Joernalis tydens regstreekse uitsending doodgeskiet

ʼn Betoger hou ʼn plakkaat omhoog waarop daar in Spaans geskryf staan “Nicaragua vry” tydens ʼn betoging in Managua in Nicaragua (21 April 2018). Foto: AP Photo/Alfredo Zuniga

Op ʼn effens onduidelike regstreekse video kan gesien word hoe die joernalis Angel Gahona vertel wat aan die gebeur is terwyl hy nader stap na die stadsaal in Bluefields, Nicaragua, waar gewelddadige betogings al vier dae lank woed. Sekondes later kan gehoor word hoe skote klap en gesien word hoe Gahona leweloos op die sypaadjie neerval.

Dít was die toneel wat Vrydagaand in dié Sentraal-Amerikaanse land afgespeel het.

Gahona het verslag gedoen oor die gewelddadige betogings in Nicaragua uit protes teen pres. Daniel Ortega se regering se hervormingsplanne vir maatskaplike sekerheid.

Gahona, geklee in ʼn denimbroek en blou hemp, was besig om met sy selfoon in ʼn regstreekse video op Facebook verslag te doen oor wat aan die gang is. Toe die skote klap, het Gahona vooroor op die sypaadjie geval. Stemme roep sy naam en iemand druk ʼn lap teen sy kop in ʼn poging om die bloed te stop.

Nog ʼn Bluefields-verslaggewer, Ileana Lacayo, het bevestig Gahona was dood voordat hy by ʼn hospitaal kon kom.

Behalwe vir Gahona het minstens 25 ander mense sedert Woensdag tydens die betogings gesterf.

Ortega het Saterdag vir die eerste keer ʼn openbare verskyning gemaak sedert die betogings begin het, en het gesê sy regering is bereid om oor die kwessie te onderhandel. Hy het in ʼn regstreekse uitsending op nasionale televisie gesê hy is bereid om te onderhandel sodat die land se mense nie meer onder die geweld gebuk hoef te gaan nie.

Betogers in Managua, Nicaragua trek een van twee metaal-boombeelde plat wat simbolies is van die regering van pres. Daniel Ortega (21 April 2018). Foto: AP Photo/Alfredo Zuniga

Hy het egter gesê die onderhandelings sal slegs met sakeleiers gedoen word en nie met ander sektore van die samelewing nie. Hy het ook skynbaar die hardhandige reaksie deur die regering en alliansiegroepe probeer regverdig deur betogers, waarvan die meeste universiteitstudente is, daarvan te beskuldig dat hulle deur ongespesifiseerde “minderheids”- politieke belange gemanipuleer word en deur bendelede geïnfiltreer word.

“Daar is geen naam vir wat tans in ons land gebeur nie. Die kinders weet nie eens watter party hulle manipuleer nie. Bendelede word deel van die kinders se betogings en kriminaliseer die protesaksie. Dit is hoekom hulle in gevaar geplaas word,” het Ortega gesê.

Dié uitlatings was skynbaar petrol op die vuur, want kort daarna het duisende mense die strate van sewe stede, insluitend die hoofstad Managua, ingevaar nadat die spanning Vrydagaand effens afgeneem het.

“Ons is in die strate om te eis dat Ortega en sy vrou gaan. Die situasie is reeds verby ʼn maatskaplike sekerheidskwessie. Hier is mense dood en gewond en hy vra nie eens om verskoning vir hierdie sterftes of die wrede onderdrukking van die mense nie,” het Mauri Hernandez, een van die duisende betogers in Managua, gesê.

Rosario Murillo, visepresident, presidentsvrou en die regering se woordvoerder, het Vrydagaand gesê nege mense is tydens die betogings dood. Die menseregtegroep Cenidh het egter Saterdag gesê minstens 25 sterftes is landwyd aangemeld.

ʼn Betoger staan voor veiligheidsmagte tydens skermutselings tussen die polisie en betogers in Managua, Nicaragua (21 April 2018). Foto: AP Photo/Alfredo Zuniga

Minute later het die nuus aan die lig gekom dat Gahona, wat vir die nuusprogram Meridiano gewerk het, doodgeskiet is. Die bron van die skote wat afgevuur word, is nie in die video duidelik nie, maar die La Prensa-koerant het berig dat Lacayo gesê het polisiebeamptes was die enigstes op die toneel wat vuurwapens by hulle gehad het.

ʼn Prominente sakekamer het ʼn verklaring uitgereik in aanloop tot sy gesprekke met Ortega en gesê daar moet ʼn einde aan die onderdrukking gebring word, betogers wat in aanhouding is moet vrygelaat word en vryheid van spraak moet gerespekteer word aangesien die owerhede een van die private nuuskanale wat verslag gedoen het oor die betogings van die lug af gehaal het.

“Ons kan nie in gesprekke ingaan as daar nie aan hierdie minimumvoorwaardes voldoen word nie,” het die sakekamer gesê.

Oor die naweek is weermagtroepe in Esteli, ʼn stad noord van Managua wat ʼn sentrale fokuspunt vir betogings was, ontplooi om die polisie te help om betogers uiteen te jaag.

Die hervorming van die maatskaplike sekerheidstelsel verhoog inkomstebelasting en betaalstaatbelasting en maak ook veranderinge aan pensioene in ʼn poging om Nicaragua se sukkelende maatskaplike sekerheidstelsel te help.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gerrit ·

Dit was n joernalis waarvoor ek respek het, het n koeël gevat om die feite soos dit is sonder om die waarheid te verdoesel of polities korrek te wees die waarheid vir die lesers te gee. Ek salueer hom en mm leer by die ware joernalis.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.