Israel het Hamas onderskat – Israeli-koerant

Foto: stiripesurse.ro

Foto: stiripesurse.ro

In ‘n kritiese ontleding het die Israelse koerant, Haaretz, tot die gevolgtrekking gekom dat Israel Hamas se vermoëns onderskat het.

Met die huidige inval is verwag dat Hamas gou weer ‘n yslike pak op die lyf sal loop soos vyf jaar gelede, maar Hamas het intussen baie lesse by die Libanese Hizbolla geleer.

Volgens Haaretz behels die nuwe strategie dat Hamas se gewapende magte hulle in die uitgebreide tonnelnetwerk skuilhou en die lugbombardement absorbeer. Wanneer die Israelse grondmagte toeslaan, is die verskuilde Hamas-vegters gereed vir hulle en maai onder die Israelse soldate. Die soldate kan dan ook nie meer lugsteun of artillerie-dekking aanvra nie, omdat hulle dan self in die spervuur sal wees.

Dié taktiek lei daartoe dat die burgerlike ongevalle aan die kant van die Palestyne hoog is, en die Israeli’s reeds meer as 50 soldate aan die dood afgestaan het. In die buiteland kry Israel dan die blaam vir die talle burgerlike sterftes, en Hamas wen die propaganda-oorlog.

Meer as 1 200 Palestyne, meestal burgerlikes, is reeds dood.

Israel is vasbeslote om die tonnels te vernietig, veral omdat Hamas onderdeur die grens dolwe en so in staat is om aanvalle op Israelse burgerlikes te loods. Israel beskuldig Hamas daarvan dat dié organisasies van burgerlike skilde gebruik maak. Intussen het die VN-hulpagentskap Hamas erg gestriem nadat ‘n vuurpyl in ‘n skool onder die agentskap se beheer gevind is. Dit is die derde vonds deur die agentskap van wapens van Hamas wat in skole gevind is wat onder die VN se beheer is. Die agentskap wys daarop dat Hamas burgerlikes so aan gevaar blootstel. Israel het onlangs skerp onder kritiek deurgeloop nadat 15 mense waarvan die meeste burgerlikes wat in ‘n skool gaan skuiling soek het, dood is.

Hamas loop ook al meer onder kritiek deur oor baie van sy leierskap wat veilig, en as miljoenêrs, in Arabiese lande soos Katar woon van waar hulle vredesinisiatiewe dwarsboom.

Intussen probeer Egipte lewe blaas in sy voorstel vir ‘n skietstilstand wat voorheen deur Israel aanvaar, maar deur Hamas verwerp is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.