Iran verwelkom VSA se onttrekking aan kernooreenkoms

Pres. Donald Trump lewer sy toespraak by die Withuis (8 Mei 2018). Foto: Evan Vucci/AP

Iran het pres. Donald Trump se besluit om die VSA te onttrek aan ʼn ooreenkoms oor Iran se kernprogram verwelkom en gesê dit was van die begin af duidelik dat die Amerikaners “nie betroubaar is nie”.

Genl. Mohammad Ali Jafari, hoof van Iran se Revolusionêre Wag, het gesê die VSA se onttrekking aan die ooreenkoms sal geen impak hê nie. Jafari het voorspel dat die Europese Unie, wat die onttrekking teengestaan het, uiteindelik die VSA se voorbeeld sal volg wat beteken dat “die lot van die ooreenkoms duidelik is”.

Trump het Dinsdag tydens ʼn toespraak, wat op televisie gebeeldsaai is, in die Withuis aangekondig dat hy voortgaan met sy planne wat hy tydens sy presidensiële veldtog aangekondig het om hom aan die kernooreenkoms te onttrek.

Hy het gesê hy sal die hoogste vlak van sanksies weer teen Iran instel en het ander lande gewaarsku om nie te probeer om die Iranse regering te help nie.

Iran het in 2015 ingevolge die ooreenkoms ingestem om sy kernaktiwiteite af te skaal en internasionale inspekteurs in die land toe te laat indien die streng ekonomiese sanksies teen die land opgehef word.

Trump het gesê indien hy toelaat dat die kernooreenkoms voortgaan, sal daar binnekort ʼn kernwapenwedloop ontstaan. Hy het ook gesê ʼn konstruktiewe ooreenkoms kon destyds aangegaan geword het, maar dit is nie gedoen nie. Hy het gesê dié kernooreenkoms is “in wese gebrekkig”.

Trump het Iran as ʼn “regime van groot terreur” bestempel. “Geen stappe wat deur die regime gedoen is, was nog gevaarliker as sy najaag van kernwapens en die middele om dit te lewer nie.”

Volgens Trump sal die VSA “nie as gyselaar gehou word deur kernafpersing nie” en sal die land nie toelaat dat ʼn regime “wat ‘Death to America’ dreunsing” toegang tot kernwapens kry nie. Trump het gesê hy het die besluit geneem nadat hy met Amerikaanse bondgenote gepraat het.

Saoedi-Arabië het intussen gesê hy “ondersteun en verwelkom” Trump se besluit om hom aan die ooreenkoms te onttrek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Gerhard ·

Die boodskap aan Kim Jong-un; vergeet van afpersing. Lyk tog of Trump slimmer is as wat die media hom uitmaak.

Verwelkom ·

Nee maroela media julle sit die pot mis Iran het Amerika gedreig as hulle onttrekk sal iets met hulle gebeur wat hulle nooit sal vergeet .Hulle baie ongelukkig oor dat hulle onttrek het.

andre ·

Donald Trump is VSA se Zuma…
Die VSA maak wereld wyd vyande…eendag gaan hul te ver gaan…

snoefie ·

jy is so reg andre. daar het ou trump se vrou (gaap) alweer plagiaat gepleeg. laat my ook aan zuma en syne dink. wat het die amerikaners besiel om vir hom te stem?

Pieter Schoombee ·

Gert, dis die ernstigste belediging wat genl. de La Rey nog ooit toegesnou is.

PJC ·

Ek dink nie Iran het vir een oomblik hul kernprogram gestaak soos wat ooreengekom is nie. Obama het geweet Iran kan nie vertrou word nie maar het net voort geploeter soos met die immigrante kwessie. Ek dink ook Israel het ń groot aandeel in hierdie besluit en hulle wil bitter graag Iran se kerninstalasies aanval en vernietig want hulle weet Donald Trump gaan hulle steun. Sou dit gebeur kan dit tot groot onstabiliteit in die middeooste ly maar vir Israel gaan dit om oorlewing. Iran maak immers geen geheim daarvan waarvoor hulle kernwapens wil hě nie.

Nel ·

Maar natuurlik sal Trump vyande hê – Churchill het net so baie gehad, indien nie meer nie : “You have enemies? Good. That means you’ve stood up for something, sometime in your life.” – Winston Churchill

anton ·

Ag nee snoefie/andre……..duidelik weet jul nie baie wat in Amerika aangaan nie.
Seker kyk jul net CNN en eet alles wat daar gese word vir soetkoek op.

Nel ·

Die feit dat daar mense is wat nie weet wat daar aangaan nie is te wyte aan ons liberale perskorps wat saam in die CNN koor sing.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.