John le Carré, meester van spioenasiefiksie, sterf

John le Carré (Foto: John Macdougall, AFP)skrywer

Die Britse spanningskrywer John le Carré is Saterdag in die ouderdom van 89  dood.

Hy was veral bekend was vir sy spioenasierillers en het verskeie blitsverkopers – The Constant Gardener, The Night Manager, Tinker Tailor Soldier Spy en The Spy Who Came in from the Cold – die lig laat sien.

Le Carré het longontsteking opgedoen en is Saterdagaand ná ’n kort siekbed in ’n hospitaal in Cornwall, in die suidweste van Engeland, dood.

Sy vrou, Jane, met wie hy 50 jaar lank getroud was, en sy seuns, Nicholas, Timothy, Stephen en Simon, het die hospitaalpersoneel bedank vir hul goeie diens en sorg.

“Ons is almal diep bedroef oor sy heengaan. Ons weet ook dat die personeel ons hartseer deel,” het die gesin in ʼn verklaring gesê.

Le Carré, eintlik David John Moore Cornwell, het 25 romans en een memoir in sy loopbaan van ses dekades geskryf. Wêreldwyd is nagenoeg 60 miljoen eksemplare van sy boeke verkoop.

Omdat hy ʼn sogenaamde tradisionalis was, wat boonop erken het dat hy nie kan tik nie, het hy sy boeke met die hand geskryf.

Sy gewilde roman Tinker Tailor Soldier Spy is in 1979 vir televisie aangepas, met Alec Guinness wat die hoofrol van die geheimsinnige spioenvanger George Smiley vertolk het. Gary Oldman het dié rol in die 2011-rolprent vertolk en het die daaropvolgende jaar ʼn Oscar vir sy vertolking gewen.

Oldman het die vertolking van dié rol as een van die hoogtepunte van sy loopbaan bestempel.

Die romanskrywer Robert Harris het Le Carré uitgesonder as meer as ʼn briljante skrywer, een wat boonop die populêre kultuur binnegedring het – iets wat volgens Harris nie aldag gebeur nie.

Harris het The Spy Who Came in from the Cold as ʼn meesterstuk beskryf.

“Dit is ʼn ongelooflike boeiende, diep verhaal wat die skryf van spioenasiefiksie getransformeer het. Dit is ʼn briljante, sielkundige portret van spioenasie en verraad en die agteruitgang van die Britse mag,” het Harris in ’n onderhoud met Sky News gesê.

Stephen King, die Amerikaanse skrywer, het Le Carré “ʼn literêre reus en ʼn humanitêre gees” genoem.

Jonny Geller, Le Carré se agent, het gesê elke boekliefhebber gaan die verlies voel. Die historikus Simon Sebag Montefiore het ook die dood van ʼn “titaan van die Engelse literatuur” betreur.

Le Carré was vroeër ʼn Britse intelligensiebeampte in Switserland. Vandaar het hy na Engeland teruggekeer om aan Oxford te studeer, waarna hy by die elite Eton-skool onderwys gegee het voordat hy hom aan die einde van die 1950’s by MI5, die Britse binnelandse intelligensie-agentskap, aangesluit het.

Hy is later oorgeplaas na die oorsese spioenasie-agentskap, MI6, en het in die Wes-Duitse hoofstad, Bonn, gewerk in die tyd toe die Berlynse muur opgerig is.

Dit was in 1963 as ʼn MI6-offisier dat hy sy eerste sukses as skrywer behaal het met The Spy Who Came in from the Cold. Om ooglopende redes moes hy onder ʼn skuilnaam skryf.

“Ek is soveel keer gevra waarom ek hierdie belaglike naam gekies het en my verbeelding het tot my redding gekom,” het hy in 1996 in ʼn onderhoud in The Paris Review gesê.

“Ek het gesien hoe ek oor die Battersea Bridge (in Londen), bo in ʼn bus ry en afkyk na ʼn kleremaker se winkel met die naam Le Carré.”

Le Carré het, namate die wêreld verander het, nuwe onderwerpe gekry om oor te skryf. Hy het ook met ’n verskeidenheid van karakters geëksperimenteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.