Japan se ‘vader van Sudoku’ (69) sterf

Maki Kaji in September 2012. (Foto: Yasuyoshi Chiba/AFP)

Die man wat bekend staan as die “vader van Sudoku” se Japannese uitgewer het Maandag aangekondig dat hy in die ouderdom van 69 weens kanker gesterf het.

In ʼn kennisgewing wat Maandag geplaas is, het uitgewer Nikoli gesê Maki Kaji, bekend vir sy rol in die gewildheid van die numeriese legkaart en geliefd by miljoene mense, het op 10 Augustus tuis ná ʼn kankerstryd gesterf.

ʼn Gedenkdiens sal later vir hom gehou word.

“Mnr. Kaji, bekend as die vader van Sudoku, was geliefd by legkaartaanhangers wêreldwyd,” lui die uitgewer se verklaring.

Sudoku, ʼn soort numeriese raaisel, is reeds in die 18de eeu deur Leonhard Euler, die Switserse wiskundige, uitgedink.

Daar word gesê dat die hedendaagse weergawe in die VSA geformuleer is, maar Kaji kry alle eer vir die gewildheid van die legkaart.

Hy het glo ook die naam Sudoku uitgedink, wat ʼn samestelling is uit ʼn Japannese frase wat “elke nommer moet enkel wees” beteken.

Sudoku vereis van ʼn speler om nommers van een tot nege in ʼn boksie wat uit 81 blokkies bestaan te plaas en elke blokkie moet ook die nommers een tot nege bevat.

Ondanks sy Japannese naam, is die oorspronklike konsep van Latin Squares, ʼn blok waarin elke nommer of simbool een keer in elke ry verskyn, in die 18de eeu deur Euler uitgedink.

Nikoli het ʼn weergawe in ʼn Amerikaanse tydskrif in die 1980’s raakgesien en dit na Japan gebring, waar Sudoku ontstaan het.

Dit het dekades later gewildheid in Europa en die VSA verwerf, met Brittanje se BBC wat in 2005 geskryf het oor die legkaart wat “verlede jaar sy sagte aanslag op die nasie begin het, en nou in vier nasionale koerante aangetref kan word”.

Kaji het in 2007 aan BBC gesê om ʼn nuwe legkaart te skep was soos om “ʼn skat te vind”.

“Dit gaan nie daaroor of dit geld sal maak of nie. Dit gaan suiwer oor die opwinding om die raaisel op te los.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Eend Bessinger ·

Sudoku is ‘n wonderlike manier om jou brein jonk te hou! En dis hartseer dat die “speletjie” se skepper oorlede is…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.