Italië se eerste honde-restaurant woefse sukses

Die restaurant Fiuto in Rome se klante. (Foto: Tiziana FABI / AFP)

In enige ander restaurant sal dit waarskynlik effe onvanpas wees om jou bord skoon te lek. Maar nie by Fiuto in Rome nie.

Italië se eerste honde-restaurant bied hul vierpotige klante verskeie opsies: gekookte eier met puree-ertjies en fontinakaas. Of is Luigi-die-Italiaanse-windhond eerder lus vir vis met ricotta en courgettes?

“Vis is baie gewild omdat dit ’n ander geur as hul gewone kos is,” vertel Fiuto se hoofsjef, Luca Grammatico.

Vir die meer dorstige klant is daar by Fiuto groenappel- en waatlemoensap.

Die restaurant Fiuto in Rome se klante. (Foto: Tiziana FABI / AFP)

“Ons het die spyskaart saam met ’n veeartsenykundige voedingkundige saamgestel en saam-saam die bestanddele bepaal, met inagneming van allergieë; honde het baie meer allergieë as mense,” vertel Grammatico, wat voorheen as honde-afrigter gewerk het.

Fiuto het sowat ’n maand gelede sy deure vir mens én dier geopen en het sedertdien ’n gemiddeld van ses tot 10 honde elke aand van die week en tussen 10 en 15 oor naweke – teen ’n prys van tussen €8 (sowat R165) en €20 euro (sowat R412) per kop, na gelang van die grootte van die hond – verwelkom.

“Troeteldiere is deel van ons familie, so hoekom hulle nie ook soos familie behandel nie?” wil klant Sara Nicosanti weet terwyl sy ’n selfie saam met Mango, haar vyfjarige Jack Russell, in die spieëlomraamde afdeling by Fiuto neem wat spesiaal vir hierdie doel ontwerp is.

Die restaurant Fiuto in Rome se klante. (Foto: Tiziana FABI / AFP)

Nicosanti, ’n 36-jarige eiendomsagent, sê sy is “baie gelukkig” met die keuses op die spyskaart wat beteken die honde kan “ook ’n gebalanseerde dieet” met “geskikte bestanddele” geniet.

“Geen speserye, geen sout en geen olies nie,” dring Grammatico aan.

Die restaurant berei sy vierpotige klante se kos in ’n afsonderlike kombuis voor as dié van hul eienaars.

Porsies word ook aangepas by die hond se grootte: S (vir dié wat 2-10 kg weeg), M (11-20 kg), L (21-30 kg) en selfs XL (meer as 30 kg).

Die restaurant Fiuto in Rome se klante. (Foto: Tiziana FABI / AFP)

Mede-eienaar Marco Turano vertel dat daar skerms tussen tafels in die restaurant geïnstalleer is sodat die honde mekaar nie kan sien – of steur – wanneer hulle aan die gourmet-maaltyd weglê nie.

Turano en sy twee mede-eienaars het nie verwag dat die restaurant in die hartjie van Rome se Ponte Milvio-distrik so suksesvol sou wees nie.

“Ons is natuurlik baie gelukkig,” vertel Turano terwyl hy ’n brakkie-geskenkpakkie vir ’n klant saamstel wat sy verjaarsdag by Fiuto saam met sy ounooi vier.

Die restaurant Fiuto in Rome se klante. (Foto: Tiziana FABI / AFP)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.