Japanse regering versoek om op te dok ná oliestorting

Oliestorting van die MV Wakashio (10 Augustus 2020) (Foto: Nik Cole/Mauritian Wildlife Foundation via AP)

Die regering van Mauritius eis dat die Japanse regering 1,34 miljard Mauritiaanse roepees betaal om plaaslike vissers te help wat geraak word deur die katastrofiese oliestorting nadat die vragskip MV Wakashio aan die kus van die eiland gestrand het.

Dít terwyl twee bemanningslede Dinsdag gedurende ’n opruimingsoperasie aan dié kus dood is en die karkasse van byna 40 dolfyne teen einde verlede maand weens die oliestorting uitgespoel het.

Luidens ’n dokument van die Mauritiaanse regering word beraam dat die bou van 100 vissersbote sowat 1,2 miljard roepees gaan beloop, terwyl 9,7 miljoen roepees benodig word om 475 vissermanne en 60 skippers op te lei wat nie gewoond is aan visvang onder rowwe seetoestande nie.

Die regering vra ook vir 134 miljoen roepees sodat die Albion Fisheries-navorsingsentrum in Petite Rivière, wat in die 1980’s met Japanse hulp opgerig is, opgeknap en personeel by die sentrum opgelei kan word.

’n Amptenaar van die ambassade van Japan in Mauritius het intussen bevestig dat dié land se regering verskeie versoeke ontvang het. “Japan doen alles in sy vermoë,” het die amptenaar gesê.

Maroela Media het vroeër berig bemanningslede het ’n verjaarsdagpartytjie gehou en was naby die kus op soek na ’n WiFi-sein toe die MV Wakashio in Julie op die Pointe d’Esny-koraalrif aan die suidkus van die eiland gestrand en ’n yslike oliestorting tot gevolg gehad het.

Luidens inligting is twee bemanningslede wat by die skoonmaak van die oliestorting betrokke was laat Maandagaand dood toe hulle sleepboot teen ’n vragskuit gebots en gesink het.

Nog twee bemanningslede van die sleepboot word in dié stadium vermis.

Die uitspoel van 38 dolfynkarkasse weens die oliestorting aan die Mauritiaanse kus ontlok intussen wyd kritiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Danie ·

Ek is miskien bietjie stadig maar ek verstaan glad nie.
Ja ons kan saamstem dat Japan is verantwoordelik vir die besoedeling en moet betaal vir opruimingswerk en rehabilitasie van die kus.
Maar wat het dit te doen met die bou van 100 nuwe vissersbote en die opleiding van honderde vissermanne en skippers?
Hoe help dit plaaslike vissers wat geraak is deur die oliestorting want dis nuwe vissermanne en skippers wat nog nie eers weet hoe om vis te vang nie?
En ‘n navorsingsentrum wat Mauritius gratis ontvang het en hulle nie in stand kon hou nie moet ook skielik opgeknap word as deel van die pakket.
Hierdie klink vir my so baie na die anc regering se mentaliteit.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.