Irak, Libanon ruil olie vir mediese dienste

ʼn Uitgerafelde Libanese vlag hang in Jounieh, noord van die hoofstad (15 Junie 2021) (Foto: Joseph Eid/AFP)

Irak sal Libanon met een miljoen ton brandstofolie vir sy kragaanlegte voorsien in ruil vir mediese dienste, kragtens ʼn ooreenkoms wat Saterdag in Bagdad onderteken is.

Albei lande gaan gebuk onder erge elektrisiteitskrisisse met kragonderbrekings wat ʼn impak het op hospitale.

Volgens ʼn persverklaring deur die owerhede in Irak sal Libanon een miljoen ton olie ontvang “in ruil vir goedere en dienste”.

Raymond Ghajar, minister van energie in Libanon, het gesê kragtens die ooreenkoms kan Électricité du Liban (EDL) oor ʼn tydperk van ʼn jaar een miljoen ton olie van Irak bekom.

Die olie kan egter nie direk deur Libanon se kragaanlegte gebruik word nie, so Beiroet sal steeds brandstof, wat met sy aanlegte versoenbaar is, van ander verskaffers moet aankoop wat dan die olie van Irak in ruil daarvoor sal ontvang, het Ghajar verduidelik.

“Die meganisme is bietjie ingewikkeld,” het hy tydens ʼn perskonferensie by die Beiroet-lughawe gesê toe hy van Bagdad af teruggekeer het. Die ooreenkoms dek ʼn derde van EDL se brandstofbehoeftes. Hy hoop dat EDL “daagliks sowat nege of tien ure lank elektrisiteit sal kan verskaf oor vier maande”.

Libanon sal in ruil dienste en bystand aan Irak lewer in die hospitaalbedryf. Te midde van ʼn finansiële en ekonomiese krisis, sukkel die land om brandstof vir sy kragaanlegte aan te koop. Kragonderbrekings van tot 22 uur per dag geld in sommige gebiede.

Gesondheidsdienste, wat reeds sukkel met tekorte aan medikasie en ʼn uittog van personeel na ander lande, moet ook probeer oorleef met die byna permanente kragonderbrekings.

Irak is die tweede grootste vervaardiger in die Opul (Organisasie van Petroleumuitvoerlande)-oliekartel, maar dekades van konflik, swak instandhouding en grootskaalse korrupsie het die land se elektrisiteitsbedryf geknou. Irak se gesondheidsinfrastruktuur is in ʼn gehawende toestand en korrupsie het belegging in staatsdienste gekortwiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Blomme

Hartseer dat lande met sulke ryk hulpbronne lei onder swak bestuur.

Pietertjie

Ek wonder wat gaan óns eendag moet ruil vir kos en water…