Isis glo verantwoordelik vir selfmoordbomaanvalle

Mense drom in die middestad van Tunis saam na een van gister se selfmoordbomontploffings in die Tunisiese hoofstad. (Foto: Riadh Dridi/AP)

Tunisië se bejaarde president, Beji Caid Essebi, is na ʼn hospitaal gehaas nadat hy Donderdag “ernstig siek” geword het.

Die nuus oor sy siekte het rugbaar geword kort ná die Islamitiese Staat (IS, ook bekend as Isis) verantwoordelikheid aanvaar het vir gister se twee selfmoordbomaanvalle in die hoofstad Tunis, wat veiligheidsmagte geteiken het. ʼn Polisiebeampte is dood en verskeie ander mense gewond.

Isis het verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar deur sy nuusagentskap Aamaq, maar dit is onduidelik of dit ʼn bloot opportunistiese bewering is.

Die Tunisiese presidensie het laat gisteraand gesê die 92-jarige president is in ʼn “bestendige toestand”, nadat hy in ʼn militêre hospitaal in Tunis opgeneem is. Hy is minder as ʼn week gelede uit die hospitaal ontslaan ná ʼn vorige siekte.

Essebi, wat in 2014 ná Tunisië se eerste demokratiese verkiesing aan bewind gekom het, het met onlangse openbare verskynings swak gelyk.

Donderdag se eerste selfmoordbom het naby ʼn polisiepatrolliestasie in die middestad plaasgevind. ʼn Polisielid is in dié aanval dood, en drie ander beamptes, asook drie burgerlikes, is gewond. Die tweede ontploffing was gemik op die ingang na die basis van ʼn teenterreurbrigade aan die buitewyke van die stad. Vier polisielede is in dié ontploffing gewond.

Isis, wat kort ná die ontploffings verantwoordelikheid vir die aanvalle aanvaar het, was ook verantwoordelik vir twee ander van Tunisië se dodelikste aanvalle. Dit sluit in die een in Maart 2015, toe Tunis se Bardo-museum geteiken is en 22 mense omgekom het. Drie maande later is 38 mense dood in ʼn Isis-aanval in die kusstad Sousse.

Ná dié aanvalle het reisagentskappe uit die land onttrek en ander regerings het reiswaarskuwings vir burgers uitgereik. Die land se toerismebedryf het sedertdien weer begin kop optel, veral nadat die regering veiligheidsmaatreëls by gewilde bestemmings verskerp het.

Die land se minister van toerisme, Rene Trabelsi, het besoekers ná Donderdag se aanvalle probeer gerusstel en gesê die polisie ondersoek die voorvalle indringend.

In ʼn onderhoud met Associated Press het Trabelsi gesê hy dink nie die eerste aanval, wat naby die Franse ambassade plaasgevind het, was op die ambassade gemik nie, maar eerder op die Tunisiese polisie.

“Die aanval teen nasionale veiligheidsmagte … het niks met toeriste te doen gehad nie.”

Die minister het gesê hy het ʼn boodskap vir toeriste: “Kom na Tunisië en geniet jou vakansie. Tunisië is ʼn land wat dié terroriste beveg.”

Die Amerikaanse departement van buitelandse sake plaas Tunisië in dié stadium op dieselfde risikovlak as Frankryk wat gevaar vir reisigers betref.

Voor gister was dit ʼn geruime tyd sedert enige ernstige voorvalle van geweld in Tunisië voorgekom het. ʼn Vroueselfmoordbomaanvaller het in Oktober in Tunis toegeslaan, maar sy was die enigste sterfgeval in die aanval.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

piet piet ·

Die Muslims vermoor en vermink onskuldige mense elke dag en dan beweer hulle dat hulle vredeliewende mense is ,lieg hulle of wat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.