Daar is nog nie genoeg vordering in Wenen, Oostenryk, tussen Iran en die vyf vaste lede van die VN-veiligheidsraad, plus Duitsland nie. Indien ’n ooreenkoms bereik sou kon word, sal internasionale sanksies teen Iran opgehef word. Iran hou vol dat sy kernverrykingsprogram slegs vir vreedsame doeleindes aangewend sal word. Israel werk hard daaraan om die wêreld te oortuig dat Iran kernwapens in die oog het wat Israel se voortbestaan sal bedreig.
Intussen het Hizbollah, die Libanese terreurorganisasie en bondgenoot van Iran, gespog dat hy nou oor presisie-missiele beskik wat met ongelooflike akkuraatheid en met ‘n half ton plofstof, teikens in Tel Aviv kan tref. Dié missiele sou hy van Iran bekom het. Die nuus sal nie help om Iran se geloofwaardigheid as onderhandelingsgenoot te versterk nie.
Intussen kom die Organisasie van Olie-uitvoerlande, Opul, Donderdag byeen om te besin of die lidlande olieproduksie op die huidige vlakke gaan hou, of gaan inperk om die internasionale olieprys weer te laat styg.
Saoedi-Arabië en Koeweit lei die groep wat die huidige produksie wil handhaaf, terwyl Iran en Venezuela produksie wil inkort.
Bronne: Yahoo News (hier), Trouw (hier), RSG