Interpol se president word vermis

Interpol-president, Meng Hongwei (4 Julie 2017) (Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File)

Interpol het ʼn formele versoek aan China gerig vir inligting oor dié internasionale agentskap se president wat verdwyn het tydens ʼn reis op pad huis toe.

Die internasionale polisieagentskap, gebaseer in Lyon, Frankryk, het Saterdag in ʼn kort verklaring gesê hy het wetstoepasserskanale gebruik om die status van die vermiste Meng Hongwei te versoek.

“Die agentskap verwag ʼn amptelike reaksie van Chinese owerhede om kommer oor die president se welstand aan te spreek,” lui die verklaring.

China het nog nie kommentaar gelewer nie.

Meng se vrou het gesê sy het nog nie iets van hom gehoor sedert hy Lyon teen die einde van September verlaat het nie. Frankryk het ook sy eie ondersoek van stapel gestuur. Volgens Franse owerhede het Meng op ʼn vliegtuig geklim en in China aangekom, maar dit is nie duidelik waar die 64-jarige man homself tans bevind nie.

Meng is ook adjunkminister van openbare sekuriteit in China.

Interpol het vroeër gesê berigte oor Meng se verdwyning is “ʼn saak vir die betrokke owerhede in Frankryk en China”.

Die South China Morning Post, ʼn koerant in Hongkong, het gesuggereer dat Meng moontlik die teiken was van ʼn voortgesette veldtog teen korrupsie in China. Aldus die koerant is Meng “weggeneem vir ondervraging” deur “dissiplinêre owerhede” ná hy in die land aangekom het. Dié term word gewoonlik gebruik vir ondersoekbeamptes in die Kommunistiese Party wat politieke ontrouheid ondersoek. Die Sentrale Kommissie vir Dissiplinêre Inspeksie, die party se geheime interne ondersoekagentskap, het geen aankondiging op sy webwerf gehad oor Meng nie en was ook nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meng is die eerste uit sy land wat as Interpol se president dien, ʼn pos wat hoofsaaklik simbolies, maar groot in status is. Interpol se sekretaris-generaal is verantwoordelik vir die dag-tot-dag-sake van die agentskap se bedrywighede, so Meng se afwesigheid behoort nie enige operasionele impak te hê nie.

Die agentskap verbind polisiebeamptes van sy 192 ledestate met mekaar om Interpol te gebruik om ʼn voortvlugtige of ʼn vermiste persoon op te spoor. Die inligting word slegs op versoek van ʼn betrokke land aan die publiek bekend gemaak deur middel van ʼn “rooi kennisgewing”, die naaste aan ʼn internasionale lasbrief vir inhegtenisneming. “Geel kennisgewings” word uitgereik vir vermiste persone.

Meng is in 2016 as president van Interpol aangewys.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Ferdinand ·

Ha, as dit so 10 jaar gelede oor SA berig was, waar was ons nie vandag nie!

Siener van Melbourne ·

Dalk wil hy nie hê dat ons in “Meng” nie want hy kuier so paar dae by sy skelmpie.

Mimi ·

Dit is al dae bekend dat die man deur die Chinese regering aangehou word. Waarom nogsteeds die opskrif hou dat hy n “vermiste” man is?

amok ·

en om te dink hier by ons is daar amok as ons ‘n dokument verle

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.