Japan dreig om Noord-Koreaanse missiele neer te skiet

Argieffoto.

Argieffoto.

Itsunori Onodera, Japan se minister van verdediging, het opdrag gegee dat enige Noord-Koreaanse middelafstandmissiel wat lyk of dit op Japanse grondgebied kan afkom, neergeskiet moet word.

Dit volg nadat Noord-Korea onlangs strydig met ‘n VN-resolusie ‘n aantal middelafstandmissiele in Japan se rigting afgevuur het. Dié missiele het ‘n reikafstand van ongeveer 1 500 kilometer, maar het slegs ongeveer ‘n derde van die afstand getrek voor dit in die see geval het.

Noord-Korea se optrede was waarskynlik uit protes teen Amerikaans-Suid-Koraanse militêre oefeninge, terwyl dit ook saamgeval het met samesprekings tussen Suid-Korea, Japan en die VSA oor Noord-Korea se omstrede kernprogram.

Noord-Korea het sedertdien met artillerie tot binne Suid-Koreaanse gebiedswater geskiet. Suid-Korea het teruggevuur.

Ironies het die opdrag om middelafstandmissiele neer te skiet, en die ontplooiing van ‘n fregat in die Japannese See vir dié doel, saamgeval met samespreking tussen Japan en Noord-Korea. Dié samesprekings handel oor Noord-Korea se kernprogram, asook Noord-Korea se ontvoering van Japannese om te help met die opleiding van spioene.

Dié samesprekings is ‘n jaar gelede opgeskort toe Noord-Korea langafstandmissiele gelanseer het. Japan het missiele aan boord van die fregat wat missiele kan opspoor en tot op die rand van die atmosfeer kan gaan vernietig.

Bron: Yahoo News

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.