Japan hef tsoenamiwaarskuwing op; vlugte hervat ná aardbewing

‘n Beskadigde gebou in Hualien, in die ooste van Taiwan. (Foto: CNA/AFP)

Japan het Woensdag ʼn tsoenamiwaarskuwing opgehef en vlugte by Okinawa se lughawe is hervat nadat dit weens ʼn kragtige aardbewing in Taiwan opgeskort is.

Die Japannese Meteorologiese Agentskap (JMA), wat aanvanklik ʼn tsoenamiwaarskuwing met golwe van tot drie meter hoog in die suidelike eilandstreek van Okinawa uitgereik het, het gesê veel kleiner golwe is uiteindelik aangemeld.

Op die Yonauguni-eiland, naby Taiwan, is golwe van sowat ʼn halfmeter hoog omtrent 18 minute ná die aardbewing getref het, aangemeld. Soortgelyke golwe is ook op die Miyako-eiland aangemeld, en effens kleiner golwe op die Ishigaki-eiland.

Bedrywighede by die Naha-lughawe, die grootste lugvaartsentrum vir Okinawa, is as voorsorgmaatreël opgeskort. Inkomende vlugte is herlei, het ʼn amptenaar van die departement van vervoer by die lughawe gesê.

Opruimingswerk word na die aardbewing by die Chiang Kai-shek-gedenksaal in die ooste van Taiwan gedoen. (Foto: CNA/AFP)

TV-beeldmateriaal het egter gewys dat vlugte wel later die dag hervat is.

Die hoofskok wat oostelike Taiwan Woensdagoggend getref het, het 7,4 gemeet, aldus die Amerikaanse  Geological Survey (USGS).

Die JMA het ʼn voorlopige skatting van 7,5 vir die aardbewing gegee, maar dit later tot 7,7 bygewerk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

ES ·

Die beste van als is, enige skade wat aan geboue en infrastruktuur gedoen is gaan binne enkele dae herstel word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.