Japan-tifoon: Kanadese rugbyspan spring ook in om te help

Puin lê in die strate van Motomiya in die Foekoesjima-prefektuur in Japan, nadat Tifoon Hagibis groot skade in die streek aangerig het. (Foto: Kyodo News/AP)

Reddingspanne in Japan het Maandag verder modderige en oorvol riviere gefynkam op soek na vermiste mense ná ʼn tifoon groot skade in die sentrale en noordelike dele van die land aangerig het. Die dodetal het reeds tot minstens 36 gestyg.

Tifoon Hagibis het Saterdag swaar reën en sterk wind veroorsaak en duisende Japannese huise is beskadig of sonder elektrisiteit gelaat. Die owerhede waarsku boonop dat verdere modderstortings moontlik is. Nóg reën word vandag verwag.

Luidens Japannese media word nagenoeg 16 mense in dié stadium vermis. Die amptelike getal van die land se brand-en-rampbestuursagentskap staan egter op 19 sterftes en 13 vermiste mense.

Die tifoon het rekordhoeveelhede reën in sommige gebiede veroorsaak en volgens meteoroloë het minstens 20 riviere hul oewers oorstroom.

Van die modderwater in strate, velde en woonbuurte het al weggesyfer, maar talle plekke is steeds onder water. Baie huise en paaie is kniediep in modder en puin.

Japannese wat hulle by ontruimingskuilings vir oggendsop aangemeld het, was uiters bekommerd oor die huise wat hulle moes agterlaat. Nagenoeg 30 000 mense word by tydelike skuilings gehuisves. Inwoners en nooddienswerkers moet hulle vandeesweek staal vir koue weer wat voorspel is.

Reddingsoperasies is in volle gang en soldate en brandweerlede van oor die land is in geraakte gebiede ontplooi. Helikopters het diegene opgepik wat op die dakke van geboue of op huise se boonste verdiepings gestrand was.

Inwoners in die Miyagi-prefektuur in Japan word na veiligheid gebring. (Foto: Kyodo News/AP)

Eerste minister Shinzo Abe het gesê die land gaan ʼn spesiale rampspan ontplooi, bestaande uit amptenare van verskeie departemente, om die gevolge van die tifoon te probeer versag. Hulle gaan onder meer diegene in skuilings bystaan en help om die verskaffing van water en elektrisiteit so gou moontlik te herstel.

“Ons reaksie moet vinnig en doeltreffend wees,” het Abe gesê. Volgens hom is die skade ná die tifoon enorm en talle mense word steeds vermis.

In die omgewing van die Nagano-prefektuur het ʼn wal van die Chikumarivier meegegee. By Miyagi en Foekoesjima is grootskaalse oorstromings ook aangemeld.

In dié gebiede het reddingspanne in bootjies tussen huise geroei en na oorlewendes uitgeroep.

Die Tokio-elektrisiteitsmaatskappy het gesê nagenoeg 56 800 huise in dié stad was Maandag nog sonder krag. In die omgewing van Miyagi, Iwate, Foekoesjima en Niigata is amper 6 000 huishoudings nog in donker gehul.

Sneltreine loop, maar net op sommige roetes en ook heelwat minder.

Japan is tans gasheer vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi en duisende toeriste en tientalle internasionale rugbyspanne is in dié stadium in die land.

Kanadese spelers het intussen ingespring om plaaslike inwoners te help om die dorp Kamaishi te begin skoonmaak. Kanada se Groep B-wedstryd teen Namibië is die naweek weens veiligheidsredes afgelas.

Tifoon Hagibis is een van die kragtigste storms wat Japan in dekades getref het en daar het grondverskuiwings in die omgewing van die stadion en langs toegangspaaie voorgekom.

Lede van die Kanadese rugbyspan het ook ingespring om inwoners na Tifoon Hagibis by te staan. Die Kanadese se wedstryd teen Nambië is weens die tifoon afgelas. (Foto: Kyodo News/AP)

Kanadese spelers en hul bestuurspan het gevolglik moue opgerol en die strate ingevaar om te help skoonmaak.

“Dit is tye soos dié dat daar veel belangriker dinge as rugby is. Ons het hier aangekom en gesien dat mense se huise heeltemal verwoes is en watervlakke aanhou styg,” het Peter Nelson, Kanada se losskakel, gesê.

“Ons probeer op ons beperkte manier alles moontlik doen om te help waar ons kan.”

Rugby World Cup het die video op Twitter gedeel en sê dit is ʼn aanduiding van die sport se wáre waardes.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.

9 Kommentare

Natalene Visser ·

Hoe ongelooflik mooi om te sien dat as die natuur verwoes, die mensdom nog weet om mekaar te help. Ek glo dat dit ook hier in ons eie land die geval sal wees. Al die ander negatiwiteit is dan vergete.

Johan ·

Wil jou nou nie telleurstel nie maar gaan kyk gerus wat in plekke soos New Orleans en Haiti gebeur het na groot natuurrampe. Kyk gerus ook hoe die samestelling van die bevolkings gelyk het, dan dink jy weer wat waarskynlik in SA sal gebeur na so ‘n groot natuurramp.

Bags ·

Dis broederskap, iets wat selfs ons in SA so nodig het. Wonderlik.

Koos Kookwater ·

Het die Namibiese Rugbyspan nie ook gehelp nie? Ek verbeel My so iets

Jack Russl ·

Baie goed van Kanada om uit te help, maar ek dink elke span kon ten minste ‘n paar uur skenk om uit te help.

bernard ·

hoekom help die ander spanne wat nie gemaak het nie nie ook nie?

Lee ·

Dit is nou wraggies ‘n mooi gebaar dat daai ouens inspring en help. Haal my hoed af vir hulle. Awesome ouens!! Baie sterkte aan al die mense wat familie en vriende verloor het.

Engela de Klerk ·

Dis die volunteer-gees van Kanadese en ek is mal daaroor! Klein dorpie waar my bejaarde ouers woon en in hul hospitaal is 400 (reg gelees) volunteers!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie word ongelukkig tydelik gesluit tussen 22:00 en 06:00 op Vrydagaande, Saterdae, Sondae en Maandagoggende.

Jy kan steeds op Maroela Media se Facebook-blad en ander sosiale media saamgesels. Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.