IS-militante uit Mosambiek verjaag, sê president

Filipe Nyusi (Foto: Kremlin.ru via Wikimedia Commons)

Mosambiek se president Filipe Nyusi het Woensdag gesê rebelle van die Islamitiese Staat is uit Palma gedwing, ʼn noordelike dorp wat verlede maand onder aanvalle deurgeloop het en waartydens talle gesterf en duisende uit hul huise moes vlug.

In sy eerste noemenswaardige openbare kommentaar oor die aanval het Nyusi gesê “die terroriste is uit Palma verjaag”, maar bygevoeg: “Ons verklaar nie ʼn oorwinning nie, want ons stryd is teen terrorisme.”

Nyusi het op die vooraand van ʼn streeksberaad oor die krisis gesê sy regering het hulp versoek, maar nie verdere besonderhede verskaf nie.

“Ons regering het reeds sy behoeftes aan die internasionale gemeenskap bekendgemaak om terrorisme te hanteer. Die internasionale ondersteuning word oorweeg,” het hy gesê. “Diegene wat van buite af kom sal ons nie vervang nie. Hulle sal kom om ons te ondersteun. Dit is nie oor leë trots nie, dit is oor ʼn sin van soewereiniteit.”

Rebelle het Palma, ʼn kusdorp naby aan ʼn multi-miljard dollar gasaanleg (LNG), beset ná ʼn gekoördineerde aanval wat op 24 Maart geloods is. Hulle het ʼn hospitaal geplunder en banke en ʼn staatsaanklaer se kantoor aan die brand gesteek, het staatsmedia TVM oor die naweek gesê.

Talle het tydens die aanval gesterf en die VN se vlugtelinge-agentskap het gesê meer as 11 000 moes vlug. Burgers het dae lank deur die woud geloop met baie min kos en water voor hulle by naburige distrikte aangekom het en hulle humanitêre bystand kon ontvang. Honderde burgers het ook die grens oorgesteek na Tanzanië, maar hulle is gedwing om terug te keer.

Die Franse energiereus Total het intussen al sy personeel van die gasaanleg onttrek.

Ses suidelike Afrika-presidente sal na verwagting Donderdag in Maputo vergader vir noodgesprekke oor die krisis en maatreëls “om terrorisme te takel”.

Die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) het Dinsdag aangekondig die presidente van Mosambiek, Malawi, Tanzanië, Botswana, Suid-Afrika en Zimbabwe sal die beraad bywoon. Maroela Media het vroeër berig die minister van verdediging en militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, asook die minister van staatsveiligheid, Ayanda Dlodlo, sal pres. Cyril Ramaphosa vergesel.

Die aanval is die jongste in ʼn rits van meer as 830 djihad-aanvalle op Mosambiek se afgeleë Cabo Delgado-provinsie sedert 2017. Na raming is meer as 2 600 mense is dood en meer as 750 000 moes vlug.

Nyusi het weer sy aanbod van amnestie herhaal aan Mosambiekers wat by die djihad-beweging aangesluit het. “Ons doen ʼn beroep op diegene wat die pad byster geraak en by die terroriste aangesluit het, om terug te keer. Ons is gereed om julle te ontvang en julle weer in die samelewing op te neem,” het hy gesê.

Cabo Delgado se djihad-beweging is ʼn skadugroep wat slegs as al-Sjabaab bekendstaan. Daar is, sover bekend, geen verbintenis met die Somali-militante met dieselfde naam nie. Hulle het in 2018 hul lojaliteit aan die sogenaamde IS verklaar en het ten doel om ʼn kalifaat in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Charles ·

Jy jaag hulle nie weg nie, jy soek hulle, kry hulle en dan handel jy die probleem af.

Realis Thailand ·

As enige persoon die glo dan glo jy ook in Vader Krismis en feeverhale
Die klomp gaan nog groot moeilikheid maak en is een van diedae op die SA grens en dan wie gaan sa verdedig.Die paar honder generaals wie oorgewig is en in hulle kantore sit

Cherokee ·

Realis, wees nou ‘n realis, asseblief! Dit neig te klink asof jy openlik beweer daar is nie ‘n Vader Krismis nie! Dat skoorstene bloot vir rook is. Jy sal moet verduidelik wie al die geskenke bring!

Persheks Adri ·

Skerp Cherokee dankie vir die lag! Ons moet darem lag ook

Johan ·

….ek weet nou va 2 weermagte op moeder aardbol wat nie 120 terroriste kan konfronteer nie,en een is Vatikaan,die ander een …raai….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.