Inwoners, toeriste vlug ná aardbewing Bali tref

'n Kaart waarop die episentrum van die aardbewing aangedui word. Grafika: https://earthquake.usgs.gov

‘n Kaart waarop die episentrum van die aardbewing aangedui word. Grafika: https://earthquake.usgs.gov

Inwoners en toeriste van die Indonesiese eiland, Bali, het Woensdag uit hul huise en hotelle na hoër grond gevlug nadat ʼn aardbewing die eiland geskud het.

Volgens die Amerikaanse Geologiese Opname (USGS) het die aardbewing, wat 5,5 gemeet het, omstreeks 07:10 voorgekom. Die episentrum was ongeveer 2 km noordoos van Banjar Pasekan, ʼn dorp in die suidoostelike deel van Bali, teen ʼn diepte van 118km.

Die Indonisiese agentskap vir meteorologie, klimatologie en geofisika, het die aardbewing as 6,4 op die momentmagnitudeskaal gemeet, maar het gesê dit sal nie ʼn tsoenami veroorsaak nie, omdat die episentrum so diep was.

Hoewel die aardbewing paniek onder inwoners en toeriste veroorsaak het, was is geen sterftes of ernstige skade dadelik aangemeld nie. Volgens ooggetuies het bedrywighede op die eiland teruggekeer na normaal nadat inwoners SMS-boodskappe ontvang het dat geen tsoenami verwag word nie.

Indonesië is geneig tot seismiese ontwrigting weens sy ligging op die sogenaamde “Pasifiese Ring van Vuur”. In Desember 2004 het ʼn massiewe aardbewing naby Sumatra-eiland ʼn tsoenami veroorsaak, waarin 230 000 mense in 12 lande gesterf het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.