Die radikale Moslemgroep Islamitiese Staat vir Irak en die Levant (ISIS) het, volgens ‘n stemboodskap, op Twitter ‘n kalifaat uitgeroep in die gebiede wat hy beheer.
Die aanspraak kon nog nie onafhanklik bevestig word nie.
ISIS, wat ook sy naam verander het om nou bloot “Islamitiese Staat” te heet, beheer groot dele van Irak en Sirië. Volgens die boodskap is die aanvoerder van die groep, Abu Bakr al-Baghdadi, as eerste kalif uitgeroep.
‘n Kalif word beskou as iemand wat sy regeermagte weens sy regstreekse afstammeling van Mohammed verkry het. Die oorspronklike Islamitiese Kalifaat is in 1924 ontbind toe die Ottomaanse ryk ontbind is.
Isis is in die radikale segment van die Soenie-Islam gesetel waartoe ook Al Kaïda, die Taliban, Al Shabaab en Boko Haram behoort.
In Irak is die meerderheid inwoners egter Sjiïete terwyl die Sjiïtiese Hizbollah vanuit Libanon pres. Bashar al-Assad te hulp gesnel het.
Bronne: Trouw, De Standaard