Japanse premier bedank weens swak gesondheid

Die Japanse premier, Shinzo Abe, gedurende Vrydag se mediakonferensie. (Foto: Kyodo News via AP)

Die Japanse premier, Shinzo Abe, het om gesondheidsredes bedank.

Abe (65) het sy bedanking Vrydag gedurende ʼn mediakonferensie by sy amptelike woning in Tokio aangekondig. Die premier ly reeds jare lank aan ’n chroniese inflammatoriese dermsiekte en sy toestand het onlangs vererger.

BBC berig die premier was reeds twee keer die maand in ʼn hospitaal in Tokio opgeneem en ontvang nou nuwe behandeling wat op ʼn gereelde grondslag toegedien moet word. Dit sal dit moeilik maak om sy verantwoordelikhede as premier na te kom.

“Ek het my chroniese siekte bykans agt jaar lank onder beheer, maar tydens ʼn roetine-ondersoek in Junie is gevind dat dit weer teruggekeer het. Ek het besluit dat ek nie as premier kan voortgaan nie. Ek moet teen die siekte baklei en gereeld behandeling ontvang,” het die premier gedurende die mediakonferensie gesê.

“Ek wil die inwoners van Japan opreg om verskoning vra dat ek nie my ampstermyn kan voltooi nie en te midde van die ellende van die koronavirus die pos verlaat terwyl verskillende beleide nog in werking gestel moet word.”

Abe het verlede jaar die langste dienende premier van Japan geword nadat sy huidige ampstermyn in 2012 begin het. Abe het gedurende sy vorige ampstermyn in 2007 ook skielik bedank weens sy siektetoestand waarna hy in 2012 herverkies is, berig CNN.

Abe sal nou sy pligte uitvoer totdat ’n plaasvervanger verkies word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
JohanR

Suid Afrikaanse Onder President Cyril Ramaphosa bedank weens enige rede(gee nie juis om nie), en die land juig en hou partytjie vir ‘n week…..