IPL: SA, ander lande spook om spelers uit Indië terug te kry

(Foto: TAUSEEF MUSTAFA/AFP)

Die krieketowerhede in onderskeidelik Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland en Engeland is besig met prosesse om hul spelers so gou as moontlik uit Indië te kry nadat die Indiese Premierliga (IPL) opgeskort is.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het gesê hy ondersteun die besluit om die gesondheid- en veiligheidsbelange van alle betrokkenes eerste te stel en dat hy in verbinding is met al die betrokke franchises om die spoedige terugkeer van Suid-Afrikaanse spelers en steunpersoneel te verseker.

“Diegene wat terug na Suid-Afrika reis, sal in kwarantyn geplaas word met hul terugkoms in ooreenstemming met die huidige aanbevelings van die Wêreldgesondheidsorganisasie,” het KSA gesê.

“KSA en die Suid-Afrikaanse Krieketspelersvereniging (Saca) is in verbinding met alle spelers en is verseker van hul veiligheid en gemak waar hulle hul bevind.”

Krieket Australië sê intussen daar is planne gereed om 38 spelers en personeel, onder wie Steve Smith, David Warner en Pat Cummins, binne die volgende dag of twee na die Maledive of Sri Lanka te vlieg. Australiese krieketspelers word tot minstens 15 Mei verbied om terug te keer huis toe nadat Canberra sy grense gesluit en gedreig het dat tronkstraf iemand wat vanuit Indië daar aankom in die gesig kan staar.

Michael Hussey, die Chennai Super Kings se kolfafrigter, sal nie deel wees van die groep nie aangesien hy Covid-19-positief getoets het en in isolasie moet bly.

Altesaam agt van Engeland se 11 spelers is reeds terug in Londen en Krieket Nieu-Seeland het gesê hy is besig om te reël dat sy toetsspelers na Brittanje vlieg voor volgende maand se kampioenskap daar. Brittanje laat tans net sy eie burgers toe om van Indië af huis toe te reis, maar ’n woordvoerder van Krieket Nieu-Seeland het gesê hulle is vol vertroue dat hulle vrystelling in die verband sal kry.

Die IPL, die wêreld se rykste T20-reeks, is Dinsdag opgeskort weens die vinnige toename in Covid-19-gevalle in Indië.

Nog twee krieketspelers, Amit Mishra en Wriddhiman Saha, het intussen ook Covid-19-positief getoets.

Indië, wat tot dusver meer as 20 miljoen infeksies en meer as 220 000 sterftes aangemeld het, is veronderstel om vanaf Oktober die T20-Wêreldbekertoernooi aan te bied.

Die IPL, wat baie van die wêreld se voorste krieketspelers, onder wie spelers van Australië, Engeland en Suid-Afrika lok, het vroeg in April begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Anoniem ·

Indië het reeds voor die IPL begin het onder erge Covid 19 deurgeloop, dus moes hulle dit kon voorsien het. Kon hulle nie al die spelers/beamptes vooraf inent nie, dan kon die toernooi mos voortgegaan het sonder enige risiko vir beide spelers en beamptes?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.