Italië wil vrugbare gesinne met grond beloon

baba-voetjies-02

Foto: Pixabay/Pexels.com

Italië se populistiese regering wil ouers wat ʼn derde kind kry met gratis landbougrond beloon as deel van ʼn nuwe plan om die land se kommerwekkend lae geboortesyfer aan te wakker.

Dié Mediterreense land se bevolking sal weens sy lae geboortesyfer na verwagting binne die volgende 50 jaar met 7 miljoen afneem. Amper 60% van die bevolking is nou bo 40 en amper 25% bo 65, vergeleke met 5,3% in Suid-Afrika.

Verlede jaar het die bevolking met 100 000 afgeneem, ondanks ʼn toename in immigrante en ʼn afname in emigrante, berig die webwerf The Local.

Maar, berig die Britse dagblad The Telegraph, die grond sal nie onbepaald in die vrugbare gesinne se besit bly nie, want dis net vir 20 jaar, en die aanbod sal ook net van 2019 tot 2021 geld. Die verregse Ligaparty, lid van die regerende koalisie, se voorstel geld net vir getroude paartjies, nie dié in burgerlike verbintenisse nie.

Nog ʼn aansporing om ʼn derde kind te hê is dat gesinne geregtig sal wees op ʼn verband met ʼn 0%-rentekoers as hulle eiendom naby hul lappie grond koop.

Die staat besit nagenoeg 500 000 ha landbougrond, wat sowat R160 miljard werd is, maar teenstanders van die plan waarsku dis meestal stukkies grond waarin niemand belangstel nie en waarvan plaaslike owerhede probeer ontslae raak.

Beatrice Lorenzin, Italië se destydse minister van gesondheid, het reeds in 2015 gewaarsku: “Ons is baie na aan die drumpel van nievernuwing waar die mense wat sterf nie deur geboortes vervang word nie. Dit beteken ons is ʼn sterwende land.”

Ontwikkelde lande wêreldwyd betaal die prys van ʼn verouderende bevolking, soos toenemende pensioenuitbetalings en stygende gesondheidsorgkoste, maar Italië, wat die afgelope dekade drie resessies beleef het, is veral kwesbaar, het The Guardian destyds berig.

Nog lande wat gevaar loop om te ontvolk weens hul kommerwekkend lae geboortesyfer, is Japan, met 7,7 geboortes per 1 000 van die bevolking, Griekeland (8,4), Duitsland (8,6), Spanje (8,9) en Pole (9,5), volgens die CIA World Fact Book.

Suid-Afrika bevind hom in die middel van die lys lande volgens vrugbaarheid met 20,2 geboortes per 1 000 van die bevolking, in die geselskap van byvoorbeeld Sirië (21,2) Botswana (22,1) en Nepal (19,5), maar in die toptien is net Afrikalande, onder wie Angola en Niger (albei 44,2), Zambië (41,5), Malawi (41) en Mosambiek (38,1); trouens, net ses van die lande in die top-50 is nié in Afrika nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Pinball in afrikaans ·

As daar aardbewings in Italie begin tussen die jaar 2019 en 2021 weet ons hkm

Cherokee ·

Suid Afrika moet nou net nie Italië se voorbeeld volg nie.

humor ·

As hierdie gedagte hier by ons posvat dan sal daar nie n vierkant milimeter binne n enkele dag oorbly nie.

IK ·

Net ‘n paar kragonderbrekings snags behoort die ding te doen.

Pragtig man pragtig ·

Ek bly duidelik in die verkeerde land. Hulle sal 2 plase vir my moet eenkant hou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.