Jong bruid gevonnis wat man vermoor

Argieffoto

Argieffoto

‘n Vrou wat erken dat sy haar man, agt dae na hul huwelikseremonie van ʼn krans af gestamp het, sal na verwagting Donderdag gevonnis word.

Jordan Linn Graham (22) van Kalispell in Montana, Amerika, het in Desember skuld bekend op die moord op haar man, Cody Johnson (25). Sy het erken dat sy Johnson op 7 Julie ná ʼn stryery van ʼn krans by Glacier Nasionale Park af gestamp het.

Graham se prokureurs het egter hierdie week gepoog om die skuldbekenning terug te trek nadat die staatsaanklaer aangedui het dat hulle ʼn vonnis van 50 jaar tot lewenslank gaan aanbeveel. Volgens die staatsaanklaers is só ʼn lang vonnis geregverdig omdat dit wil voorkom of Graham die moord beplan het.

Michael Donahoe, vir Graham, voer aan haar “uiters roekelose maar onbeplande daad” regverdig ʼn vonnis van 10 jaar.

Graham het die aand glo ʼn teksboodskap aan ʼn vriend gestuur waarin sy sê as die vriend nie weer van haar hoor nie, “het iets gebeur”.

Johnson se liggaam is drie dae later aan die voet van die krans opgespoor nadat ʼn vriend en kollega hom as vermis aangemeld het.

Graham het tydens haar verhoor gesê sy het begin twyfel of sy nie te jonk was toe sy getrou het nie, en hulle is na die park om daaroor te praat. Hulle het glo by die afgrond staan en stry, Johnson het haar gegryp en sy het hom net “gestamp” sonder om te dink waar hulle is. Sy het egter vir niemand gesê wat gebeur het nie, en gesê Johnson is saam met vriende na Washington. Die waarheid het aan die lig gekom toe die weergawes wat sy aan vriende, familielede en owerhede vertel het, nie geklop het nie. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.