Italiaanse ambassadeur dood in DRK-aanval

Luca Attanasio, Italië se ambassadeur na die DRK. (Foto: Italiaanse dept. van buitelandse sake)

Italië se ambassadeur na die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) is Maandag dood toe ʼn konvooi van die Verenigde Nasies (VN) in die geweldgeteisterde ooste van die land aangeval is.

ʼn Senior diplomatieke bron in Kinshasa sê Luca Attanasio het aan sy beserings beswyk nadat die konvooi van die Wêreldvoedselprogram (WVP) tydens ʼn besoek aan die Goma-streek onder skoot gekom het.

Twee ander mense het ook gesterf, het maj. Guillaume Djike, die weermag se woordvoerder in Noord-Kivu, gesê.

Volgens ander bronne is hierdie twee slagoffers die gesant se bestuurder en ʼn polisiebeampte wat as lyfwag gewerk het. Volgens die WVP is ʼn “aantal passasiers” ook beseer.

Italië se departement van buitelandse sake het Attanasio se dood bevestig.

Mario Draghi, Italië se eerste minister, het sy “diepste medelye” betuig, terwyl pres. Sergio Mattarella die “lafhartige aanval” veroordeel het.

“Die Italiaanse republiek rou vir dié staatsamptenare wat hul lewe verloor het,” het Mattarella in ʼn verklaring gesê.

Minister van buitelandse sake Luigi Di Maio het sy “uiterste ontsteltenis en ongelooflike hartseer” te kenne gegee en het ʼn vergadering in Brussel met sy eweknieë van die Europese Unie (EU) kortgeknip om vroeër na Rome terug te keer.

“Die omstandighede van die wrede aanval is nog nie bekend nie en geen steen sal onaangeroer gelaat word om vas te stel wat gebeur het nie,” het Di Maio gesê.

Attanasio (43) verteenwoordig Italië sedert 2017 in Kinshasa. Hy het in 2003 by die diplomatieke korps aangesluit en het vantevore in Switserland, Marokko en Nigerië gedien.

Hy het “skietwonde aan die buik” opgedoen en is in ʼn bedenklike toestand na ʼn hospitaal in Goma geneem waar hy aan sy beserings beswyk het, het ʼn diplomaat in Kinshasa gesê.

Lede van die DRK-weermag soek intussen na die aanvallers.

Attanasio, ʼn pa van drie, word onthou vir sy hartlikheid en professionele gedrag en sy dood het talle boodskappe van medelye en rou van politici en kollegas laat instroom.

Sy vrou, Zakia Seddiki, beskryf haarself op Facebook as die stigter en president van die Kinshasa-gebaseerde welsynsorganisasie Mamasofia.

Attanasio is deur Emanuela Del Re, van 2018 tot verlede maand Italië se adjunkminister van buitelandse sake, beskryf as ʼn man van “ongewone dapperheid, menslikheid en professionaliteit”. Del Re sê sy het saam met Attanasio gewerk tydens die noodrepatriasie van ʼn baie siek non uit die DRK.

“Ek onthou sy aansteeklike glimlag, sy flair, sy ongelooflike kennis oor Afrika-sake. Ciao (totsiens), my liewe, gerespekteerde vriend Luca.”

Gewelddadige streek

Die DRK is ʼn enorme land omtrent die grootte van westelike Europa en steier onder verskeie konflikte, veral in sy afgeleë, mineraalryke ooste.

Talle milisiegroepe swerf deur die vier oostelike provinsies, baie van hulle ʼn nalatenskap van die oorloë in die 1990’s wat ook ander lande in sentraal-suidelike Afrika ingesleep en miljoene lewens geëis het.

Volgens Italië se departement van buitelandse sake was die ambassadeur en die polisiebeampte deel van ʼn konvooi van Monusco, die VN se vredesmag in die DRK.

Die WVP het egter bevestig dat Attanasio op ʼn feitesending van dié agentskap was.

“Die afvaardiging het van Goma gereis om ʼn WVP-skoolvoedingsprogrm in Rutshuru te besoek toe die voorval plaasgevind het,” het die WVP in ʼn verklaring gesê.

“Die aanval het plaasgevind op ʼn pad wat voorheen verklaar is as een wat veilig is om sonder sekuriteitsbegeleiding te gebruik.”

Maandag se aanval het in die Nyiaragongo-grondgebied, noord van Goma, plaasgevind.

Gewapende groepe in die gebied sluit in Rwandese Hutu-milisie genaamd FDLR, asook M23, beter bekend as die Kongolese revolusionêre weermag.

Die streek sluit in die Unesco-gelyste Virunga-park, ʼn uitgestrekte natuurreservaat wat die tuiste is van ʼn kwart van die wêreld se kritiek bedreigde berggorillas. Meer as 200 van die park se wildbewaarders is die afgelope dekades in aanvalle doodgemaak.

Die VN se vlugtelingagentskap, die UNHCR, het verlede week gesê meer as 2 000 burgerlikes is verlede jaar in Noord- en Suid-Kivu asook in die Ituri-provinsie dood.

Attanasio is die tweede Europese ambassadeur wat sterf terwyl hy in die DRK gestasioneer is. In Januarie 1993 is die Franse ambassadeur Philippe Bernard dood tydens opstande in die hoofstad wat aangevuur is deur soldate gekant teen die diktator Mobutu Sese Seko.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Korrelkop ·

Goma?…. nou waar was Rooivalk?? Moet seker eers gediens word wanneer Denel eendag weer geld het. Jammer Italië, maar die VN verkies eerder die minderwaardige Russiese helikopters.

wim ·

Die Russiese helikopters het nie Kubaanse mechanics nie. Hulle kan nog opstyg

Astrain ·

Wat soek die VN, EU en andere steeds in Afrika…kom hulle steeds nie agter enige iets wat hulle probeer doen, sal OOIT werk nie??? ????

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.