Internasionale oorsig: VSA soos Sowjetunie stil-stil en druipstert uit Afganistan

Afghaniese sekerheidspersoneel hou wag tydens gewelddadige botsings met Taliban-vegters. (Foto: Javed Tanveer/ AFP)

Die geskiedenis het homself die afgelope week in Afganistan herhaal toe die Amerikaanse weermag stil-stil in die nag sy laaste personeel uit die Bagram-lugmagbasis, sowat ʼn uur se ry noord van die hoofstad, Kaboel, onttrek het. Nie eens die weermaghoof van Afganistan was bewus van dié finale onttrekking nie.

Die Bagram-lugmagbasis was twee dekades lank die tuiste van die Amerikaanse weermag in Afganistan, met tot soveel as 100 000 Amerikaanse soldate wat op een tydstip daar gestasioneer was. Die basis bestaan uit groot geboue insluitende kantore, slaapruimtes vir duisende soldate, ʼn hospitaal en ʼn tronk waarin daar steeds 5 000 gevangenes, meestal lede van die Taliban, aangehou word. Die Amerikaanse weermag het met sy vertrek meer as 100 voertuie en ʼn groot hoeveelheid toerusting agtergelaat.

Genl. Mir Asadullah Kohistani, die nuwe bevelvoerder in Bagram, het Maandag gesê dat die Amerikaners in die nag die basis verlaat het sonder om hom of enige van die Afgaanse soldate wat wagdiens gedoen het, van hul vertrek te verwittig. Kohistani het aan joernaliste gesê dat die Amerikaners druipstert uit die land is.

Terwyl die Taliban die afgelope paar dae sy aanslag in veral die noorde van die land opgeskerp het en beheer oor een distrik na die ander in hulle hande geval het, het kommer begin toeneem dat die Amerikaners se vertrek, net soos ná die onttrekking van die Sowjetunie in 1989, tot ʼn uiteindelike volle beheeroorname deur die Taliban aanleiding kan gee.

In Februarie 1989 is die Sowjetunie druipstert uit Afganistan ná nege jaar se bloedige oorlog teen die Mujahideen, ʼn fundamentalistiese Islamitiese groep wat die regering omver wou werp. Vir die VSA was Afganistan deel van sy stryd teen die Sowjetunie en daarom het die VSA, saam met Pakistan, Iran, Saoedi-Arabië, China en die Verenigde Koninkryk, die Mujahideen ondersteun.

Pres. Joe Biden tydens ‘n toespraak by die Withuis op 8 Julie, 2021. (Foto: Saul Loeb / AFP)

Tydens die nege jaar van oorlog vanaf 1980 tot 1989 is tot soveel as twee miljoen mense in Afganistan dood, met vyf miljoen burgers wat na Pakistan en Iran gevlug het. Ná die Sowjetunie se skielike onttrekking uit Afganistan het die land grootliks in ʼn burgeroorlog verval.

Mohammad Najibullah was van 1987 tot 1992 president van Afganistan. Kort voordat hy in 1992 deur die Mujahideen uit die kussings gelig is, het hy die Amerikaanse regering gewaarsku dat indien die Mujahideen, wat in die 1980’s deur die Amerikaners ondersteun is, beheer oor die land sou neem, die land ʼn teelaarde vir terreur sou word.

Die sowat drie miljoen vlugtelinge wat in Pakistan agtergebly het, is deur Islamitiese groepe daar met finansiële hulp uit die VSA onderrig. Hoewel hierdie mense meestal uit ʼn gematigde agtergrond gekom het, is hulle kinders in Pakistan volgens streng Islamitiese lering onderrig. Enige gematigde politieke en geloofsentimente is bestraf. Dit is hierdie jong mense wat uiteindelik in 1994 die Taliban opgerig het.

Teen 1996 het die Taliban met brute geweld beheer oor twee derdes van Afganistan verkry en is streng Sharia-wette oral ingestel. Dit sou die geval bly totdat die VSA in 2001 die Taliban ontsetel het.

Verskeie senior politici in Afganistan het vandeesweek gewaarsku dat dit net ʼn kwessie van tyd is voordat die Taliban beheer oor ʼn meerderheid van regeringdistrikte verkry en uiteindelik soos tussen 1996 en 2001 weer die land met ʼn ystervuis regeer. Soos wat die Sowjetunie in die 1980’s gedink het dat hy Afganistan kon red, het die VSA se goeie motiewe na tweede dekades van oorlog ook nou skipbreuk gely.

Die Amerikaanse regering wil steeds nie sy strategiese foute ten opsigte van sy historiese betrokkenheid in Afganistan erken nie. Sy steun aan die Mujahideen in die 1980’s was ʼn groot fout. Netso ook sy ondersteuning van fundamentalistiese groepe in Pakistan wat tot die ontstaan van die Taliban aanleiding gegee het.

Amerikaanse troepe in Afghanistan in 2009. (Foto: Manpreet Romana/ AFP)

Die afgelope week se hewige gevegte in die noordweste van die land, en in besonder in die streeksentrum van Qala-e-Naw, is die voorloper van ʼn volskaalse burgeroorlog. Pres. Joe Biden van die VSA het Donderdag wal gegooi en gesê dat die VSA wel sy doelwitte in Afganistan bereik het en dat dié land se burgers nou self vir hulle toekoms verantwoordelikheid moet neem.

Joernaliste in Afganistan sê dat gewone burgers en veral sake-eienaars vrees vir wat oor die volgende paar weke kan gebeur indien die Taliban sy opmars na die hoofstad Kaboel sou voortsit. Teen Vrydagoggend het die Taliban reeds byna 35% van die land se distrikte beheer. Die land se Sjiiete-minderheid, wat reeds jare lank voortdurend deur die Taliban en die Islamitiese Staat met terreuraanvalle geteiken word, vrees ook wat vir hulle voorlê, sou die Taliban Kaboel oorneem.

Terwyl Westerse lande nie hul foute in Afganistan sal erken nie, en veral nie die bydrae wil erken wat hulle tot die opkoms van Islamitiese terreurgroepe gelewer het nie, is die beste wat hulle nou kan doen om die regering en die weermag van Afganistan met finansiële bydraes, wapentuig, ammunisie en gevorderde verdedigingstegnologie by te staan. Dit was veral die Sowjetunie se onttrekking van finansiële steun in die vroeë 1990’s wat tot die Mujahideen se oorwinning aanleiding gegee het. Al wat nou nog ʼn oorname deur die Taliban kan keer is grootskaalse finansiële en ander ondersteuning aan die gebroke regering in Kaboel, en selfs dit hou geen waarborg vir sukses in nie.

Sahel-streek word Frankryk se Afganistan

Die Franse president se onlangse, onverwagse aankondiging dat hy die Franse weermag uit Afrika se Sahel-streek gaan onttrek, en daarmee Frankryk se jarelange stryd teen Islamitiese groepe in lande soos Mali, Mauritanië, Tsjad, Niger en Burkina Faso gaan beëindig, hou enorme veiligheidsbedreigings vir dié reeds konflikgeteisterde streek in.

In 2013 het pres. Emmanuel Macron se voorganger, François Hollande, Franse soldate na die noorde van Mali gestuur om Islamitiese terreurgroepe wat dié land se stabiliteit bedreig het, teen te werk. Hollande se besluit was in reaksie op ʼn versoek van die regering van Mali vir Franse hulp.

In 2014 is Operasie Barkhane amptelik in samewerking het die vyf Sahel-lande van stapel gestuur. Frankryk het 5 000 soldate by tien weermagbasisse in die streek ontplooi, met die uitsluitlike doel om verskeie Islamitiese terreurgroepe uit die streek te verdryf, hul infrastruktuur te verwoes en regerings in die streek by te staan om hulle eie soldate op te lei om die stryd teen terreurgroepe self aan te pak.

Hoewel die Franse kon verhoed dat groot dele van Mali en sy buurlande onder die beheer van hierdie groepe kom, kon hulle nie daarin slaag om die terreurgroepe uit te wis nie en is verskeie Al-Kaïda-geaffilieerde groepe soos Boko Haram vandag selfs sterker as in 2014.

Operasie Barkhane is die afgelope paar jaar teen ʼn koste van een miljoen euro per dag onderneem, waarby onder meer sewe Franse vegvliegtuie, 22 helikopters en honderde gepantserde voertuie betrokke is, wat tesame met 5 100 soldate van Frankryk en 18 000 soldate uit die vyf Sahel-lande die stryd teen die terreurgroepe moes voer.

Met meer as 20 ernstige terreuraanvalle wat sedert 2012 in Frankryk deur Islamitiese terreurgroepe uitgevoer is, was daar in 2014 met die loodsing van Operasie Barkhane wye steun vir ʼn veldtog om terreurgroepe in hulle plek van oorsprong aan te val en te probeer uitwis en teenwerk.

Sedertdien het dit egter duidelik geword dat die terreurgroepe in die Sahel ná elke aanslag deur die Franse net hergroepeer het en in baie gevalle in meer onherbergsame gebiede ingetrek het. Die Barkhane-vallei waarop daar die afgelope agt jaar gefokus is, strek oor ʼn gebied van meer as vyf miljoen vierkante kilometer, wat dit byna onmoontlik maak vir 5 000 soldate om die hele gebied te patrolleer.

Ander Westerse lande soos Kanada, Duitsland, Engeland en die VSA het ook by die operasie betrokke geraak, maar oor die afgelope jaar het dit toenemend duidelik geraak dat geen werklike vordering gemaak word nie. Die vyf Sahel-lande is ook van die mees onstabiele lande in Afrika.

Twee militêre staatsgrepe in Mali het dié land die afgelope tyd in ʼn groot politieke krisis gedompel. Op 18 April vanjaar is die president van Tsjad, Idriss Déby, deur terroriste vermoor. Ander lande in die streek, soos Burkina Faso en Niger, loop ook almal deur onder enorme politieke onstabiliteit.

Terwyl Macron, sedert hy vier jaar gelede tot president van Frankryk verkies is, nog altyd Frankryk se rol in Afrika, en veral in sy voormalige kolonies, wou hersien, is dit egter ook duidelik dat die Franse eenvoudig keelvol is vir die onbeholpenheid van die Sahel-vyf se regerings.

ʼn Kenner van die streek, Ayisha Osori, het onlangs aan die Financial Times gesê dat indien die Sahel-streek verder in duie sou stort, dit ʼn domino-effek gaan hê wat lande buite die streek tot aan die weskus van Afrika kan raak. Osori waarsku verder dat Frankryk se onttrekking tot groot aanslae deur terroristegroepe kan lei wat selfs tot hernude terreuraanvalle in Europa aanleiding kan gee.

Ten spyte van ʼn enorme poging deur Frankryk en sy bondgenote om die organisering van terreurgroepe in die Sahel te stuit, het dit grootliks misluk. Frankryk onttrek uit die gebied sonder ʼn oorwinning en laat die streek aan sy eie lot oor, wat soos met die VSA se onttrekking uit Afganistan, waarskynlik meer konflik, geweld en terreur voorspel.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Arthur ·

Kyk oor n jaar hoe word VSA gemis. Afghanistan soos Afrika, kan nie hulself suksesvol regeer nie.

Pieter ·

Oral waar die VSA betrokke is/was, neem terreurgroepe die regering oor. Suid Afrika is ‘n goeie voorbeeld. Duidelik is destabilisasie die oogmerk.

piet ·

Dis juis die teenoorgestelde, terreurgroepe neem oor as die VSA nie teenwoordig is nie. As die VSA nie betrokke was om terreur vas te vat nie sal dit ‘n bedreiging wees vir wereldvrede.

Frederik C ·

Ek kon nog nooit uitfigure wad Amerika daar soek nie !!

piet ·

As ‘n supermoondheid het hulle ‘n rol te speel om wereldvrede te handhaaf. Terrorisme sal heeltemal hand uit ruk as die VSA nie inmeng nie.

Andrew ·

En uit daai 1989 oorlog het amerika bin laden opgelei teen die russe en van wapens voorsien ook. Kyk hoe het dit vir hulle uitgedraai, 9/11.

Andrew ·

Ontrek, laat die mense oor aan hulle eie lot. Die mutilkultuur demokrasie experiement het gevaal reg oor die wêreld.

Boer ·

ñ Groot fout wat Joe Biden gemaak het om te ontrek. Daar is so baie onskuldige mense dood en op wrede maniere. Die Taliban is ñ groep terroriste wat net mooi niks voel Nie. Hulle beplan al klaar die volgende9/11. Ek persoonlik was daar in Bagram en in Kabul van 2006 tot 2007 en daai mense het regtig hulp nodig. Ek het dagliks gehoor hoe homme in daai stede ontplof. Dit is nie ñ lekker gevoel nie. “Groot fout Joe Biden”

Human ·

Biden het nie ‘n keuse gehad. Trump het ‘n ooreenkoms met Taliban en Afgan Regering onderteken dat VSA sal ontrek voor einde van die jaar.

Karel Kobus Kruger ·

Afghanistan kan miljarde uit toerisme verdien, met al daai mooi berge. Ek sal wat wil gee om in daai berge te kan gaan stap. As daar net vrede kan wees. Elke keer wat ek van daai land hoor, dink ek aan “Kiterunner” en “A thousand splendid suns”. Fantastiese boeke om te lees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.