IOK bly verbind tot Tokio Spele ondanks koronavirus

Die nuwe Olimpiese Museum in Japan (Foto: AP Photo/Jae C. Hong)

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) bly verbind tot die Olimpiese Spele in Tokio vanjaar ondanks vrese rondom die uitbreking van die koronavirus.

Thomas Bach, president van die IOK, het Donderdag aan Japannese media gesê die IOK “is ten volle toegewy om ʼn suksesvolle Olimpiese Spele vanaf 24 Julie in Tokio aan te bied”, berig die Kyodo-nuusagentskap.

Bach het gesê hy sal “nie spekulasie aanvuur nie” op ʼn vraag of moontlike alternatiewe vir die Olimpiese Spele oorweeg word.

Japannese owerhede het Donderdag die agtste sterfgeval van Covid-19 aangemeld. Meer as 900 gevalle is reeds in die land bevestig, waaronder 705 van die passasierskip Diamond Princess.

Japan het Maandag alle laerskole, junio-hoër, en hoërskole gesluit in ʼn poging om die verspreiding van die nuwe koronavirus te beperk.

Philip Tierno Jr., professor in mikrobiologie en patologie aan die New York-universiteit, het intussen gesê die Olimpiese Spele “moet uitgestel word” indien die uitbreking voortduur.

Dit kom ná Japan sy eerste geval aangemeld het van ʼn persoon wat weer met die koronavirus besmet is ná sy vroeër gesond verklaar is. Die vrou, in haar 40’s, werk as ʼn toerbusgids en het Woensdag weer positief getoets vir Covid-19 toe sy oor ʼn seer keel en borspyn gekla het. Sy het aanvanklik laat in Januarie vir die eerste keer positief getoets met die nuwe koronavirus en is op 1 Februarie uit die hospitaal ontslaan.

Gesondheidskenners is besorg dat die siekte dus rustend kan bly ná ʼn oënskynlike herstel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Die verwagte besoekers getalle aan Tokio Spele mag dalks baie minder wees. Wonder hoe China se span ontvang sal word? Daar kan dalks kil houdings weens teen hul atlete, veral in gevalle soos stoei en boks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.