iPod laat hoor sy swanesang

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Apple het Dinsdag bekend gemaak dat hy nie meer iPods gaan vervaardig nie. Dié MP3-spelers sal dus slegs beskikbaar wees solank Apple se huidige voorraad hou.

Die toonaangewende iPod is in die vroeë 2000’s bekend gestel en het sedertdien verander hoe mense musiek koop. Dit het ook eindelik aanleiding gegee tot die immergewilde iPhone.

“Musiek was nog altyd deel van ons kernbedryf by Apple en om dit na honderde miljoene gebruikers te bring op die manier waarop die iPod het, het meer as net die musiekbedryf beïnvloed.

“Dit het ook maniere herdefinieer hoe musiek ontdek, geluister en gedeel word,” sê Greg Joswiak, Apple se bemarkingshoof.

Steve Jobs, in lewe die medestigter van Apple, het die iPod byna 21 jaar gelede bekend gestel en bemark as ’n toestel wat “ʼn verstommende 1 000 liedjies” kan stoor.

Apple het egter later toegegee dat sy iPhone ’n groot inpak op die verkope van iPod sou beteken. Dít omdat die neiging om te beweeg na musiekstroomdienste toestelle wat net ontwerp is om digitale deuntjies te stoor minder aanloklik vir verbruikers gemaak het.

Die Apple Music-intekeningdiens bied gebruikers vandag die opsie om tot meer as 90 miljoen liedjies af te laai en te stoor.

“Sedert sy bekendstelling meer as 20 jaar gelede het iPod gebruikers regoor die wêreld bekoor wat daarvan hou om hul musiek saam met hulle op die pad te neem. Vandag is die ervaring om ʼn mens se musiekbiblioteek die wêreld in te neem geïntegreer oor Apple se produkreeks – van iPhone en Apple Watch tot iPad en Mac,” verduidelik Joswiak.

Talle sosialemediagebruikers het intussen nostalgies op die nuus oor die eens gewilde iPod gereageer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eclectus ·

Vir ‘n “hardcore” gebruiker soos ek is hierdie sommer hart in die skoene nuus, ek is al op my derde een. Pottie en Flippie (my iPod en JBL Flip 5 luidspreker) is my konstante meelopers in die dag want ek kan nie sonder my musiek nie. Pottie het amper 7 000 liedjies op en dit groei elke week. Ek verkies om my musiek te koop, hierdie stroomdienste staan my nie aan nie. Die kunstenaars word ook erg deur die stroomdienste verkul. Gene Simmons het onlangs vertel ‘n liedjie van sy dogter het ‘n miljoen trefslae gehad en sy het ‘n skamele $200 ontvang.

Kirst ·

Ek het ook lank geskop teen die stromingsdienste, maar het op die ou end ingegee omdat Apple Music baie kinderstories het (en ek twee kinders van 7 en 5). Ek gebruik steeds in my kar ‘n iPod wat deur ‘n Parrot toestel deur my karradio musiek speel (ek het ‘n 2007 model so dit het nie al die nuwe tegnologie nie). In my kantoor gebruik ek ook ‘n iPod om musiek te luister. Ek dink egter mens moet gereed maak dat iTunes binnekort net stroming gaan toelaat. Op Mac rekenaars werk dit reeds so. Hulle hou op om ouer toestelle te ondersteun sodat hulle nuwes kan verkoop, en aanhou geld maak uit stroming. Want as jy nie meer jou maandelikse fooi betaal nie verdwyn jou musiek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.