak. Die meeste name wat tot dusver bekend gemaak is, is dié van persone wat ’n lang pad saam met Biden en die liberale elite van Demokrate en burokrate uit die Amerikaanse hoofstad verteenwoordig.

Biden se keuses bewys dat hy verkies om mense wat hy lank reeds ken en met wie hy al meermale saamgewerk het, aan te stel. Tweedens is dit duidelik dat Biden op die meeste beleidsgebiede ’n terugkeer na die 2008-2016-era, toe hy adjunkpresident in die Obama-administrasie was, verkies.

Biden se aanstellings bewys egter ook dat die liberale elite, wat reeds vir dekades die Demokratiese Party domineer en waarvan Biden deel uitmaak, poste in die Biden-administrasie sal domineer. Eise deur linkse aktiviste in die party dat linkse helde soos Bernie Sanders en Elizabeth Warren in Biden se kabinet opgeneem moet word, het tot dusver op dowe ore geval.

Biden se keuse van Antony Blinken as minister van buitelandse sake bevestig bogenoemde punte. Blinken het in die Obama-administrasie gedien en is ’n vertroueling van Biden. Die vraag is natuurlik tot watter mate Blinken van die werkswyse van die huidige minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, gaan afwyk.

Dié twee verteenwoordig uiterste pole van die Amerikaanse politiek. Pompeo kom uit die deelstaat Kansas en verteenwoordig die buitestanderbeeld van die Trump-administrasie. Pompeo se benadering tot buitelandse sake was ongewoon, maar het tot heelwat sukses, veral in die Midde-Ooste, aanleiding gegee. Voor Pompeo se aanstelling het hy min kennis van die departement van buitelandse sake gehad en onder sy leiding is dié departement heelwat verklein.

Daarteenoor is Blinken ’n ervare burokraat uit die Amerikaanse hoofstad, wat waarskynlik weer die departement sal vergroot. Hy het in die Obama-administrasie as adjunkminister gedien. Blinken is ook ’n globalis wat glo dat die VSA met ander lande moet saamwerk om liberale demokrasie in die wêreld pro-aktief te bevorder. Hy was in die verlede saam met Biden ten gunste van buitelandse militêre intervensies en heelwat vrae bestaan oor hoe hy konflik in verskeie Midde-Oosterse lande gaan hanteer.

Die belangrikste vraag is egter tot watter mate Blinken van die Trump- en Pompeo-strategie vir China gaan afwyk. Hy sal waarskynlik probeer om eers in gesprek met Europese leiers te tree en ’n soort gesamentlike front ten opsigte van China te ontwikkel, maar weens verdeeldheid in Europa sal dit nie so maklik wees nie.

Die gedagte dat daar ook, wat buitelandse beleid betref, net na die Obama-era teruggekeer kan word, is nie moontlik nie. Terwyl sommige Demokrate so ’n strategie voorstaan, is daar ook dié wat juis voorstel dat die Amerikaanse buitelandse beleid verder hervorm moet word.

Biden en Blinken sal rekening moet hou met veranderende standpunte onder Amerikaners oor die VSA se globale rol en veral Amerikaanse militêre intervensies. Trump se onttrekking aan Midde-Oosterse oorloë, sy stryd met China en die wyse waarop sy administrasie die normalisering van verhoudinge tussen Israel en Arabiese lande begin fasiliteer het, was en is steeds baie gewild in die VSA. Daar sal nie maklik hiervan weggestap kan word nie.

Net so sal die VSA ook nie maar net weer deel van die kernooreenkoms tussen Iran, Rusland en Westerse lande kan word nie. Blinken sal hier ’n fyn spel moet speel indien enige vordering in die normalisering van verhoudinge met Iran gemaak wil word.

Die groep Demokrate wat verdere hervormings in buitelandse beleid voorstaan, is juis ten gunste van die onderhandeling van ’n nuwe ooreenkoms met Iran, eerder as die VSA se blote hertoetrede tot die ou ooreenkoms. Hierdie groep Demokrate wil egter ook sien dat die VSA nie onnodig in Midde-Oosterse konflik betrokke moet raak nie en dat die land eerder daarop moet fokus om ’n sinvolle nuwe verhouding met China te ontwikkel.

Biden se ander aanstellings kom ook uit sy binnekring. Jake Sullivan is as Nasionale Veiligheidsraadgewer benoem. Sullivan was Biden se veiligheidsraadgewer toe hy adjunkpresident was. Linda Thomas-Greenfield, is tot dusver die mees senior swart persoon wat deur Biden benoem is. Sy sal die VSA se ambassadeur by die Verenigde Nasies word. Thomas-Greenfield is reeds 68-jaar oud en is ’n ou vertroueling van Biden en iemand met dekades se diplomatieke ervaring. Sy was oor die jare die Amerikaanse ambassadeur in, onder meer, Liberië, Switserland, Pakistan, Kenia, Gambië, Nigerië en Jamaika.

Die voormalige minister van buitelandse sake en presidentskandidaat, John Kerry, se aanstelling in ’n nuwe senior pos as spesiale gesant vir klimaatsverandering, verteenwoordig ook die krag van die liberale elite, ook in die vorming van Biden se hantering van klimaatsverandering as een van sy belangrikste beleidsprioriteite. Janet Yellen, die voormalige voorsitter van die Federale Reserweraad, sal Amerika se eerste vroulike minister van finansies word. Haar aanstelling verteenwoordig ook die terugkeer van ’n Obama-era-burokraat.

Avril Haines, as direkteur van nasionale intelligensie en Alejandro Mayorkas as minister van binnelandse veiligheid, is ook twee aanstellings uit die Demokrate se diep arsenaal van ervare beroepsburokrate. Haines sal die eerste vrou in dié magtige posisie wees en sy het jare se ervaring in nasionale intelligensie. Mayorkas het al in verskeie posisies in die departement van binnelandse veiligheid gedien en sal na verwagting daarmee getaak word om die Trump-administrasie se streng immigrasiebeleid om te keer.

Terwyl verskeie kabinetsposisies nog deur Biden gevul moet word, en alle nominasies deur die senaat bevestig moet word, is daar verdere aanstellings in, onder meer, die departemente van onderwys, vervoer en arbeid wat nog gemaak moet word.

Die liberale, globalistiese, sentrumlinkse vleuel van die Demokratiese Party sal ná hierdie verkiesing duidelik die regering oorheers. Hierdie vleuel is egter toenemend onder groot druk binne die party soos wat die party se steun meer afhanklik van ’n jonger, stedelike linkse kieserskorps raak. Terwyl Barack Obama in 2008 die buitestander was wat na Washington D.C. is om die regering reg te ruk, het hy egter vir agt jaar grootliks vanuit ’n posisie van sentrumlinkse, globalisties-liberale posisies regeer.

Biden probeer duidelik ’n terugkeer na die Obama-era maak, maar die vraag is of die Amerika van Trump waarin die Republikeinse Party ’n groot toename in steun onder ’n diverse groep werkersklaskiesers ervaar het en waarin die Demokratiese Party ’n groterwordende blok linkse populiste in hul midde het, nog die aptyt vir die politiek van die liberale, burokratiese elite van die Washington-moeras het. Hierdie mag dalk hul laaste kans wees om kiesers van hul saak te oortuig met die veldtogte vir 2022 se middeltermynverkiesings wat binnekort afskop.

Magsbalans in VSA-politiek op 5 Januarie beslis

Donald Trump en Joe Biden. (Foto: Patrick Semansky/AP)

Kiesers in die Amerikaanse deelstaat Georgia sal in ’n ongewone dubbele eindronde-verkiesing op 5 Januarie beide senators van dié deelstaat verkies. Georgia is een van min deelstate waar ’n kandidaat in ’n senaatsverkiesing meer as 50% van die steun moet geniet om ’n verkiesing te wen. In die onlangse verkiesing kon geen kandidaat in beide senaatverkiesings meer as 50% van die stemme kry nie.

Die Republikeinse Party beheer reeds vir dekades beide senaatsetels in Georgia, maar politiek in dié deelstaat het die afgelope paar jaar saam met groot demografiese veranderinge na links begin verskuif. Joe Biden het onlangs die eerste Demokraat in byna drie dekades geword om Georgia te wen.

Elke Amerikaanse deelstaat het twee senatore. ’n Senator dien ’n termyn van ses jaar en ’n staat se twee senatore se termyne loop nie gelyk nie, wat beteken dat hulle dus nie tegelyk in een verkiesing verkies word nie. Senator David Perdue is in 2014 verkies en het vanjaar vir ’n tweede termyn gestaan.

Die ander senaatsetel in Georgia is egter in 2019 vakant gelaat toe senator Johnny Isakson voor die einde van sy termyn bedank het. Die goewerneur van Georgia het toe die sakevrou Kelly Loeffler in die plek van Isakson aangestel. Wetgewing bepaal egter dat Loeffler vanjaar aan ’n verkiesing moes deelneem om die res van Isakson se termyn te kan uitdien. Dit is dan ook waarom beide senaatposisies vanjaar in Georgia op die stembrief was.

Ná afloop van vanjaar se verkiesing beheer die Republikeinse Party 50 setels in die Amerikaanse senaat, die Demokrate 46 en dan is daar twee onafhanklike senatore wat beide saam met die Demokrate koukus. In praktyk is dit dus ’n 50-48-verdeling met die 2 setels in Georgia wat nog beslis moet word. Voor vanjaar se verkiesing was die verdeling 53 vir die Republikeine en 47 vir die Demokrate.

Die Republikeine moet dus minstens een setel op 5 Januarie wen om beheer oor die senaat te behou. Aangesien die meeste aanstellings wat deur ’n president gemaak word, deur die senaat goedgekeur moet word en alle wette deur die senaat aanvaar moet word, is beheer oor die senaat van groot belang.

Sou die Republikeine die senaat bly beheer, sal die Biden-administrasie gereeld met die Republikeine oor belangrike beleidsake moet onderhandel. Sal die Demokrate die senaat beheer (deur ’n meerderheid of deur ’n 50/50-verdeling in welke geval die adjunkpresident die beslissende stem uitbring), sal Biden ’n heelwat meer vrye hand hê om aanstellings, veral op die howe, te maak en om wette deur te voer.

Die Republikeine behoort in beide setels in Georgia die gunstelinge te wees. In die afgelope verkiesing het Republikeinse kandidate in beide senaatverkiesings meer stemme as president Trump gekry en ook meer stemme as die kandidate van die Demokratiese Party. Die Republikeine het twee sterk kandidate, terwyl die Demokratiese Party se kandidate heelwat kritiek uitlok.

Nog belangriker, egter, is dat kiesers in Georgia nou weet dat die Withuis vir die volgende vier jaar deur die Demokrate beheer gaan word. Dit beteken dat baie kiesers – veral voorstedelike hoër middelklaskiesers wat vanjaar van Trump na Biden geswaai het, maar wat tradisioneel vir Republikeinse kandidate stem – eerder vir Perdue en Loeffler sal stem, om te verhoed dat een party die Withuis, senaat en huis van verteenwoordigers beheer. Baie Amerikaners verkies ’n goeie magsbalans tussen die twee politieke partye en juis dít mag in die Republikeine se guns tel.

Die Demokrate se sterkpunt is egter die demografiese veranderinge in Georgia. Die swart bevolking in en om Atlanta het die afgelope paar jaar wesenlik toegeneem en meer as 32% van mense in Georgia is tans van Afro-Amerikaanse afkoms. Ook ander minderheidsgroepe se aandeel in die bevolking van Georgia het skerp toegeneem. Verder het die deelstaat ook ’n groot hoeveelheid jong middelklas en hoër middelklaskiesers wat deur die Demokrate se meer progressiewe boodskap gelok word.

Die Demokrate in Georgia het in vanjaar se presidentsverkiesing gewen deur op groot skaal van posstemme gebruik te maak. Meer as 1,5 miljoen posstemme is in dié staat uitgebring en die grootste deel daarvan vir Joe Biden. Die Demokrate is reeds die afgelope drie weke volstoom besig om hul ondersteuners te oortuig om weer posstembriewe aan te vra.

Aan die ander kant is daar onder Republikeine steeds ’n ongeloof in die feit dat President Trump Georgia verloor het. ’n Meerderheid van Republikeine vertrou nie die resultaat nie en dit kan meebring dat die stempersentasie onder getroue Republikeine op 5 Januarie laer gaan wees. Met lae vlakke van entoesiasme kan die Republikeine daardeur die senaatsetels vir die Demokrate op ’n skinkbord persent gee.

Soveel as 500 miljoen dollar gaan op 5 Januarie se ongewone twee verkiesings spandeer word. Die uitslag sal bepaal word deur die vraag oor watter party die beste daarin kon slaag om sy eie ondersteuners by die stembus te kry. Die stempersentasie gaan waarskynlik heelwat laer as in die pas afgelope verkiesing wees en daarom sal alles afhang van die party se vermoë om ondersteuners by die stembus te kry. Die Republikeine behoort steeds met ’n kort kop die gunstelinge te wees, maar veral president Trump se optrede oor die volgende paar weke kan nog ’n groot invloed op die Georgia-verkiesing hê.

Afname in terreurverwante sterftes, maar…

Polisielede staan wag op ‘n straat in die Oostenrykse hoofstad Wenen, nadat gewapende aanvallers minstens twee mense vroeër in November doodgeskiet het. (Foto: Leonhard Foeger/Reuters)

Die Globale Terrorisme Indeks se jongste bevindinge toon ’n afname van 59% in terreurverwante sterftes in die wêreld sedert 2014. Dié indeks toon egter ’n toename van 250% in terreurverwante sterftes in Wes-Europa, Noord-Amerika en Oseanië (dus Westerse lande) sedert 2014.

Volgens die Instituut vir Ekonomie en Vrede bly terreur een van die grootste globale bedreigings. Die tendens in Westerse lande word toenemend gedryf deur individue wat geradikaliseer word en nie noodwendig organisasies, soos Islamitiese terreurgroepe, wat aanvalle van stapel stuur nie. Volgens dié organisasie kan die huidige globale ekonomiese probleme en gepaardgaande onsekerheid tot ’n verdere toename in globale terreur aanleiding gee. Die organisasie verwag dat die toename in terreur in Westerse lande gaan voortduur.

Ten spyte van die skerp toename in terreur in Westerse lande is 96% van alle terreurverwante sterftes steeds in Afganistan, Sirië en Afrikalande soos Nigerië, Mali en Somalië. Die meeste terreurverwante sterftes in die wêreld was verlede jaar in Afganistan. Die Verenigde Koninkryk (30 sterftes) en die VSA (29 sterftes) was verlede jaar die twee Westerse lande wat die ergste geraak is. Intussen was daar egter vanjaar ’n skerp toename in terreuraanvalle in Europa.

Netanyahu se besoek aan Saoedi-Arabië lewer min resultate op

Benjamin Netanyahu. (Foto: Abir Sultan/Pool Photo via AP)

Die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, se onaangekondigde besoek aan Saoedi-Arabië verlede Sondag om samesprekings met kroonprins Mohammed bin Salman te voer, het min resultate opgelewer, maar het bewys dat die Amerikaanse regering steeds heelwat druk op Arabiese lande plaas om hul verhoudinge met Israel te normaliseer.

Die besoek van Netanyahu, ’n eerste vir ’n Israeliese eerste minister, is deur die Amerikaanse minister van buitelandse sake georganiseer en het aanvanklik in groot geheimhouding plaasgevind en is selfs aanvanklik deur Saoedi-Arabië ontken. Intussen het dit egter aan die lig gekom dat Netanyahu en Bin Salman wel ontmoet het, dat die ontmoeting op versoek van Saoedi-Arabië geheim gehou moes word, maar dat dit wel in die media in Israel uitgelek het.

Hoewel ’n normalisering van verhoudinge tussen Israel en Saoedi-Arabië nog nie ooreengekom is nie, is dit duidelik dat dié twee lande in die stilte saamwerk om Iran te isoleer en om ander lande se steun te werf om, onder meer, sanksies teen Iran in te stel. Hoewel die verhouding tussen Israel en Saoedi-Arabië nie binnekort gaan normaliseer nie, is dit egter reeds een wat vir beide partye voordele inhou.

Indië nie deel van Asiatiese handelsooreenkoms

Narendra Modi, die Indiese eerste minister. (Foto: Yong Teck Lim/AP)

Die ondertekening van ’n ekonomiese samewerkingsooreenkoms tussen vyftien Asiatiese lande twee weke gelede, skep die grootste enkele handelsblok in die wêreld. Dié vyftien lande verteenwoordig byna een derde van die globale ekonomie. Dit was egter die afwesigheid van Indië wat opvallend was toe die ooreenkoms onderteken is.

Hoewel Indië op ’n stadium aan die onderhandelinge deelgeneem het, het dié land se regering besluit om nie deel van die handelsooreenkoms te word nie. Indië voer reeds vir dekades lank ’n redelike sterk proteksionistiese ekonomiese beleid en was nog altyd versigtig vir vrye handelsooreenkomste. Die huidige regering van eerste minister Narendra Modi is selfs nóg meer ekonomies nasionalisties ingestel.

Na ’n finansiële krisis in 1991 het Indië sy ekonomie gedeeltelik oopgestel en op ’n groter skaal aan globale handel begin deelneem. Die land het egter steeds proteksionisties bly optree en was nog altyd versigtig vir handelsooreenkomste wat tot die invoer van goedkoop produkte uit ander lande aanleiding kon gee. Die afgelope twee jaar volg Modi se regering ’n beleid wat plaaslike produksie nog meer aanmoedig en invoere ontmoedig.

Indië wil egter ook homself as ’n magsbasis in Asië vestig. Die spanning tussen Indië en China die afgelope maande het bevestig dat dié twee lande oor die volgende paar jaar waarskynlik ’n hewige stryd om die rol as magtigste Asiatiese land gaan voer. Die VSA onder president Trump het hom grootliks by Indië geskaar. Onder Joe Biden sal dit waarskynlik verander.

Korrupsie en politieke onstabiliteit verdiep krisis in Peru

cuzco-peru-suid-amerika-strate

Die strate van Cuzco in Peru, Suid-Amerika. Foto: Rod Waddington/Flickr.com

Politieke krisisse is niks nuut in Peru, die derde grootste land in Suid-Amerika, nie. Die afgelope paar weke se politieke krisis is egter een van die ergste in jare en het nuwe klem geplaas op die land se probleme met korrupte politici.

Peru is een van die suksesvolste ekonomieë in Suid-Amerika en sedert Alberto Fujimori in 1990 president geword het, het die land goeie ekonomiese groei beleef. Die afgelope vyf jaar groei die land se ekonomie jaarliks met ’n gemiddeld van 5,9% en was daar veral sterk groei in industriële ontwikkeling, landbou, mynbou en vissery.

Die 32 miljoen burgers van Peru is egter voortdurend uitgelewer aan korrupte politici wat leiers wat korrupsie wil uitroei, keer op keer uitwerk. President Martin Vizcarra het sedert hy in 2018 president van Peru geword het, verskeie stappe gedoen om korrupsie in Peru uit te roei.

Volgens staatsaanklaers in Peru kom korrupsie algemeen onder politici voor en is talle politici betrokke by die toekenning van tenders en ander kontrakte in ruil vir vergoeding deur die ontvangers van die kontrakte. Politici in die kongres beskerm egter hulself en slaag daarin om vervolging keer op keer vry te spring.

Die probleem van korrupsie kom veral onder politici in Peru se kongres voor waar daar talle ondersoeke na korrupte gedrag gedoen word. Verskeie huidige lede van die kongres is al skuldig bevind aan bedrog en omkopery, maar behou steeds hul posisies in dié land se wetgewer.

Die kongres het vroeër hierdie maand besluit om president Vizcarra in ’n staat van beskuldiging te plaas, nadat hy aangedring het dat bedrog deur kongreslede ondersoek moet word. Vizcarra se voorganger, president Pedro Pablo Kuczynski het in 2018 bedank nadat die kongres ook stappe teen hom wou doen.

Nadat die kongres in Peru, Vizcarra uit sy amp verwyder het, het hulle die voorsitter van die kongres Manuel Merino as staatshoof aangewys. Dit het tot grootskaalse betogings in Peru aanleiding gegee met Merino wat ses dae later bedank het. Francisco Sagasti is daarna as die derde president van Peru binne die bestek van agt dae aangestel.

Die land ervaar tans ’n ekonomiese krisis weens die Covid-19-pandemie. Peru het die tweede meeste sterftes weens Covid-19 per capita naas België, en die huidige politieke krisis – die ergste in meer as twee dekades – verhoed die regering om doeltreffend op te tree.

Die politieke en ekonomiese probleme in Peru kan egter nie opgelos word terwyl korrupsie hoogty vier nie. Sewentig van die 130 lede van Peru se kongres word tans vir korrupsie ondersoek.

Peru se ekonomie word gekenmerk deur ’n sterk privaat sektor wat grootskaalse ontwikkelinge onderneem, maar wat lamgelê word deur regeringskorrupsie wat tot swak dienslewering aanleiding gee. Elke staatshoof in Peru wat probeer het om korrupsie in die land se wetgewer uit te roei, is egter oor die afgelope paar jaar deur die magte in die kongres uitgewerk.

Dit klink nogal baie soos die huidige stryd teen korrupsie in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Adriaan ·

Die wenner van die Amerikaanse presidentsverkiessing is nog nie aangewys nie en om na Biden as die aangewese president te verwys is liberale wensdenkery.

Human ·

En om te dink Trump staan `n kans om aangewys te word as die volgende president is konserwatiewe wanhoop.

Boerkind ·

100% Adriaan! Dit lyk egter die linkse kommuniste en NWO (waaroor Ramposa nou ook al meer begin praat) het met diaboliese leuens hul “plan” deur gedruk. Ons kyk maar…

Jacobus ·

Begin maar: China, VN, Corona, WGO, Biden familie sake, EU, ……….die lys raak lank.

Tanja ·

Ek is nou nie ń politieke ontleerder of kenner nie, maar sê al lank al China wil die wêreld oor neem en hulle is sterk oppad hier in SA. Hier in SA help ons SA burgers die Chineese deur by al hul winkeltjies goedkoop klere , speelgoed, huisware, lekkergoed, ens.ens. te koop. En nie net die Chineese R5 winkels nie maar ook al die Susi plekkies wat so op pop soos mushrooms oral. Hulle kom toerbusse vol ons land in en bly some 4 gesinne saam in een huis of some agter ń gordyn in hul China winkels.
Dan is daar sekere stede wat spesiaal vir hulle markte bou, ek dink nou spesifiek aan Oriental Plaza, China Town ens.
Oral in die wêreld is daar een of ander China Town, en dan nie eers te praat van al die geld wat hulle Afrika leen nie ons sal dit nooit kan terug betaal, en dan is hulle stroop hulle al ons Renosters, Perlemoene, Diamante, Goud, ens ens

Derek ·

Suid Afrikaanse politiek word oordonder deur buitelandse inmenging, veral met die betrokenheid van die Brics lande. Die SA regering kon nog nooit hul eie model ontwikkel nie en poog soos die res van Afrika om n eenparty staat te word ongeag die konsekwensies. Afrika het bewys dit kan nie werk en is n uitgediende stelsek net soos kommunisme, sosialisme en liberalisne. Suid Afrika is verdeel nie as gevolg van “rassisme” nie, maar die verskil tussen geregtigheid en ongeregtigheid of eerder die verskil tussen Westerse en Oosterse modelle. Die interpretasie van die grondwet is die groot probleem. Die huidige regering se doelwit is eerder om mag te behou deur getalle as om n demokratiese regering te vestig, ongeag die konsekwensies van hul aksies. Hulle uitgangspunt is dat die belasting betaler maar net moet betaal vir die regering se foute, hul oordeels fout van ” genade” gaan hulle nog besef. Alles in die lewe het grense, so ook genade, die Zondo kommissie het dit bewys, opvoeding ontbree

annie ·

Terwyl Trump op die slagveld vir bomme gekoes het, het oupa met sy tranerige blou ogies op die aftreeoord se sonstoep teachers’ pet gespeel en nou gaan hy die wèreld wys waar Dawid die wortel begrawe het. Om nou weer sy ou troupak aan te trek en sy strooijonkers weer nader te nooi met Obama as seremoniemeester en suster Hillary as sy gelukbringer… Die wèreld het drasties verander in ‘n paar jaar. Die droom wat ryp gedruk is, gaan te groot wees vir die oom. Die wèreld wag.

Mariana ·

Biden gaan Amerika opmors. Amerikaners gaan binnekort hul hare uittrek omdat hulle hom ingestem het. China is ‘n infiltreerder en sal aanhou om die wêreld stukkie vir stukkie oor te neem.

Vrijburger ·

Dankie Jaco vir die samevatting van wereldnuus in een artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.