Israel-Hamas-konflik: Wapenstilstand eers vertraag

(Foto: Jack Guez / AFP)

Die wapenstilstand en uitruil van gyselaars tussen Israel en Hamas sal na verwagting nou eers Vrydag in werking tree.

Die ooreenkoms is vroeg Woensdag deur die Israeliese regering goedgekeur en daar is algemeen verwag dat dit Donderdag reeds in werking sou tree.

Tzachi Hanegbi, Israel se nasionale veiligheidsadviseur, het laat Woensdag gesê onderhandelinge oor die vrylating van gyselaars vorder en vind deurlopend plaas.

Ingevolge die ooreenkoms het Israel en Hamas op ’n vier dae lange wapenstilstand ooreengekom waartydens die Palestynse militante minstens 50 gyselaars sal bevry.

Op sy beurt sou Israel minstens 150 Palestynse gevangenes vrylaat en meer humanitêre hulp in die kusgebied toelaat.

Die oorlog het begin nadat Hamas-militante op 7 Oktober die ergste aanval in Israel se geskiedenis geloods het, wat sowat 1 200 lewens geëis het en waartydens sowat 240 mense as gyselaar geneem is.

In reaksie hierop het Israel ʼn meedoënlose bombardement en grondoffensief in die Hamas-beheerde Gaza van stapel gestuur, wat volgens die Hamas-regering tot meer as 14 100 sterftes gelei het.

Benjamin Netanyahu, premier van Israel, het sy steun aan die ooreenkoms met Hamas toegesê, maar die versekering gegee dat die wapenstilstand tydelik sal wees en nie die veldtog om Hamas te vernietig sal beëindig nie.

“Ons wen en sal voortgaan om te veg tot absolute oorwinning,” het hy Woensdag gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa het vroeër die ooreenkoms verwelkom en veral Katar, Egipte en die VSA vir hul rol in die bemiddeling van die ooreenkoms geloof.

“As lid van die internasionale gemeenskap wat staan ​​vir vrede, geregtigheid en die oppergesag van die internasionale reg in alle dele van die wêreld, verwelkom Suid-Afrika die ooreenkoms wat bereik is,” het die president Woensdag gesê.

“Dit is my hoop dat hierdie verposing pogings sal versterk om ʼn volstrekte einde aan die huidige konflik te bring.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Bevorder geregtigheid - Vrydenker Vlakvark ·

Tensy Iran, die Palestyne en andere nie openlik Israel en die Jode se betaansreg erken nie en sigbaar uitleef nie, sien ek geen toekoms vir die midde-ooste nie.

hpven ·

Hulle en meelopers sal Israel asook die weste se bestaansreg nooit erken nie. Maar wees verseker Israel en die weste sal oorleef!

TO ·

Hierdie vertraging is vir Hamas om re her organiseer saammet sy chronies. Ek dink dis ‘n totale fout

Andre ·

Dit gee Hamas te veel tyd om planne te maak. Hoekom net 50 vrylaat. Ek dog hulle het 250 mense ontvoer.

Grassie ·

Die Israeli leiers het gisterand in openbare toesprake baie uitgewei oor hoe hulle Hamas gaan verwoes. Ek dink dit het Hamas ontstig en hulle heroorweeg die vrylating. Plaas die Israeli’s hul monde hou tot die al die gyselaars vry is en dan doen wat hulle beplan.

Manie ·

Taktiek, indien Hamas sou onttrek dra hulle die blaam en gee vir Israel meer rede om hulle te vernietig. In oorlog is taktiek van kardinale belang.

Schalk ·

Heeltemal korrek Manie. Wat my bekommer en ek het dit toevallig vanoggend op n live stream gesien, is dat Hamas net 50 gaan en kan vry laat, het kan nie bewys van lewe gee vir die res nie. Dit gee Israel n vol mandaat om Palistina met die grond gelyk te maak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.