Iran: Inhegtenisnemings ná straler neergeskiet is

Wrakstukke Woensdag suidwes van Tehran, Iran. (Foto: Ebrahim Noroozi, AP)

Iran het Dinsdag bevestig dat hy “enkele individue” in hegtenis geneem het in verband met die Oekraïense straler wat verlede week per ongeluk in dié land neergeskiet is.

Gholamhossein Esmaili, ʼn woordvoerder van Iran se regbank, het gesê die inhegtenisnemings is oor die afgelope drie dae gemaak nadat ʼn uitgebreide ondersoek na die voorval van stapel gestuur is.

Esmaili het egter nie gesê hoeveel mense in hegtenis geneem is of enige besonderhede rakende hul identiteit bekend gemaak nie.

Maroela Media het vroeër berig Iran het Saterdag eindelik erken dat sy weermag die straler per ongeluk neergeskiet het. Dít nadat die Irannese regering dit dae lank ontken het.

Die vliegtuig is vroeg Woensdag neergeskiet, enkele ure nadat Iran ʼn missielaanval op twee weermagbasisse met Amerikaanse troepe in Irak uitgevoer het. Die aanval was uit weerwraak vir die dood van genl.maj. Kassem Soleimani in ʼn Amerikaans geleide lugaanval in Bagdad.

Wrakstukke lê verlede week besaai oor ‘n stuk veld aan die buitewyke van Teheran. (Foto: Ebrahim Noroozi/AP)

Al 176 mense aan boord van die straler is in die voorval dood.

Talle betogers het enkele dae nadat die straler neergestort het die strate van verskeie stede waaronder Teheran ingevaar en die Irannese president, Hassan Rouhani, versoek om ʼn ondersoek na die voorval te doen.

“Ons mense weet dat hierdie ongeluk die gevolg van ʼn fout was, maar wie was betrokke en watter omstandighede het tot die ongeluk gelei?” het Rouhani beskuldigend teenoor Amerika gesê.

“Al die oorsake van die voorval moet aangeraak word. Dit is nie net die een wat op die knoppie gedruk het nie, daar is nog ander skuldiges ook, en ek wil hê dat hierdie saak eerlik aan mense verduidelik moet word.”

Dit wil ook voorkom asof Rouhani die vinger na militêre leiers wys wat dae lank gewag het voordat hulle eindelik erken het dat die vliegtuig neergeskiet is.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

3 Kommentare

Ig ·

En die Anc is nou tjoepstil. Hulle sal glad nie n woord rep oor die oorledenes in die vliegtuig wat afgeskiet is nie. Huigelaars.

George ·

Wonder hoe die berig sou lees as dit Amerika was wat so iets gedoen het?????

Jacobus ·

Laat ons vir ‘n oomblik dink aan die Irannese soldate en hulle families wat net ‘n opdrag uitgevoer het wat nou gaan boet vir die besluit van hoër gesag.

Onthou, hulle kan verseker wees dat hulle tereggestel gaan word en nie die ware leiers wat die opdrag gegee het nie.

Soos in Suid Afrika gaan die geleentheid gebruik word om van oponente ontslae te raak.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 19:30 en 06:00.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.