Jada verbreek stilte oor Oscars-petalje

Jada Pinkett Smith tydens die 94ste jaarlikse Oscars-geleentheid by die Dolby-teater in Los Angeles, VSA. (Foto: David Livingston/Getty Images North America/Getty Images via AFP)

Jada Pinkett Smith het Dinsdag op Instagram haar stilte verbreek nadat haar eggenoot, die akteur Will Smith, die komediant Chris Rock by die Oscars-toekenningsgeleentheid geklap het.

“Dit is ʼn tyd vir genesing en ek is hier daarvoor,” het sy in ʼn plasing geskryf wat binne die bestek van ʼn paar uur meer as 65 000 ge-“Like” is.

Sy het nie verder uitgewei nie en kommentare op die plasing is beperk. Dié kriptiese verklaring kom minder as 24 uur nadat Smith op Instagram aan Rock om verskoning gevra het oor die voorval tydens Sondagaand se glansryke geleentheid in die Dolby-teater in Los Angeles, VSA.

Smith, wat kort na die voorval vereer is met sy eerste goue beeldjie vir sy rol in die fliek King Richard, het die komediant en akteur Chris Rock ʼn klap gegee op die Oscars-verhoog omdat dié ʼn grap oor sy vrou, Jada Pinkett Smith, gemaak het.

Rock was op die verhoog om die beeldjie vir beste dokumentêr uit te deel. Hy het na Pinkett Smith, wat ʼn kaalkop weens haar stryd met alopesie (ʼn immuunsiekte wat haarverlies tot gevolg het) het, gewys en ʼn grap gemaak oor die 1997-fliek G.I. Jane.

Demi Moore het destyds opslae gemaak toe sy haar lang, donker lokke afgeskeer het vir die hoofrol in dié fliek.

Geskokte toeskouers was aanvanklik onseker of die klap deel was van ʼn komedieskets, totdat Smith uit sy sitplek in die gehoor geskree het: “Hou my vrou se naam uit jou f****n mond!”

Will Smith klap die komediant Chris Rock op die verhoog tydens die Oscars-geleentheid. (Foto: Robyn Beck/AFP)

Rock het oorbluf gelyk na afloop van die insident en grappenderwys aan die gehoor gesê: “Dit was die grootste aand in die geskiedenis van televisie”.

Smith het oomblikke later die Oscar vir beste akteur gewen en het in ʼn tranerige toespraak gesê: “Die liefde laat jou gek dinge doen.”

Variety het Dinsdag berig die kykergetal van die televisiegehoor het met meer as 600 000 gestyg tydens Smith se toespraak.

Die Akademie, wat die Oscars-geleentheid aanbied, het Maandag gesê ʼn amptelike ondersoek oor die voorval is van stapel gestuur. Smith het kort daarna om verskoning gevra.

“Chris, ek wil in die openbaar vir jou om verskoning vra. Ek het onvanpas opgetree en ek was verkeerd. Ek is verleë en my dade is nie sprekend van die man wat ek wil wees nie,” het Smith op Instagram geskryf.

“Geweld in al sy vorms is giftig en vernietigend.”

Will Smith en sy vrou, Jada Pinkett Smith. (Foto: Facebook)

Rock en sy woordvoerders het egter nog nie ʼn woord gerep oor die voorval nie.

Intussen gons sosiale media steeds oor die voorval, met die YouTube-persoonlikheid en bokser Jake Paul wat $30 miljoen (sowat R435 miljoen) aangebied het om dié twee mans in die kryt te kry.

“Ek het $15 miljoen vir Will Smith en $15 miljoen vir Chris Rock, gereed om te gaan,” het hy op Twitter geskryf.

Hoewel nie een van die twee ooit professioneel geboks het nie, het Smith die rol van Muhammad Ali in die 2001-fliek Ali vertolk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jean ·

Net in die ryk wereld waar ‘n ryk persoon iemand anders op tv slaan en niks van dit sal kom nie.

Cobus ·

Klug, net om die dooie perd se syfers te probeer lig. Kan jy nou glo, akteurs wat toneel speel?

hendrie ·

Foeitoggies. BLM en Woke sirkus aanhangers se aandagsoekery ken geen perke nie. :-)

Kirst ·

As ek na haar foto hier bo kyk en die haarstoppels op haar kopvel lyk dit nie asof sy aan enige haarverlies ly nie. Dalk aan die ander kant van haar kop?

Janine ·

Wonder wie het klappe gekry toe hy van jou affair te hore gekom het? O wag! Blykbaar het julle ‘n “oop” huwelik. Sies man.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.