Jagvereniging gaan met minister vergader oor verbod op jagfoto’s

Argieffoto: Pixabay.com

Die Namibiese professionele jagtersvereniging (Napha) het Vrydag gesê hy sal met dié land se minister van omgewingsake en toerisme vergader rakende ʼn voorgenome regulasie om die plasing van jagfoto’s op sosialemediaplatforms te verbied.

Danene van der Westhuyzen, president van Napha, het by navraag van Maroela Media gesê die vereniging steun die minister se pogings om trofeejag in Namibië te beskerm, maar vind dit betreurenswaardig dat die kwessie nie eers met Napha bespreek is voordat die aankondiging in die verband gemaak is nie.

Maroela Media het vroeër berig Pohamba Shifeta, die Namibiese minister van omgewingsake en toerisme, het Maandag by die bekendstelling van die hersiene nasionale beleid oor konflikbestuur tussen mense en wild gesê die departement is besig om Namibië se natuurbewaringsordonnansie te wysig om die plasing van foto’s van dooie wild op sosiale media te verbied.

Shifeta het gesê dié regulasie sal van toepassing wees op almal, selfs jagters wat diere met wettige jagpermitte skiet. Volgens die minister skep die plasing van jagfoto’s op sosiale media “ʼn wanvoorstelling” van die jagbedryf in Namibië en is dit “nie moreel korrek om sulke foto’s te publiseer nie”.

Napha het gesê hy ondersteun Shifeta se besluit om die plasing van trofeejagte in Namibië op sosiale media te verhoed. Volgens Van der Westhuyzen is die vereniging bewus daarvan dat daar baie jagters en jaguitrusters is wat voldoen aan die vereistes van verantwoordelike bemarking, maar daar is steeds individue wat nie voldoen aan die oproep “vir die sinnevolle gebruik van foto’s van trofees wat gejag is nie”.

“Hierdie feit, tesame met onlangse herries oor konflik tussen mens en wild en baie geraas op sosiale media [oor jag] sonder geldige feite en inligting, het die minister met geen ander keuse gelaat nie as om op te tree,” sê sy.

Van der Westhuyzen het beklemtoon dat Namibië nie teenstand teen die jagbedryf kan bekostig nie, omdat die land afhanklik is van verantwoordelike jag vir die voortgesette bewaring van die wild en natuurlewe. “Napha het oor die jare verskeie kere ons lede gewaarsku oor onsensitiewe bemarking op sosiale media en die internet wat kan lei tot uitbarsting deur diereregtegroepe wat oor die algemeen teen jag gekant is. Ons glo ons lede het voldoen aan hierdie versoek,” het sy gesê.

Sy sê die departement van omgewingsake wou al in 2017 jagpermitvoorwaardes verander om die bemarking van trofeejagte op die internet te verbied. Napha het destyds die departement bewus gemaak van die feit dat bemarking noodsaaklik is vir jagters en jagondernemings en dat die departement nie enige maatskappy moet verhinder om sy dienste, verblyf en ervaring van kliënte te adverteer nie.

“Napha het gister weer eens met die departement kontak gemaak en die departement het aangedui hy is gewillig om die saak te bespreek en duidelikheid oor die kwessie te gee. Napha sal voortdurend met die departement in gesprek wees om te versoek dat die verantwoordelike advertering van ondernemings soos dit tans deur webtuistes, sosiale media en brosjures gedoen word toegelaat word, terwyl daar terselfdertyd voortgegaan word om die kwotas en permitte op die beperking van advertensies van spesifieke trofeediere te bepaal.”

Van der Westhuyzen het bygevoeg Napha ondersteun jag en die jagbedryf, maar is ook verbind tot etiese optrede, volhoubare gebruik van natuurlike hulpbronne en om ʼn toekoms vir die bedryf te verseker vir die huidige en toekomstige generasies.

“Die vereniging dring nog altyd daarop aan dat sy lede die hoogste standaard van professionele diens aan buitelandse jagkliënte bied. Daar word van ons lede verwag om streng in ooreenstemming met die etiese beleid in Napha se gedragskode te jag. Alle professionele jagters word aangemoedig om verantwoordelik op te tree teenoor die natuur, wild en die plaaslike inwoners,” het sy gesê.

“Ons is jagters en natuurbewaarders en ons jag onbeskaamd.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Kobus ·

Ek steun die Namibiese regering 100% in hul strewe om trofeejag te beskerm, MAAR

hoe gaan die Namibiese regering kan bewys dat die foto in Namibië geneem is? Nie die hele Namibië is met rooi sand bedek nie. Sommige dele lyk soos SA se bosveld. En hulle wette is slegs geldig in hul eie land. Daar is niks wat hulle aan ‘n buitelander kan doen wat sy foto’s plaas nie, behalwe dalk om hom te verbied om weer in Namibië te kan jag.

Van die os op die jas. Ek kan glad nie verstaan hoekom mense so ‘n obsessie het om hul foto’s (jag, vakansies, kinders, ens.) met die hele wêreld te wil deel nie. Jou Facebook “vriende” gee nie REGTIG om wat jy met jou lewe doen nie, daarvoor stel elke mens te veel in sy eie lewe belang. Hoogstens maak hulle asof hulle belangstel.

Nee, ek het nie Facebook nie. Sal Facebook kry sodra ek dink ander mense stel in my doen en late belang, of wanneer ek in ander mense se doen en late belangstel. Dit sal gebeur wanneer die hingste vul.

Robert ·

@Kobus: jy is uniek gee die ander gewone mense kans om hulle lewe te lewe! Mense stel nog belang in ander mense

Veritas ·

Kobus, ek verstaan ook nie die Facebook-storie nie. Waarom enige normale mens sy middagete of kinderkaskenades of sonsopkoms of lelike hond of watter onbelangrike ding ookal met die wêreld wil deel, gaan my klein verstand te bowe.

MAGGIE ·

Dankie Kobus….jy haal die woorde uit my mond.
Facebook is ……!

Flojo ·

Kobus, die kort antwoord op jou facebook vraag is dat die mense nie genoeg werk het nie. En as hulle genoeg werk het dan doen hulle dit nie.

Paul ·

In Namibië beskerm hulle nou “trofee” jag op dié manier, dus om die jagter te beskerm en nie die dier teen uitwissing , of teen onetiese jaggebruike nie, by ons in SA word dit genadiglik nog nie onder die kombers weggesteek nie en kan ons meestal sien waarmee ons mense in die wildbedryf mee besig is.

Paul ·

O’ja, en een van die dae lees ons dat inligting oor die jagbedryf word as geklassifiseerd beskou.

Marelize ·

As ‘n trotse Namibiër, ondersteun ek hierdie wet 100%. Dis aaklig om op sosiale media te gaan en te sien hoe mense “spog” deur foto’s van hulself met die karkasse op te sit. Ek dink dis ‘n baie goeie besluit en glad nie te doen met dit “onder die mat te vee nie”. Namibië is amper die enigste Afrika land wat nog streng wette rakende natuurbeskerming het en die wat skelm jag word eintlik nog toegesluit. Dis om daardie rede wat renosters nie sommer hier gestroop word nie.

Msp ·

Stem 100% saam met jou Marelize. Dit maak jou nie ‘n held as jy diere skiet nie. Slag vir eetdoeleindes maar daar’s niks om oor te spog nie. (My siening)

Jannie ·

As ‘n jagter steun ek hierdie wet ook 100%. Jagfotos wat ek geneem het, is vir my privaat versameling en nie vir publikasie in die media om bloot windgat te wees nie!!!

Hennie Slabbert ·

Jip, daar is deesdae oorsensitiewe siele om elke hoek en draai.
Jy kan sien dit gaan goed met mense as hulle oor “onsensitiewe” foto’s kan kla.
Ek wed jou mense wat in oorlogsones woon (Sirië byvoorbeeld) en elke dag vir hulle voortbestaan moet veg, het nie tyd vir sulke tjol nie.

Deloris ·

Marelize, ek stem. Ek wil nie sien hoe spog mense met wat hulle geskiet het nie, ja dis nodig maar ai nie nodig om dit te publiseer nie.

Piet ·

Wat ek egter nie kan verstaan is die mate van onverdraagsaamheid deesdae. Ek was nog nooit op facebook nie maar as ander mense dit wil doen laat hulle dit doen en ook hul jagfotos daarop plaas. Ek hoor jy hoef nie iemand se “friend” te wees nie. Waarom kyk mense na n ander persoon se profiel as hy nie daarvan hou nie? Die tendens is om soveel moontlik mense aan jou kant te kry wat nie van n ander persoon hou nie, nes n klomp kinders met nat broekke.

Lynette ·

Die minister het in sy formele brief PRIESIES die teenoorgestelde geskryf as wat sy bedoeling was – ek haal aan: “The Ministry has now introduced a new permit condition, to prohibit hunters with valid permits not to post or send photos on public platforms but just to take photographs for their own use in their.private capacities.” LOL

Henry ·

Hierdie is slegs ‘n korttermyn oplossing wat vorentoe nog meer moeilikheid gaan veroorsaak. Om die foto’s te deel is vir party jagters net so lekker as om te skiet. Wat die jagter se persoonlike motivering ook al mag wees, as hy/sy jag kom daar geld in na die wildsbedryf toe – so sy motivering maak nie regtig saak nie. As die regering eerder daarop gefokus het om studiestukke saam te stel wat wys hoeveelheid jag tot bewaring bydra, en wat bewys dat die ekonomie afhanklik is daarvan en ook wys wat die repurkusies sou wees as al die jagplase na beesplase verander, sou hul ‘n gulde geleentheid hê om die massas op te voed en die bedryf sodoende te laat groei. Om ondergrond te gaan help wel om negatiewe publisiteit te verminder – maar hoe gaan hul nuusagentskappe keer om wanberigte te versprei?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.