JF Kennedy-sluipmoord: Dokumente vrygestel

Pres. John F Kennedy en sy vrou, Jacqueline Kennedy saam met Texas-goewerneur John Connally en sy vrou Nellie (22 November 1963) Foto: AP Photo/Jim Altgens, File

Die Amerikaanse Nasionale Argiewe het ʼn gedeelte van die dokumente aan die publiek vrygestel wat verband hou met die sluipmoord van pres. John F Kennedy in 1963, alhoewel sommige van die dokumente steeds deur die Withuis teruggehou word vir veiligheidshersiening.

“Pres. Donald J Trump het stappe gedoen om seker te maak dat die oorblywende dokumente vrygestel word,” het die Withuis Donderdag in ʼn persverklaring gesê toe die Argiewe die dokumente gepubliseer het. “Die Nasionale Argiewe sal 2 800 dokumente ten volle vrystel vir openbare toegang.”

ʼn Woordvoerder van die Withuis het vroeër aan verslaggewers gesê Trump het beveel dat die dokumente tydelik tot 26 April 2018 teruggehou moet word, om voldoende tyd te gun om te bepaal of die inligting nadelig kan wees vir nasionale veiligheid.

Die dokumente wat vrygestel word, sluit 2 891 dokumente in wat op die JFK Assasination Records-blad van die Argiewe se webwerf gepubliseer is.

Die Amerikaanse kongres het in 1992 wetgewing goedgekeur en pres. George HW Bush het dit onderteken, dat alle dokumente wat met die sluipmoord verband hou, op 26 Oktober 2017 vrygestel sou word.

Alhoewel die amptelike Amerikaanse ondersoek bevind het dat die sluipmoordenaar, Lee Harvey Oswald, alleen opgetree het, was daar talle samesweringsteorieë oor die sluipmoordaanval.

Duisende dokumente van die Nasionale Veiligheidsagentskap (NSA) en die Amerikaanse intelligensiediens (CIA) sal na verwagting in die groep dokumente beskikbaar wees, wat nou vrygestel is. Geskiedkundiges sal die dokumente bestudeer vir enige inligting wat daarop dui dat Oswald nie alleen opgetree het nie. Vorige dokumente wat vrygestel is, was egter nooit teenstrydig met die regering se aanvanklike gevolgtrekking nie.

Ongeveer 88% van die 5 miljoen bladsye versameling van dokumente oor die sluipmoord is reeds sedert die laat 1990’s aan die publiek beskikbaar gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.