Iran: Spanning tussen aartsvyande verhoog

‘n Israelse vlag wapper in Jerusalem. (Foto: Ahmad Gharabli/AFP)

Ontploffings het Iran se sentrale Isfahan-provinsie Vrydag geruk, het staatsmedia berig, terwyl Amerikaanse amptenare aan die media gesê het dat Israel ʼn aanval in weerwraak op die Islamitiese republiek uitgevoer het.

Die aanval volg net minder as ʼn week nadat Teheran ʼn vlaag van meer as 300 hommeltuie en missiele afgevuur het in sy eerste aanval ooit op Israelse grondgebied. Die ongekende aanslag was op sigself ʼn berisping vir ʼn vroeër aanval in Sirië waarvoor die skuld wyd op Israel gepak is.

Die internasionale gemeenskap het gevra vir weldeurdagte optrede terwyl die toenemende teenaanvalle tussen die aartsvyande toeneem. Hulle het ook ʼn beroep op albei kampe gedoen om nie toe te laat dat spanning oor die konflik in Gaza in ʼn veel wyer streekskonflik ontaard nie.

Wat is getref?

Vroeg Vrydag het Iran se Fars-nuusagentskap berig oor “drie ontploffings” wat gehoor is naby die Shekari-weermagbasis in die noordweste van die Isfahan-provinsie.

Die woordvoerder van Iran se ruimteagentskap, Hossein Dalirian, het gesê verskeie hommeltuie is neergeskiet en daar was “vir eers geen missielaanval” nie.

ʼn Ongenoemde Amerikaanse amptenaar het aan CNN gesê die teiken van die Israelse aanval in Iran was nie op hul kernkapasiteit gemik nie.

Iran se Tansim-nuusagentskap het ook berig die “kernfasiliteite in die Isfahan-provinsie is heeltemal veilig”.

Tasnim het ook berig volgens ingeligte bronne het Iran ontken dat die aanval van buite die land van stapel gestuur is.

Ontploffings is ook in die suide van Sirië aangemeld, het ʼn plaaslike aktivistegroep aangevoer.

Hoe het Iran reageer?

Die Amerikaanse ambassade in Jerusalem. (Foto: Ronaldo Schemidt/AFP)

Lugafweerstelsels in verskeie Iranse stede is geaktiveer, het staatsmedia berig.

Vlugte na Teheran, Isfahan en Shiraz is opgeskort, asook na verskeie ander lughawens landwyd, het die Mehr-nuusagentskap berig.

Sagteware wat vlugte monitor, het gewys hoe kommersiële vlugte die weste van Iran vermy, ook Isfahan, en om Teheran na die noorde en ooste vlieg.

ʼn Vliegtuig van flydubai het reeds na Teheran vertrek en moes terugkeer nadat die lughawe in die Iranse hoofstad gesluit is, het die Emirati-redery luidens ʼn verklaring gesê.

Vrydagoggend het ʼn Iranse TV-nuuskanaal ʼn regstreekse uitsending gehad van gewone verkeersvloei by ʼn sirkel in Isfahan, terwyl die amptelike IRNA-nuusagentskap berig het “geen groot skade” is ná die ontploffings aangemeld nie.

Hoekom nou?

Iran-gesteunde gewapende groepe in die streek het aanvalle op Israel uitgevoer sedert die oorlog in Gaza in Oktober uitgebreek het.

Libanon se Hezbollah en die Palestynse militantegroep Hamas word deur Iran gesteun.

Die onlangse en direkte Israel-Iran-skermutselings is egter nou in ongekende waters.

In reaksie op ʼn dodelike aanval op die Iranse konsulaat in Damaskus op 1 April – ʼn aanval waarvoor Israel die skuld gekry het – het Teheran honderde missiele en hommeltuie op sy aartsvyand losgelaat.

Israel het onderneem om weerwraak te neem vir die aanval wat op ʼn Saterdag uitgevoer is. Israel het die aanval grootliks afgeweer en geen sterftes is aangemeld nie.

Net ure voor die ontploffings Vrydag in Iran gehoor is, het die minister van buitelandse sake gewaarsku dat Israel enige aanval op sy land sal “berou”.

Hossein Amir-Abdollahian, Iran se minister van buitelandse sake, het by ʼn vergadering van die Verenigde Nasies (VN) se veiligheidsraad die Islamitiese land se naweekaanval as ʼn “regmatige verdediging” bestempel en gesê Israel behoort “enige verdere militêre avonture te staak”.

Wat was die reaksie?

Israel se weermag het vroeg Vrydag gesê hy het “in hierdie stadium geen kommentaar nie” toe hy gevra is oor berigte van ontploffings en aanvalle in Iran en Sirië.

Daar was ook geen onmiddellike reaksie van die Withuis of die Pentagon nie.

Verskeie Amerikaanse nuusagentskappe het berig dat Washington vooraf gewaarsku is oor Israel se aanvalle, maar dat die VSA nie sy steun aan die operasie gegee het of enigsins daarby betrokke was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Israel toets die water om te sien hoe wakker Iran is en tot hoe vêr hulle kan binnedring, dieselfde as wat Iran vroeër gedoen het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.