Jare lange beste vriende toe eintlik broers

broers

Walter MacFarlane en Alan Robinson. (Foto: KHON via AP)

Twee beste vriende van Honolulu in Hawaii het ʼn onverwagse Kersgeskenk ontvang toe hulle deur middel van ʼn webwerf wat DNS-toetse doen, vasgestel het dat hulle eintlik broers is.

Volgens The Daily Mail ken Alan Robinson en Walter MacFarlane mekaar al langer as 60 jaar. Dié skokontdekking is gedoen nadat die twee vriende afsonderlike DNS-toetse deur die familiegeskiedenis-webwerf Ancestry.com gedoen het.

Robinson en MacFarlane, wat 15 maande uitmekaar gebore is, het mekaar op laerskool ontmoet op Oahu in Hawaii en het saam sokker gespeel.

MacFarlane het verduidelik dat hy nooit sy pa geken het nie en dat Robinson as kind aangeneem is.

“Ek het ʼn jonger broer gehad wat op 19 dood is, so ek het nooit enige kleinneefs of -niggies gehad nie,” het Robinson gesê. “Ek het gedink ek sal nooit my biologiese ma ken nie.”

MacFarlane het oor die jare op die internet en sosiale media begin soek na antwoorde oor sy biologiese pa, maar kon niks wys raak nie.

Uiteindelik het hy na Ancestry.com gekeer, ʼn webwerf wat DNS-toetse vir families doen. “Ons het toe begin ondersoek instel na die DNS-profiele wat ooreengestem het,” het Cindy MacFarlane-Flores, MacFarlane se dogter, verduidelik.

Bo-aan die lys was ʼn persoon met die profiel Robi737 en die toets het aangedui dat hul verskeie ooreenkomste het, insluitend identiese X-chromosome.

“Walter se noemnaam is Robi en hy het as vlieënier 737’s gevlieg vir Aloha Airlines,” het MacFarlane-Flores gesê.

Robinson het ook Ancestry.com gebruik om antwoorde oor sy familie te kry.

Die twee vriende het telefonies gesels en besef hulle deel dieselfde biologiese ma. “Dit was ʼn skok,” het MacFarlane gesê.

“Ja, dit was ʼn skok,” het Robinson beaam, “en toe ons daaroor begin nadink, het ons voorarms vergelyk.”

“Ja, harige arms!” het MacFarlane gesê.

Die twee broers het die nuus Saterdagaand met vriende en familie gedeel. “Dit was ʼn oorweldigende ervaring. Dit is nog steeds oorweldigend. Ek weet nie hoe lank dit my gaan vat om oor hierdie gevoel te kom nie,” het Robinson gesê.

Die twee mans beplan om saam te reis en hul aftrede saam te geniet. “Dit is die beste Kersgeskenk wat ek myself ooit kon indink om te ontvang.”

“Dit is werklik ʼn Kersfees-wonderwerk en ons is so bly ons het dié geskenk gekry,” het MacFarlane-Flores gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Danie ·

Baie wonderlike kersgeskenk.

Tragies is dat hulle slegs met baie moeite en deursettingsvermoë kon uitvind hulle is familie en broers. Hulle is die voorreg ontneem om van kleins af broers te wees. deur selfsugtige ouers.

LB ·

Ai hoe wens ek dat ek kan iewers so ‘n broer of suster ontdek.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.