Jagters kan binnekort honderde olifante hiér skiet

Zimbabwe sal binnekort regte verkoop om nagenoeg 500 olifante te skiet. (Argieffoto: Prof. Rudi van Aarde)

Zimbabwe sal binnekort regte verkoop om nagenoeg 500 olifante te skiet.

CNN en Bloomberg het berig dat die steierende toerismebedryf en die gevolglike verlies aan inkomste weens die Covid-19-pandemie van die hoofredes vir dié besluit is.

“Ons eet wat ons doodmaak,” het Tinashe Farawo, woordvoerder vir die Zimbabwe Parks and Wildlife Management Authority, aan CNN gesê.

“Ons het ʼn begroting van sowat $25 miljoen vir ons werksaamhede wat gedeeltelik deur sportjag ingesamel word, maar toerisme is tans dood weens die koronaviruspandemie.”

Bloomberg berig dat regte vir die skiet van die olifante enigiets tussen R143 000 ($10 000) en R1 miljoen ($70 000) per dier kos – na gelang van die grootte.

Die Zimbabwiese omgewing-en-menseregtegroep, Center for Natural Resource and Governance, het die besluit veroordeel.

“Ons veroordeel trofeejag ten sterkste. Dit is ʼn praktyk wat wilde diere onthuts en konflik tussen mens en wild laat toeneem,” het Simiso Mlevu, woordvoerder van dié groep, aan CNN gesê.

Volgens Mlevu kan wilde diere wat die sinnelose dood van hul familielede deur mense aanskou, waarskynlik wraak op onskuldige plaaslike inwoners neem.

Sy verwerp stellings deur die Zimbabwiese regering dat trofeejag tot natuurbewaring bydra en sê dat dit bloot deur geldgierigheid gedryf word.

“Daar is ʼn behoefte aan meer innoverende, omgewingsvriendelike maniere om inkomsteskepping te bevorder.”

Naas Zimbabwe het Botswana die tweede grootste olifantbevolking – sowat 100 000 – in die wêreld. Jagters wat olifante in Zimbawe gaan skiet, kom onder meer van die VSA, Rusland, Mexiko en die Europese Unie af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Maggies

Ek stem saam met Mlevu. Dit gaan oor geld.

Rudolph

Die enigste mense wat die spin van ‘jag vir bewaring’ glo is die samestellers daarvan. Dieselfde ‘spin’ word in Suid-Afrika vertel. Geen dier verdien om ‘n lewendige teiken te wees nie. Plaas jouself in die dier se plek en vra jouself of jy daarvan sal hou dan doen jy eerder aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê.

Sêmanet

Hulle sê hulle eet wat hulle skiet. Olifante? Voordat een boud opgeeet is, dan is die vleis vrot.

Andre

Ek self is ‘n jagter. Die diere wat ek skiet sit kos op ons tafel. Ek sal sê dat ek nie heeltemal gekant is teen trofee jag nie, as jy eet wat jy skiet het ek persoonlik nie ‘n probleem met dit nie. So as mense wil gaan en ‘n olifant skiet en hom eet is dit hulle saak (Wees dit nou ‘n oorseese jagter wat die lokale mense voed want hulle kan nie die vleis terug vat na die VSA of waarokal heen nie). Ek myself sal nie so ‘n dier of enige iets skiet as ek hom nie… Lees meer »

Fritz

Ek sien geen voorstelle van Mlevu of enige ander persoon oor hoe om die oorbevolking van olifante in Zimbabwe te hanteer nie!