Israel-Hamas-konflik: Eerste gyselaars vrygelaat

ʼn Skermskoot uit ʼn video wat deur Hamas vrygestel is, wys hoe ‘n Israeli gyselaar vrygelaat word. (Foto: Alex MITA/Hamas/AFP)

Gewapende en gemaskerde Hamas-vegters het Vrydag ʼn eerste vlaag gyselaars bevry in ruil vir Palestynse gevangenes.

Hamas het altesaam 24 gyselaars vrygelaat, almal vroue en kinders, aldus Katar en ʼn amptelike Israeliese lys. Dit sluit in 13 Israeli’s, sommige van hulle met dubbele burgerskap, 10 Thais en een Filippynse burger. Israel het op sy beurt 39 vroue en kinders uit sy tronke bevry.

ʼn Video van twee minute wat deur Hamas vrygestel is, wys hoe gemaskerde en gewapende militante die  gyselaars aan Rooi Kruis-amptenare oorhandig.

Die gyselaars word sedert 7 Oktober aangehou toe Hamas ʼn aanval op Israel van stapel gestuur het en sowat 1 200 mense doodgemaak en sowat 240 Israeli’s en buitelanders as gyselaars geneem het.

In reaksie hierop het Israel ʼn meedoënlose bombardement en grondoffensief in die Hamas-beheerde Gaza van stapel gestuur, wat volgens die Hamas-regering tot meer as 14 100 sterftes gelei het.

Hamas sal na verwagting 50 gyselaars tydens die wapenstilstand bevry in ruil vir 150 Palestynse gevangenes, as deel van ʼn ooreenkoms wat deur Katar met die hulp van Egipte en die VSA bemiddel is.

Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het beloof om al die Hamas-gyselaars huis toe te bring.

“Dit is een van die doelwitte van die oorlog, en ons is daartoe verbind om al die doelwitte van die oorlog te bereik,” het hy gesê.

Die Amerikaanse president, Joe Biden, het gesê dat Vrydag se vrylating net die “begin” is.

Op ʼn vraag oor die Amerikaanse vroue en kinders wat as deel van die ooreenkoms vrygelaat kan word, het Biden gesê hy weet nie wanneer hulle vrygelaat sal word nie, maar “ons verwag dat dit sal plaasvind”.

Vragmotors met voorrade, waaronder brandstof, kos en medisyne, het kort ná die wapenstilstand afgeskop het, begin om Gaza binne te beweeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.