Ivermektien nou taboe in Australië

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Luis Robayo/AFP)

Australië se medisyne-reguleerder het dokters in die land verbied om ivermektien voor te skryf vir die voorkoming en behandeling van Covid-19.

Dokters kan nou slegs dié middel aan pasiënte voorskryf vir toestande soos brandsiekte en sekere parasitiese infeksies. Spesialiste vir aansteeklike siektes, dermatoloë en gastro-enteroloë mag slegs ivermektien aan pasiënte voorskryf indien hulle meen dat dit die geskikte behandeling vir die betrokke toestand is.

Die besluit volg nadat die aanvraag na ivermektien in dié land die afgelope paar maande verdriedubbel het.

Ivermektien word gebruik vir die behandeling van tropiese siektes wat deur parasiete veroorsaak word en is glo wêreldwyd geprys as ʼn sogenaamde wondermiddel vir die behandeling van Covid-19.

Die middel is egter nie in Australië en ander ontwikkelde lande amptelik goedgekeur as ʼn behandeling vir die virus nie. Die nasionale taakspan vir Covid- kliniese bewyse, die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) en die Amerikaanse voedsel- en medikasie-administrasie is onder diegene wat die gebruik daarvan ontmoedig.

“Die verbod is ingestel weens kommer oor die aantal voorskrifte wat uitgereik word vir die beweerde voorkoming en behandeling van Covid-19. Die Australiese terapeutiese goedere-administrasie (TGA) het die besluit geneem op aanbeveling van die advieskomitee oor medisyneskedulering,” lui die TGA se verklaring vroeër vandeesmaand.

Volgens die TGA is daar ʼn aantal beduidende risiko’s verbonde aan die gebruik van ivermektien eerder as om ingeënt te word.

“Persone wat glo dat hulle teen infeksie beskerm is deur ivermektien te neem, kan besluit om nie getoets te word of mediese hulp te ontvang wanneer hulle wel Covid-19 opdoen nie. Dit kan daartoe lei dat die virus in gemeenskappe versprei.”

Die reguleerder is ook bekommerd dat mense die middel in onveilige dosisse gebruik.

“Die dosisse ivermektien wat volgens onbetroubare sosialemediaplasings en ander aanlyn bronne gebruik moet word, is aansienlik hoër as die hoeveelheid wat goedgekeur is vir die behandeling van brandsiekte en parasitiese infeksies,” lui die verklaring.

“Hoër dosisse kan gepaard gaan met ernstige gevolge vir mense se gesondheid, waaronder erge naarheid, braking, duiseligheid, asook neurologiese toestande soos epileptiese aanvalle en komas.”

Die TGA het verder aangevoer dat ivermektien in Australië nie vir die behandeling van Covid-19 aangewend moet word buite kliniese toeste nie, aangesien daar steeds groot onsekerheid heers oor die doeltreffendheid en veiligheid daarvan.

Ten spyte van die TGA se waarskuwings het die vraag na die middel die afgelope ruk toegeneem.

Talle burgers wou verlede maand ivermektien uit die buiteland invoer, terwyl aptekers ʼn toename gesien het in mense wat voorskrifte vir die middel ingee en weier om te sê waarvoor dit gebruik gaan word, berig The Guardian.

Volgens ʼn hospitaal in Sydney is ʼn pasiënt onlangs opgeneem ná ʼn oordosis van ivermektien en allerlei beweerde Covid-19-geneesmiddels wat hy aanlyn gekoop het.

Dr. Karen Price, president van die Royal Australian College of General Practitioners, het aan The Guardian gesê dat diegene wat op soek is na ivermektien liefs so gou moontlik die inenting kry en hou by die nodige beperkings wat ingestel is om die virus hok te slaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.