Johnson skort Britse parlement op ná jongste neerlaag

Boris Johnson. (Foto: Niall Carson/PA via AP)

Lede van die Britse parlement het Maandag wéér Boris Johnson, premier van Brittanje, se versoek om ʼn algemene verkiesing te hou om ʼn politieke dooiepunt op te los, van die hand gewys.

In ʼn sitting wat tot ná middernag geduur het, het die parlement ʼn wet in werking laat tree om nie net Johnson se oproep vir ʼn algemene verkiesing te weier nie, maar ook om ʼn Brexit sonder ʼn ooreenkoms volgende maand te verhoed, en die regering te beveel om vertroulike kommunikasie oor sy Brexit-planne bekend te maak.

“Ons is gretig vir ʼn verkiesing, maar so gretig as wat ons is, is ons nie bereid om die ramp van geen ooreenkoms op ons gemeenskappe, ons werksgeleenthede, ons dienste en ons regte los te laat nie,” het Jeremy Corby, leier van die Arbeidersparty, gesê.

Die parlement is daarna tot 14 Oktober opgeskort, ʼn drastiese besluit wat Johnson ʼn blaaskans van opstandige wetgewers gee terwyl hy oor sy volgende skuif besluit. Opponente beskuldig Johnson daarvan dat hy probeer om die demokratiese soeklig vry te spring.

Wat gewoonlik ʼn gedweë en formele sluitingseremonie is, het in ʼn luidrugtige situasie ontaard met wetgewers wat uitroep “Skaam jou!” en kennisgewings ophou waarop staan “Stilgemaak”.

John Bercow. (Foto: AP Photo/Matt Dunham)

Die speaker, John Bercow, het sy ontevredenheid met die opskorting van die parlement uitgespreek en gesê “hierdie is nie ʼn standaard- of normale sluiting nie”.

Johnson het ná afloop van die stemmery gesê die land se sloerende uittrede moet voor einde Oktober gebeur, met of sonder ʼn skeidingsooreenkoms om die weg te baan. Baie wetgewers vrees egter dat ʼn Brexit sonder ʼn ooreenkoms ekonomies verwoestend sal wees, en is vasbeslote om Johnson te keer.

“Ek sal nie vir nog uitstel vra nie,” het Johnson gesê. Maar hy het min opsies tot sy beskikking. Sy opsies sluit in om die wet te oortree, wat hom in die hof of selfs in die tronk kan laat beland, of om te bedank sodat iemand anders nog ʼn uitstel kan versoek.

“Ons moet Brexit afgehandel kry. Ons moet teen 31 Oktober uit die Europese Unie tree, andersins is ek bevrees permanente skade sal aangerig word.”

Wetgewers het ook daarop aangedring dat die regering teen Woensdag alle e-posse en teksboodskappe tussen amptenare en regeringsondersteuners bekend maak wat verband hou met die opskorting van die parlement en die beplannings vir Brexit. Dit kom te midde van bewerings dat die opskorting gebruik word om demokrasie te omseil.

Onder parlementêre reëls is die regering verplig om hierdie dokumente bekend te maak. Die regering het in ʼn verklaring gesê hy sal “die implikasies van die stemmery oorweeg en mettertyd daarop reageer”.

‘n Teen-Brexit betoger oorkant die parlement in Londen. (Foto: Kirsty Wigglesworth/AP)

Die EU het gesê Brittanje het nog geen konkrete voorstelle ingedien nie om as vervanging te dien vir ʼn bepaling in Theresa May se uittrede-ooreenkoms wat ontwerp is om ʼn oop grens tussen EU-lidland Ierland en die Verenigde Koninkryk se Noordelike Ierland te verseker.

ʼn Oop grens is noodsaaklik vir die streeksekonomie en onderskryf die vredesproses wat dekades van sektariese geweld in Noord-Ierland tot ʼn einde gebring het.

Teenstand teen dié bepaling was een van die kernredes hoekom die parlement May se Brexit-ooreenkoms met die EU drie keer vanjaar verwerp het. Britse Brexit-ondersteuners is teen die bepaling gekant omdat dit Brittanje verbind tot EU‑handelsreëls om doeane-ondersoeke te vermy, iets wat hulle meen die VK sal verhoed om nuwe handelsooreenkomste met lande soos die VSA aan te gaan.

Intussen het Bercow aangekondig dat hy uit sy pos sal bedank en uittree óf met die volgende verkiesing óf op 31 Oktober, wat ook al eerste kom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Arak ·

So, die publiek stem vir Brexit, en die parlement sleep vir 3+ jaar hulle voete met die gedagte om dit nie te doen nie, en dan kla die parlementslede dat dinge ondemokraties gebeur. Wat ‘n klug is demokrasie tog nie…

koos ·

My oorlede pa het ‘n neef gehad wat in Hollander was. Ek onthou nog sy woorde soos gister (losweg na Afrikaans vertaal, sonder die krag woorde). Hy het gesê, toe Europa met die Euro geldeenheid begin het: Hulle is besig om aan te jaag, en sal dit wat hulle aanjaag nie gestop kan kry nie, en die hele Europa in sy moeder instuur.

Leon ·

Die Fabian Sosialiste gaan te veel verloor as Brexit deurgaan.

Se maar net ·

Britte was deel van die massas wat met hulle optrede die land in die gemors gekry het waar ons nou is,ek lag vir hulle, die meerderheid het daar ook n gemors aangerigmet hulle referendum. laat hulle dit geniet

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.