Johnson wil dalk weer premier word

Boris Johnson (Foto: Tolga AKMEN / AFP)

Die voormalige Britse premier Boris Johnson wil na bewering weer dié amp beklee nadat hy maar ses weke gelede as leier van die Konserwatiewe Party bedank het.

The Times berig Johnson wil Liz Truss opvolg nadat sy haar bedanking Donderdag aangekondig het. Haar opvolger sal na verwagting teen die einde van volgende week verkies word.

Sky News het Vrydagoggend berig Johnson is tans op pad terug na die Verenigde Koninkryk ná ʼn vakansie in die Dominikaanse Republiek. Die hutsmerk #BringBorisBack oftewel #BringBorisTerug doen sedert Truss se bedanking die ronde op sosiale media.

Brendan Clarke-Smith, Tory-LP, het sedertdien aan dié publikasie gesê dat die volgende Britse premier ʼn “mandaat” van kiesers en partylede nodig het. “Hy moet iemand wees wat eintlik ʼn wenner kan wees … Boris Johnson is die man wat al daardie boksies afmerk.”

Die Tory-LP Roger Gale glo egter Johnson behoort verbied te word om as premier te staan, aangesien hy steeds onder parlementêre ondersoek is oor die “partygate”-skandaal wat hom tot ʼn val gebring het.

“Totdat daardie ondersoek voltooi is en hy skuldig bevind of vrygespreek is, behoort daar geen moontlikheid te wees dat hy na die regering terugkeer nie.”

Liz Truss (Foto: Daniel Leal / AFP)

Die Britse Arbeidersleier, Keir Starmer, het op sy beurt gesê Johnson is “ongeskik” om te regeer.

Verskeie kabinetsministers glo egter Johnson is in staat om teen Maandag die 100 nominasies te kry wat hy van konserwatiewe LP’s nodig het om in die Tory-leierskapwedloop te staan. ʼn Vriend van Johnson het intussen aan Sky News gesê Johnson sal “waarskynlik” as premier staan.

Kenners het egter hul bedenkinge.

“Ek dink nie dat LP’s sal wil teruggaan en dieselfde persoon kies wat hulle slegs ʼn paar maande gelede uit Downingstraat verwyder het nie,” sê Tim Bale, professor in politiek aan Queen Mary, Universiteit van Londen.

“Tweederdes van die kiesers wou hê hy moet bedank. Dit is fantasieland om te dink dat kiesers hom terug wil hê.”

Wêreld reageer op Truss se bedanking

Verskeie wêreldleiers het reageer op Truss se skielike bedanking. Die Franse president Emmanuel Macron het Brittanje ʼn vinnige terugkeer na normaliteit toegewens.

“Ek wil sê dat Frankryk, as ʼn nasie en mense wat vriende van die Britse volk is, hulle bowenal stabiliteit toewens. Ek is persoonlik altyd hartseer om te sien hoe ʼn kollega op hierdie manier uittree en my wens is dat stabiliteit gou terugkeer.”

Maroela Media het vroeër berig Truss het Dinsdag nog gestoei om haar posisie te stabiliseer nadat ʼn ekonomiese ineenstorting haar gedwing het om ʼn vernederende U-draai te maak oor belastinghervorming.

Ierland se eerste minister, Micheal Martin, het ʼn mate van simpatie met Truss uitgespreek. “Maar stabiliteit is belangrik gedurende hierdie tye wanneer daar ʼn groot oorlog op die vasteland van Europa woed.”

Rusland is minder simpatiek. “Brittanje het nog nooit so ʼn skande vir ʼn premier geken nie,” het Maria Zakharova, woordvoerder van die Russiese ministerie van buitelandse sake, op Telegram gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Renier ·

Hulle worry oor n partytjie, ons manne en maninne kan krimineel skuldig wees,dan kry hulle verhooging…

Koos 100 ·

Renier, my heel eerste gedagte ook. Ek dan word hulle nog polities beskerm ook!

JohanR ·

Kan ons nie Ramaphosa vir die Britte gee nie. Dink hy sal 5 dae daar hou!

Pieter9 ·

Go Johnny go! Daar is min dinge op aarde so komies soos ‘n politikus.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.