Japanner sterf ná te veel energiedrankies

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Japanner is onlangs aan ʼn oordosis kafeïen dood nadat hy te veel energiedrankies gedrink het. Dit was die eerste geval van sy soort wat al ooit in die land aangemeld is.

Plaaslike media het berig die man, glo in sy 20’s, is in die Kyushu-gebied in Japan dood. ʼn Nadoodse ondersoek deur forensiese kenners by die Fukuoka-universiteit het later bevind die man het gesterf aan ʼn “noodlottige kafeïenvergiftiging”.

Die oorledene het glo daagliks talle energiedrankies met ʼn hoë kafeïeninhoud gedrink om by sy werk by ʼn 24 uur-vulstasie wakker te bly. Tekens van ʼn kafeïenpil is ook in sy maag gevind. Volgens die polisiedossier is die man een aand huis toe waar hy gaan slaap het. Kort daarna het hy wakker geword en begin braak. Hy is na ʼn hospitaal gehaas waar hy later dood is.

Een van die vervaardigers van energiedrankies in Japan waarsku op die verpakking van sy produkte dat ʼn oordosis van energiedrankies of die vermenging daarvan met alkohol newe-effekte tot gevolg kan hê. Volgens Japan se Voedselveiligheidskommissie is “drie koppies koffie vir volwassenes” of “ ’n 350 ml-blikkie gaskoeldrank vir kinders” ʼn gepaste hoeveelheid kafeïen wat daagliks ingeneem kan word.

Energiedrankies is egter oral bekombaar in kruidenierswinkels, kroeë, restaurante en dansklubs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

nig ·

Die goed is vir mense wat aktief gaan wees – bv langafstand gaan hardloop en dan ook nie ‘n hele paar blikkies/glasevol nie. Ek kon nie glo, en tog is dit so, dit het ek al male sonder tal gesien hoe ma’s vir kleuters (KLEIN) in ‘n stootkarretjie dit gee om te drink! HOE doen mens dit? die kind kan skaars loop dan word hy ‘n E…. in die hand gestop!

Pet Schabort ·

Hier by ons kry jy maklik ‘n oordosis in van soortgelyke goed as kafeïen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.