Japannese vakansieoord begrawe ná modderstorting

Die storting het minstens 130 huise en verskeie ander geboue in Atami verwoes. (Foto: STR/Jiji Press/AFP)

Drie mense is dood en sowat 80 vermis nadat ʼn modderstorting die afgelope naweek ʼn Japannese vakansieoord in Atami getref het.

Die modderstorting het glo twee dae vantevore by ʼn berghelling afgegly en ʼn gedeelte van ʼn warmwaterbron-oord getref. Die storting het minstens 130 huise en verskeie ander geboue verwoes.

Soldate en nooddienswerkers het Maandag meganiese delwers ingespan in ʼn poging om die vermiste mense op te spoor.

“Die getal mense wat as vermis aangemeld is, het gedaal van 113 tot 80. Ons werk egter hard daaraan om die getalle te bevestig,” het Hiroki Onuma, woordvoerder van die stad se rampbestuur, gesê.

Oorlewendes by ʼn plaaslike ontruimingsentrum het aan AFP vertel hoe paniekbevange hulle was toe die modderstorting begin het.

“Toe ek die deur oopmaak, het almal in die strate gehardloop en ʼn polisieman het vir my gesê ek moet rigting kry, want almal moet die gebied ontruim,” het ʼn plaaslike inwoner gesê.

Yoshihide Suga, eerste minister van Japan, het gesê nooddienste se eerste prioriteit is om mense so gou moontlik uit geboue en voertuie te red.

Die modderstorting het vir ʼn geruime tyd aangehou nadat dit dae lank in en rondom Atami gereën het. Die reën het egter vir ʼn ruk Maandag opgehou en nooddienste kon hul soektog voortsit deur blokke hout en ander rommel uit die pad te skuif.

Die storting het van bo die berg begin. (Foto: STR/Jiji Press/AFP)

Nog modderstortings dalk op pad

Nie-verpligte ontruimingsbevele is Maandag aan meer as 35 700 mense oor die hele Japan uitgereik, meestal in die Shizuoka-streek wat suidwes van Tokio is.

Die land se weeragentskap het swaar reën in die breër streek voorspel en gewaarsku dat verdere modderstortings moontlik is.

Atami het glo meer reënval in die afgelope 48 uur aangeteken as wat gewoonlik gedurende die hele Julie val. Wetenskaplikes sê dat klimaatsverandering Japan se reënseisoen vererger het omdat ʼn warmer atmosfeer meer water bevat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.