Internasionale oorsig: Verkiesings om in 2021 dop te hou

(Foto: pixabay)

Buiten die belangrike verkiesings in Maart in Nederland en in Oktober in Duitsland moet die volgende verkiesings ook dopgehou word:

Zambië

Die meeste verkiesings in Afrika-lande in 2020 is deur geweld en bloedvergieting gekenmerk terwyl min verkiesings vry en regverdig was. Die een uitsondering was die verkiesing in Ghana wat vroeg in Desember baie goed verloop het.

Op 12 Augustus sal kiesers in Zambië na die stembus gaan. Zambië is reeds jare lank ʼn redelike stabiele land met demokratiese verkiesings.

Die Zambiese president, Edgar Lungu. (Foto; Twitter)

Sedert die vorige verkiesing in 2016 heers daar egter kommer oor toenemende politieke spanning tussen president Edgar Lungu van die regerende Patriotiese Party en sy hoofopponent, Hakainde Hichilema, van die Verenigde Party vir Nasionale Ontwikkeling. In 2016 se verkiesing het Lungu naelskraaps teen Hichilema gewen, en Hichilema en sy party het nie die verkiesingsuitslag aanvaar nie.

In 2017 is Hichilema vir hoogverraad aangekla en het hy vier maande in ʼn tronk deurgebring voordat die klagte teen hom laat vaar is. Politieke spanning tussen die twee partye is reeds besig om toe te neem in aanloop tot vanjaar se verkiesing. Lungu se toenemende onderdrukking van die opposisie laat vrese ontstaan dat vanjaar se verkiesing nie vry en regverdig kan wees nie en dat demokrasie in Zambië besig is om agteruit te boer.

Ethiopië

Nog ʼn Afrika-land wat tot onlangs as ʼn voorbeeld van stabiliteit en demokrasie voorgehou is, Ethiopië, is besig om ernstige krake te toon. Kiesers in dié land moet vanjaar aan ʼn parlementêre verkiesing deelneem nadat die verkiesing verlede jaar uitgestel is.

Ethiopië is ʼn etniese federasie en vir langer as twee dekades het die land redelike vrede en demokrasie ervaar. Die afgelope twee jaar is daar egter groeiende etniese spanning met veral die noordelike Tigray-streek wat met die federale regering van eerste minister Abiy Ahmed begin bots het. Dit het laat in 2020 selfs tot ʼn kortstondige oorlog aanleiding gegee. Intussen neem konflik tussen ander etniese groepe in die land ook toe. Vanjaar se verkiesing kan ʼn belangrike keerpunt in politieke ontwikkelinge in Ethiopië wees.

Ecuador

Lenin Moreno. (Foto: Twitter)

Sentraal- en Suid-Amerika het geen tekort aan lande met ernstige politieke en ekonomiese uitdagings nie. Een sodanige land is Ecuador in die noordweste van Suid-Amerika. Dié land se kiesers sal op 7 Februarie na die stembus gaan om ʼn nuwe president en parlementslede te verkies.

President Lenin Moreno is tans so ongewild dat hy hom nie vir ʼn tweede termyn beskikbaar gestel het nie. Moreno het protesoptogte in Oktober 2019 met geweld laat onderdruk. Ecuador se ekonomie verkeer onder groot druk en hoewel die land se verkiesings grootliks vry en regverdig is, het 67% van die land se burgers aangedui dat hulle glad nie in die komende verkiesing belangstel nie, en 60% sê dat as dit nie verpligtend was om te stem nie, hulle nie in die verkiesing sou stem nie.

Een van die twee kandidate vir die presidentskap is ʼn sentrumregse bankier wat ten gunste van ʼn vryemarkekonomie is. Hy loop tans ʼn kortkop voor teen ʼn 35-jarige ekonoom wat die populistiese linkse politiek van die era voor Moreno wil terugbring.

Peru

Peru, ʼn buurland suid van Ecuador, is effens meer welvarend as Ecuador met ʼn per capita-inkomste van 7 000 dollar per jaar teenoor Ecuador s’n van net meer as 6 000 dollar. Die veel groter land het egter ook die afgelope tyd groot politieke uitdagings beleef met drie verskillende presidente wat in een week aangewys is na ʼn politieke krisis in die land se kongres.

Op 11 April sal kiesers in Peru ʼn nuwe president, 130 lede van die kongres en 25 streeksgoewerneurs verkies. Die groot vraag is of dit politieke stabiliteit teweeg sal bring. President Martin Vizcarra is laat verlede jaar deur ʼn meerderheid in die kongres uit die kussings gelig. Sy opvolger is na vyf dae van hewige protes deur die huidige president, Francisco Sagasti, vervang.

Peru is een van die lande met die hoogste voorkoms van die koronavirus, en die land se ekonomie het verlede jaar met 14% gekrimp – een van die grootste inkrimpings ter wêreld. Dit is onseker of ʼn verkiesing politieke stabiliteit teweeg sal bring sodat die land se probleme hanteer kan word.

Nicaragua

Dié Sentraal-Amerikaanse land is die tweede armste land in die Amerikas en die mees onderontwikkelde land in Sentraal-Amerika. Nicaragua word gekenmerk deur ernstige armoede, ekonomiese chaos en die grootste aanslag op demokratiese instellings en vryheid van spraak in ʼn lang tyd.

Die verkiesing wat op 7 November vanjaar moet plaasvind, word reeds deur opposisiegroepe verwerp omdat die regering van president Daniel Ortega verskeie opposisiegroepe verbied het om daaraan deel te neem. Ortega het Nicaragua van 1979 tot 1990 geregeer en is sedert 2007 ook weer aaneenlopend president van die land. Hoewel hy tans in peilings die steun van net sowat 20% van kiesers geniet, beheer sy party die wetgewer, die howe en die meeste media. Ortega sal sonder twyfel enigiets wat nodig is doen om vanjaar herkies te word.

Irak

(Argieffoto: Khalis Mohammed/AP)

Politieke en ekonomiese krisisse is ook algemeen in die Midde-Ooste. Die eerste land in die Midde-Ooste waar kiesers vanjaar na die stembus sal gaan, is Irak. Dié land beleef reeds jare lank deurlopend ʼn politieke en ekonomiese krisis, en lae oliepryse die afgelope tien maande het die krisis net verder laat verdiep.

Na gewelddadige betogings in Oktober 2019 waarin 600 mense dood is, het die eerste minister, Adel Abdul-Mahdi, bedank. Sedert Mei verlede jaar is Mustafa al-Kadhimi die land se eerste minister. Hy is die beste staatshoof wat Irak in baie jare gehad het, maar hy het ook ʼn byna onmoontlike lys van uitdagings soos regeringskorrupsie, swak dienslewering, verkrummelde infrastruktuur, tekort aan vaardighede, lae ekonomiese groei, werkloosheid en groeiende armoede wat hy moet hanteer. Intussen het die olieprys (Irak se regering kry 60% van sy inkomste uit die verkoop van olie) skerp gedaal en het die Covid-19-pandemie verdere ekonomiese probleme geskep.

Die vraag is of Al-Kadhimi, wat ʼn gematigde leier is en goeie opleiding in verskeie Westerse lande ontvang het, en wat reeds herhaaldelik na Irak se Christen-gemeenskap uitgereik het, daarin gaan slaag om die frustrasie en woede van baie kiesers sodanig te hanteer dat hy nog ʼn kans sal kry om die werk voort te sit waarmee hy die afgelope maande begin het.

Iran

Nog ʼn belangrike verkiesing in die Midde-Ooste is dié in Iran op 18 Junie. Die gematigde president, Hassan Rouhani, se tweede termyn kom tot ʼn einde en hy mag nie weer vir die presidentskap staan nie.

Iran se ekonomie het die afgelope paar jaar groot skade gely, veral weens Amerikaanse sanksies, maar ook weens hoë inflasie en die pandemie.

Daar bestaan vrese in Westerse lande dat Iran vanjaar weer ʼn meer ekstreme Islamitiese staatshoof kan verkies in reaksie op die swaarkry en isolasie van die afgelope paar jaar.

Die een belangrike veranderlike is of Iran redelik vinnig ʼn kernooreenkoms met die Biden-administrasie in die VSA sal kan bereik en of die sanksies teen Iran betyds uitgefaseer kan word. Tans lyk dit egter of Iran eerder ʼn meer konserwatiewe staatshoof sal verkies, wat verhoudinge met Westerse lande verder sal bemoeilik.

Israel

Kiesers in Israel sal vir die vierde keer in twee jaar na die stembus moet gaan om parlementslede vir die Knesset te verkies. Dit volg nadat die koalisieregering tussen Benjamin Netanyahu en Benny Gantz tot ʼn val gekom het. Die verkiesing vind op 23 Maart plaas.

Groot onsekerheid heers oor die verkiesing wat oor sowat twee maande moet plaasvind. Terwyl Gantz baie steun verloor het toe hy ingestem het om by ʼn koalisieregering aan te sluit, is Netanyahu se uitdaging dat een van die sterkste figure in sy party, Gideon Saar, die Likoed-party verlaat het om sy eie party te vorm. Dié nuwe party vertoon reeds baie sterk in peilings.

Israel se vinnige inentingsprogram teen die koronavirus tel in Netanyahu se guns, maar ekonomiese uitdagings en ʼn korrupsiesaak teen hom tel weer teen die eerste minister. Die vraag is hoeveel kiesers deur Saar se nuwe party getrek sal word en watter leier die beste daarin gaan slaag om na die verkiesing ʼn nuwe koalisieregering saam te stel. Dit is duidelik dat onsekere tye in Israel se politiek voorlê.

Trump eerste VSA-president wat twee keer in staat van beskuldiging geplaas word

Pres. Donald Trump en sy vrou Melania Trump. (Foto: Alex Brandon/AP)

President Donald Trump het die afgelope week die eerste Amerikaanse president in die geskiedenis geword wat twee keer deur die huis van verteenwoordigers in ʼn staat van beskuldiging geplaas is. Alle Demokrate en tien Republikeine in die Huis het ten gunste hiervan gestem.

Hoewel dit nog glad nie beteken dat Trump aan enigiets skuldig bevind is nie, is dit wel vir Demokrate van groot simboliese waarde om ook op hierdie manier ʼn finale streep deur Trump se termyn as president te trek. Deur ʼn president in ʼn staat van beskuldiging te plaas, beteken slegs dat ʼn meerderheid van die lede van die huis van verteenwoordigers van mening is dat die president ʼn ernstige oortreding begaan het en dat ʼn verhoor in die senaat nodig is.

Slegs die senaat kan so ʼn klagte aanhoor, en na ʼn billike verhoor in die senaat, waar die hoofregter van die hooggeregshof voorsit, kan senatore stem om ʼn president skuldig te bevind of vry te skeld. Twee derdes van senatore (67 van die 100) moet ten gunste van skuldigbevinding stem om ʼn president suksesvol uit sy amp te laat verwyder. Dit het nog nooit in die Amerikaanse geskiedenis gebeur nie.

Die Republikeine sal tot volgende week die senaat beheer en geen verhoor sal voor dan plaasvind nie. Die verhoor sal dus begin nadat Joe Biden ingehuldig is. Hoewel president Trump dan reeds uitgetree het, is dit steeds moontlik om ʼn uitgetrede president te verhoor. Hoewel dit ook nog nooit in die verlede gebeur het nie, is twee regters al in 1861 en 1936 deur die senaat verhoor selfs nadat hulle hul poste ontruim het.

President Trump sal dus heel waarskynlik binne die volgende paar weke in die senaat verhoor word. Om skuldig bevind te word, sal al 50 Demokrate en minstens 17 Republikeine ten gunste van skuldigbevinding moet stem. Dit lyk tans asof tussen vyf en tien Republikeine saam met die Demokrate kan stem, maar dit lyk tans nog onwaarskynlik dat die Demokrate 17 Republikeine sal kan oortuig om hierdie stap te doen, aangesien dit ʼn groot impak op hul eie loopbane kan hê. Dit is egter nie onmoontlik nie en soos wat Trump se steun daal, ook onder Republikeine, kan meer Republikeine in die senaat wel oortuig word om ten gunste van skuldigbevinding te stem. Sou Trump skuldig bevind word, sal hy nie weer in die toekoms ʼn presidentskandidaat mag wees nie.

Wat kan ons van president Biden verwag?

ʼn Paar moeilike weke lê vir die nuwe Biden-administrasie in die VSA voor. Amerika is meer verdeeld as ooit sedert die einde van die Burgeroorlog in die 1860’s en dit lyk nie juis of die meeste verkose Demokrate die herstel van die kloof tussen konserwatiewe en liberale Amerika as ʼn prioriteit beskou nie. Regse betogers wat met Nazi’s vergelyk word, ʼn tweede poging om president Trump in ʼn staat van beskuldiging te plaas, en ʼn duidelik ambisieuse linkse agenda van Demokrate in die kongres gaan waarskynlik net tot groter vervreemding onder konserwatiewes aanleiding gee.

Buiten enorme interne spanning in die VSA is die land se demokrasie, sy politieke stelsel en verkiesings onder groot verdenking en bestaan vrese vir grootskaalse betogings en geweld volgende week wanneer Biden ingehuldig word. Die FBI het reeds gewaarsku dat groepe in al 50 deelstate betogings teen Biden beplan. Meer as 10 000 soldate is reeds na die Amerikaanse hoofstad ontplooi. Dit sal volgende week ʼn groter veiligheidspoging verg om die nuwe Amerikaanse president in te huldig as wat die afgelope tyd die geval was om staatshoofde in lande soos Irak en Afganistan veilig in te huldig.

Aangewese pres. Joe Biden. (Foto: Carolyn Kaster/AP)

Terwyl Biden en sy administrasie ʼn groot fout sou maak om die griewe, geldig of nie, van Trump-ondersteuners en konserwatiewe Amerikaners in die algemeen te ignoreer, bestaan daar enorme uitdagings wat onmiddellike aandag verlang. Die belangrikste is die pandemie wat tans meer as 4 000 lewens per dag in die VSA eis. Terwyl die VSA een van die voorlopers met die verspreiding van entstowwe teen die nuwe koronavirus is, is dit noodsaaklik dat meer Amerikaners vinniger ingeënt moet word ten einde so gou as moontlik kudde-immuniteit te verkry.

Die VSA het in Desember weer ʼn netto verlies aan werksgeleenthede gehad, wat beteken dat die ekonomiese herstel reeds tot stilstand geruk het en die pandemie waarskynlik besig is om weer tot werksverliese aanleiding te gee. Die ekonomiese uitdagings in die VSA is enorm. Terwyl Biden en sy administrasie dit met groot bestedingsplanne, insluitende nog ekonomiese stimiluspakkette, wil aanpak, is die Amerikaanse staatskuld steeds aan die toeneem. Die vraag is wanneer Biden gaan begin om belastingkoerse te verhoog, en wat kan of gaan hy doen om die land se begrotingstekorte en staatskuld aan te pak.

Wat buitelandse beleid betref, sal Biden waarskynlik op die VSA se hertoetrede tot die Parys-omgewingsakkoord fokus en Amerika se lidmaatskap van die Wêreldgesondheidsorganisasie herstel. Dit is egter die maklike dele. Ook redelik maklik is die normalisering van verhoudinge met Europese leiers.

Moeiliker is vrae oor ʼn handelsooreenkoms met die Verenigde Koninkryk, die VSA se verhouding met Rusland, die heronderhandeling van ʼn kernooreenkoms met Iran, die hantering van die geskil tussen Israel en die Palestyne, veral nadat die Trump-administrasie Israel se soewereiniteit oor verskeie betwiste gebiede in die Wesoewer en die Golan-hoogtes erken het. Tot watter mate gaan Biden eenvoudig Trump se buitelandse beleid probeer omkeer en tot konsternasie aanleiding gee?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Zacahara ·

En wat van SA se munisipale verkiesings wat veronderstel is om hierdie jaar plaas te vind?

Jaco ·

Ek kan nie glo daar lê ‘n paar moeilike weke vir Biden voor nie. Die Demokrate beheer die Withuis, die Huis van Verteenwoordigers en die Senaat. Hulle kan basies doen net wat hulle wil. So maak oop al die grense en laat onbeheerde onwettige immigrasie weer begin, en begin terselfdertyd met “defund the police”. Amerika gaan binnekort die wonderlikste “anything goes” land in die wêreld wees.
Met Biden se nuwe oop grense en sy groot liefde vir “human rights”, is dit eintlik nou die tyd vir Cyril Ramaphosa, wat nie van wit mense hou nie en hulle vir ongelykheid in SA blameer, om al SA se wit mense na Amerika te deporteer.

JohanR ·

Jammer Zacahara maar 2021 verkiesing in SA SAL NIE plaasvind. ANC sal seker maak daarvan, want hulle is soe ongewild op die oomblik, dat hulle blykbaar minder as 50% sal kry. Maar dit is nou eers Januarie en enige verkiesing word normaal weg in Mei maand gehou, soe weet nie wat se ekskuus, of lieg storie die ANC sal meer kom nie.

Jacobus ·

Moeg vir verkiesings wat elke dag meer korrup word. Die massale “stimulus” pakket van Biden is niks anders as afbetaling op verkiesing. “Freebees” word soos lucky packets beloof. Middelinkomste belastingbetaler Amerikaners gaan nog jare betaal vir hulle nuwe president.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.