Jemen-olietenkskip kan ‘enige oomblik’ ontplof

Satellietfoto van Maxar Technologies van die FSO Safer-olitenkskip (19 Junie 2020) (Foto: Handout/Satellite image ©2020 Maxar Technologies / AFP)

Greenpeace het Donderdag gewaarsku dat ʼn verlate olietenkskip aan Jemen se kus “enige oomblik kan ontplof” en maan optrede van die Verenigde Nasies om ʼn katastrofiese oliestorting in die Rooi See te voorkom.

Die 45 jaar oue olietenkskap FSO Safer het 1,1 miljoen vate ru-olie aan boord en is in 2015 verlate gelaat naby Jemen se westelike Hodeida-hawe.

“Die FSO Safer verroes op anker en kan enige oomblik breek of ontplof,” het Ahmed El Droubi, woordvoerder van Greenpeace, gesê. “Dis nie óf nie, dis wanneer,” het hy bygevoeg.

Die VN se veiligheidsraad sal na verwagting Donderdag vergader ná Houthi-rebelle, wat die grootste deel van Jemen se noorde beheer, gesê het ʼn ooreenkoms wat ʼn VN-sending sou toelaat om die tenkskip te ondersoek het “ʼn dooiepunt bereik”.

Die skip, nou feitlik ʼn drywende stoorplatform, het vir sowat ses jaar lank geen instandhouding gehad nie en omgewingskenners waarsku dat dit uitmekaar kan breek.

Greenpeace sê buiten die korrosie is noodsaaklike werk om die plofbare gasse in die tenks te bestuur, ook nagelaat.

Jennifer Morgan, uitvoerende direkteur van Greenpeace International, het gesê die VN moet “nou reageer om die streek se grootste olieramp [in dekades] te voorkom”. “Die oplossings is beskikbaar, die kennis en tegnologie om te help bestaan,” het sy gesê.

Die VN het gesê ʼn oliestorting sal ekostelsels in die Rooi See vernietig, die visbedryf tot stilstand dwing en die Hodeida-hawe, Jemen se lewensaar, vir minstens ses maande sluit.

Die Houthis versoek onmiddellike inspeksie en instandhouding van die tenkskip, maar die VN sê daar moet ʼn onpartydige assessering gedoen word voor instandhoudingswerk veilig kan begin.

Jemen word sedert 2014 geteister deur ʼn burgeroorlog tussen die regering – wat deur ʼn Saoedi-geleide militêre koalisie ondersteun word – en die Iran-ondersteunde Houthi-rebelle. Die land staan op die randjie van hongersnood. Tienduisende mense, hoofsaaklik gewone burgers, is al dood en miljoene haweloos gelaat as gevolg van die konflik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Spyker ·

Sal graag wil weet hoekom die skip daar gelaat is en deur wie?

Leeuwyfie ·

Soos ek verstaan is dit ‘n skip wat permanent geanker is en direk verbind word met ‘n olie pyplyn. Die olie is dan verkoop en ander skepe het dit kom optel by die permanente geankerde skip, soos ‘n petrolstasie op see. Toe oorlog uitbreek moes diegene wat op dit werk dit verlaat vir hul eie veiligheid. Deur al hierdie jare kon daar nog nie ‘n ooreenkoms bereik word oor aan wie die tenk behoort nie.

Pietertjie ·

Buiten die tenkskip-debakel, klink die Jemen-situasie baie na aan wat in Suid-Afrika besig om te gebeur: hongersnood, werkloosheid en uiteindelik burger-oorlog. Of kan mens die tenk-skip situasie vergelyk met ons kragskip-planne?

Chris dupreez ·

Praat met min. Sisulu,sy sal Kubane reel om Jemen se probleem op te los

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.