Interpol waarsku oor fop- Covid-19-entstofnetwerk

Inhegtenisnemings in Suid-Afrika (Foto verskaf deur Interpol)

Suid-Afrikaanse owerhede het beslag gelê op honderde vervalste Covid-19-entstowwe ná ʼn internasionale kennisgewing deur Interpol uitgereik is met ʼn waarskuwing dat die entstowwe ʼn teiken kan word vir kriminele netwerke.

Ongeveer 400 ampules (gelykstaande aan sowat 2 400 dosisse) met die vervalste entstof is by ʼn pakhuis in Germiston, Gauteng, ontdek. Beamptes het ook beslag gelê op ʼn groot hoeveelheid vervalste 3M-maskers. Drie Chinese en ʼn man van Zambië is in hegtenis geneem, het Interpol in ʼn verklaring gesê.

Polisiebeamptes in China het ook ʼn netwerk geïdentifiseer wat vervalste Covid-19-entstowwe verkoop. ʼn Klopjag is uitgevoer op die vervaardigingsperseel en sowat 80 verdagtes is in hegtenis geneem. Daar is op die toneel beslag gelê op meer as 3 000 vervalste entstowwe.

Die ondersoek is ondersteun en gefasiliteer deur Interpol se Onwettige Goedere en Wêreldwye Gesondheidsprogram.

Die inhegtenisnemings kom weke ná Interpol ʼn oranje kennisgewing uitgereik het waarin wetstoepassers gewaarsku is om voor te berei op georganiseerde misdaadnetwerke wat Covid-19-entstowwe sal teiken – fisies en aanlyn. Die kennisgewing het ook besonderhede en foto’s bevat van egte entstowwe en goedgekeurde verskepingsmetodes wat deur farmaseutiese maatskappye verskaf is om beamptes te help om vervalste entstowwe te identifiseer.

Dit beklemtoon opnuut die unieke rol wat Interpol speel om wetstoepassing oor sy 194 lidlande heen te verseker wat betref misdaadneigings en die vinnige en veilige uitruil van inligting.

Oortjies van die seekoei

“Alhoewel ons dié uitslag verwelkom, is dit nog net die oortjies van die seekoei wat betref misdaad wat met Covid-19-entstof verband hou,” het Jürgen Stock, sekretaris-generaal van Interpol, gesê. “Ná ons waarskuwing dat misdadigers die verspreiding van Covid-19-entstof sal teiken, bied Interpol steeds sy volle ondersteuning aan nasionale owerhede om die gesondheid en veiligheid van hul burgers te beskerm.”

Brig. Vish Naidoo, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens, het intussen gesê sedert Covid-19 Suid-Afrika getref het, het die regering ʼn geïntegreerde multidissiplinêre wetstoepassingsbenadering gevolg. “Dit, tesame met ons verbintenis met ons eweknieë van alle Interpol-lidlande, is baie doeltreffend, soos wat ons gesien het met die inhegtenisnemings van uitlanders wat vervalste entstowwe aan niksvermoedende Suid-Afrikaners wou verkoop.”

ʼn Woordvoerder vir die Chinese ministerie van staatsveiligheid het gesê die Chinese regering heg waarde aan entstofsekuriteit. “Die Chinese polisie het ʼn geteikende veldtog van stapel gestuur om misdaad, wat met entstowwe verband hou, te voorkom en te vervolg.”

Volgens Interpol duur die ondersoeke voort en, buiten die inhegtenisnemings in Suid-Afrika en China, ontvang die organisasie ook klagtes van die verspreiding van vervalste entstowwe en slenters om instansies soos verpleeginrigtings te teiken.

“Interpol waarsku die publiek dat geen goedgekeurde entstowwe tans beskikbaar is vir verkope aanlyn nie. Enige entstowwe wat op webwerwe en die donkerweb te koop aangebied word, is nie wettig nie. Dit is nie getoets nie en kan gevaarlik wees. Enigiemand wat dié middels koop, stel hul eie lewens in gevaar en gee geld vir georganiseerde misdaad,” het Interpol bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Persheks Adri ·

Ek’s glad nie verbaas nie daar’s mos ‘n swart mark vir enige gemors in die land pffft. Daar gaan nóg wees êrens as die polisie net bietjie krap en werk maak van dit ook, maar ek twyfel erg. Hulle sal seker “share” vir lekker geld. Wonder of kopdoek ook iets van dit weet mmmmmm sy’s mos ‘n bakgat tannie in die tipe goed tsssk……..

Sarel ·

Natuurlik sal dit in SA wees… heel moontlik.nog land van
Oorsprong

Tanja ·

Suid Afrika is die veilige herberg vir Chinese, Nigireer, Zimbawiese en enige ander krimeneel

Anna ·

Suid-Afrika : Die land wat kriminele met ope arms verwelkom en omhels en beskerm.

Stefan ·

Waarskynlik ‘n ekstra inkomste lyn vir die ouens wat reeds onwettige sigarette verkoop.

Okmardom ·

Ons land is n grap met n pak klere aan….en al dra jy n goue ring.

Anna ·

Nou wonder mens, watter mark teiken hulle? Die desperate mense? Die dom mense?

Waarvan sou hierdie “entstof” gemaak wees?
Hoe gevaarlik is dit vir menslike gebruik?
Was daar al mense wat dit gekoop het en dalk gesterf het of ernstig siek geraak het?

Gevaarlike tye waarin ons onsself nou bevind. Die wolf gaan hierdie huise om blaas.

Samuel ·

‘n Mens het tog verwag dat daar korrupsie sal voorkom. Die ANC se korrupsie kom nog.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.