Japan maak Wêreldbeker-geskiedenis

Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Japan is die eerste span uit Asië om vir die kwarteindstryd van die Wêreldbeker-rugbytoernooi te kwalifiseer toe hulle vir Skotland met 28 – 21 in ’n epiese stryd in Yokohama gewen het. Hulle sal nou volgende Sondag teen die Springbokke in die uitspeelronde kragte meet.

Die Japannese het die verbeelding van die rugbywêreld aangegryp met hul kanniedood-houding, vasberadenheid en terriëragtige manier van speel.

Hulle is die beste span in Groep A van die toernooi nadat hulle die groepfase onoorwonne afgesluit het; hulle het onder andere met ’n Europese rugbyreus in die gedaante van Ierland klaargespeel, terwyl hulle ook met Samoa afgereken het.

En vandag teen Skotland was hulle weer eens die dapperheid vanself.

Foto: (AP Photo/Eugene Hoshiko)

Hulle het eerstens ’n agterstand uitgewis nadat Finn Russel vroeg vir Skotland punte aangeteken het en daarna het hulle self die krane oopgedraai om rustyd ’n gemaklike voorsprong van 21– 7 te geniet.

Kotaro Matsushima het eerste vir die Japannese gedruk na ’n skitterende aangee deur Kenki Fukuoaka en daarna het die einste Fukuoaka gewys dat hy een van die opwindendste spelers by die toernooi is.

Die blitsige vleuel het twee drieë gedruk terwyl hy sommer ook ’n keer of wat die bal by die verbaasde Skotte afgeneem het.

Elkeen van Japan se vier drieë was ’n juweel in eie reg en ʼn mens kan nie help om opgewonde te raak wanneer jy sien hoe hulle speel nie.

Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Hoewel Skotland waarskynlik nou aan bomskok ly, het hulle ook goeie rugby gespeel en veral Jamie Ritchie was ’n doring in die Japannese se vlees.

Maar vir eers kan daar ’n glasie vonkelwyn op Japan geskink word. Hulle het ’n tifoon, groter spelers, sterker internasionale sterre en meer ervare rugbylande gewys dat talent en passie ’n gevaarlike kombinasie kan wees.

Hulle het al die Springbokke vantevore in ’n Wêreldbeker-wedstryd geklop. En Rassie Erasmus se Bokspan sal vanjaar beslis weer eens hul beste moet gee om die Japannese te klop.

Hier kan ’n baie aanskoulike kwarteindstryd op rugbyliefhebbers wag.

Foto: (AP Photo/Christophe Ena)

Puntemakers:

Japan: Drieë: Kotaro Matsushima, Keita Inagaki en Kenki Fukuoaka (2). Doelskoppe: Yu Tamura (4).

Skotland: Drieë: Finn Russel, WP Nel, Zander Fagerson. Doelskoppe: Greig Laidlaw (3).

  • Hoe die kwarteindstryde lyk:

Engeland teen Australië (Saterdag om 09:15); Nieu-Seeland teen Ierland (Saterdag om 12:15); Wallis teen Frankryk (Sondag om 09:15) en Japan teen Suid-Afrika (Sondag om 12:15).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

64 Kommentare

jongste oudste gewildste
bernard

skotland kan in elk geval nie meer japan hof toe sleep na die tifoon storms nie

Frans C

Die Skotte is oordonder by die afbreekpunte waar ‘n mens die invloed van die NZ afrigters kon sien.As die Bokke netso pasief by die afbreekpunte gaan wees kan dit ‘n herhaling van 2015 wees.

Die Bokke is egter voorlangs veel sterker as Skotland en moet hul Japan eers voorlangs moeg dryf en skrum voordat hul die bal agtertoe laat gaan, want soos die All Blacks buit die Japanner foute blisvinnig uit.

Ig

Die Bokke gaan 2de kom as hulle dink dit gaan n walk in the park wees volgende Sondag. Vergeet van die opwarmings wedstryd wat so maklik gewen is.

Harry

Japan se agterlyn speel ordes beter as ons BEE-span se agterlyn en kan moontlik volgende naweek wen.

Rina

Glo almal hierdie uitslae. Ek kan my lag nie hou nie????????????????