Die Israelse weermag het Sondag aangekondig dat hy opnuut voortgaan met aanvalle op Gasa nadat Hamas glo te midde van ‘n skietstilstand steeds vuurpyle afgevuur het.
“Na aanleiding van Hamas se onophoudelike afvuur van vuurpyle tydens die humanitêre skietstilstand, waarop ooreengekom is vir die welsyn van die burgerlike bevolking in Gasa, sal die Israelse weermag nou weer sy lug-, vloot- en grond-aktiwiteit in die Gasastrook voortsit,” het die weermag in ‘n verklaring gesê.
Volgens berigte het Palestynse militante vroeg Sondagoggend vuurpyle op Israel afgevuur. Twee van die vuurpyle is deur Israel se afweringstelsel afgeskiet terwyl die ander vyf in oop areas geval het.
ʼn 12 uur lange skietstilstand het Saterdag om 05:00 tussen Israel en Hamas in die Gasastrook in werking getree.
Israel en die Islamitiese beweging het tot die tydelike stilstand ingestem. John Kerry, Amerika se minister van buitelandse sake, kon Vrydag tydens gesprekke nie ʼn volhoubare vredesooreenkoms bewerkstellig nie.
Meer as ‘n 1 000 Palestyne en sowat 43 Israelse soldate is reeds in die geweld dood.