Iran ‘wil nie onderhandel’ oor Amerikaanse sanksies

President Donald Trump (Foto: AP Photo/Evan Vucci, File)

Iran se minister van buitelandse sake het die afgelope naweek gesê die land sal nie met die Amerikaanse president, Donald Trump, onderhandel oor sy voorneme om van vandag af weer streng sanksies op Iran toe te pas nie, aangesien hy “sy verpligtinge verbreek het”.

Minister Bahram Qasemi het gesê indien die VSA wil onderhandel, moet hy sy druk en sanksies op Iran staak.

Die IRNA-nuusagentskap berig Qasemi het gesê daar kan nie onder die huidige omstandighede onderhandel word nie. Hy het bygevoeg die Iranse volk sal teenstand bied teen die druk waaronder hulle geplaas word en sal uiteindelik seëvier. Qasemi het ook die moontlikheid van ʼn oorlog tussen Teheran en Washington verwerp en gesê geen land kan in die huidige klimaat dié tipe sanksies uitvoer nie.

Die minister se reaksie kom nadat die VSA besluit het om van vandag af weer sanksies teen Iran in te stel en om sekondêre sanksies op te lê teenoor lande wat saketransaksies met Iran doen. Dit kom nadat Trump in Mei besluit het dat die VSA sal onttrek aan die gesamentlike omvattende plan van aksie, ook bekend as die Iran-ooreenkoms, wat verband hou met Iran se kernprogram.

Iran het in 2015 ingevolge dié ooreenkoms ingestem om sy kernaktiwiteite af te skaal en internasionale inspekteurs in die land toe te laat indien die streng ekonomiese sanksies teen die land opgehef word. Trump het egter in Mei van die ooreenkoms onttrek en gesê hy sal die hoogste vlak van sanksies weer teen Iran instel. Hy het ander lande gewaarsku om nie die Iranse regering te probeer help nie.

Qasemi het Saterdag gesê die Iranse regering verwag van Europese lande om na vore te kom met ʼn praktiese pakket van voorstelle om die Iran-ooreenkoms te red. Iran wil waarborge van Europa hê dat samewerking in bankwese en beleggings in Iran se olievelde steeds gehandhaaf sal word, asook dat samewerking tussen mediumgrootte ondernemings in Iran en Europa sal voortgaan.

Intussen het Yisrael Katz, Israel se minister van intelligensie en vervoer, gesê die VSA se sanksies op Iran sal Iran se regering dwing om gehoor te gee aan die VSA se eise rondom sy kernwapenprogram en streeksaktiwiteite of die land kan totale ineenstorting in die gesig staar.

“Die Amerikaanse sanksies op Iran, wat vandag begin, sal die Iraniërs dwing om te kies tussen gehoor gee aan die VSA se eise óf die risiko te neem dat die regime heeltemal in duie kan stort,” het Katz op Twitter gesê. “Die eerste moontlikheid is goed; die tweede een is uitstekend.”

Benjamin Netanyahu, Israel se eerste minister, was een van ʼn handjievol wêreldleiers wat Trump gesteun het in sy besluit om van die Iran-ooreenkoms te onttrek. Israel het gesê die ooreenkoms verhoed nie ʼn Iranse kernwapenprogram op die langtermyn nie en bemagtig Teheran om militante groepe rondom die Midde Ooste te befonds terwyl Iran se ballistiese missielprogram nie beperk word nie.

Ondersteuners van die ooreenkoms voer egter aan die ooreenkoms het verreikende inspeksies en verifikasie van Iran se kernwapenprogram tot gevolg gehad en Iran het nog deurentyd gehoor gegee aan die ooreenkoms.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cherokee ·

Nie dat ek dit afkeur in Trump se geval nie maar hy is werklik ‘n poppemeester wat toutjies trek om die poppe te laat dans soos hy dit wil hê. Vroeër jare was die groot moondhede hoofsaaklik Amerika en Rusland maar laasgenoemde se plek blyk ingeneem te wees deur Sjina. Die artikel is nie duidelik oor wat presies Donald Trump laat onttrek het uit die ooreenkoms met Iran nie maar waarskynlik sou hy goed genoeg rede gehad het daartoe.

Arak ·

Oor die algemeen hou ek van Trump, maar ek is van mening dat die werklike poppemeesters in Tel Aviv sit, met Trump bloot die pop wat sy vuis in die lug swaai. Onthou hoe Amerika elke nou en dan vir Sirië aangeval het in reaksie op sogenaamde “chemiese wapen aanvalle” deur Asad (wyd versprei deur die valse media), ten spyte van enige bewyse. As dit by Israel en hulle belange kom, is Trump blind.

Callie ·

Ten minste doen Trump wat reg en goed vir sy land is. In SA doen die Pres wat hy kan om die land verder te vernietig

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.